Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.3.14

Dertien lewens had land (en wêreld) aan die gons

PIET ROODT skryf: Ek herinner my aan ʼn storie wat nogal baie interesant was, maar name en datums kan ek nie meer onthou nie.

Dit was van ʼn jong meise – in haar tienerjare wat in Capitalpark in Pretoria gewoon het. Sy’t beweer sy het dertien vorige lewens gehad – uiteenlopend van 'n Egiptiese prinses tot ʼn plattelandse meisie in Engeland en iemand wat in Griekeland gewoon het.

Om só iets daardie tyd in ʼn Calvinistiese Suid-Afrika te beweer, vra nogal om gedoen te word, maar sy was so oortuigend dat selfs ʼn Amerikaanse professor wat die verskynsel van reïnkarnasie bestudeer het, spesiaal na Suid-Afrika toe gekom het om haar te ondervra.

Sy slotsom: Hy kon nie verstaan hoe ʼn tiener, wat geen kennis van Egipte (en van die ander plekke waar sy beweer sy in vorige lewens gewoon het) gehad het, só in besonderhede sekere kulturele gebruike kon beskryf nie.

Wat sou van haar geword het? Ek het nooit weer iets van haar gehoor of gelees nie. Maar selfs wyle prof Arthur Bleksley (wat ek darem kan onthou) het geweldig in haar doen en late belang gestel.