Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.3.14

Fyn oog vir die teleks

PIET ROOS skryf: Die teleks was vir my seker een van die interessante dinge by die koerant. As jy met ‘n tikmasjien tik, is dit rukkerig en dit verpersoonlik jou tikgewoontes. Maar die teleks het soos 'n masjiengeweer geratel teen 'n konstante snelheid. Ek hoor nog die klank!

Een oggend staan ek by die nuustafel en André du Toit kom so stil-stil nader. Hy was soos die skim. Stil en het altyd heimlik sinies gelag.

André du Toit
Hy kom by die nuustafel en sê vir Douglas Jones: "Hier’s jou hoofstorie ... " en hy gee so 'n twee duim breë teleksstrokie.

Dit was 'n enkele reël: Nairobi, Kenia: Lufthansa Boeing 747 crashed near town

Die ongeluktyd was perfek vir die middagkoerant. Dit het die oggend op 20 November 1974 tien minute voor agt gebeur. Van die 157 mense aanboord vlug 540 van Frankfurt, via Nairobi, na Johannesburg is 59 dood.

Die nuustafel het ontplof. Almal moes alles los en probeer uitvind wat gebeur het. Ek is Jan Smuts toe en ek staan in die ontvangsaal. Daar kom 'n ouerige man en vrou nader en hulle kyk na die bord.

Hulle sien op die bord wat die aankomstye toon: Delayed indefinitely.

Ek kyk na hulle en sê: "Es gab einen Unfall"

Die man kyk na sy vrou en vat haar arm en draai om en loop uit.

Ons het stories gekry en die nag in die Holiday Inn geslaap.

Dink net, as André dié teleksstrokie misgekyk het ...