Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.3.14

Hulle word nie meer so gemaak nie

ANDRÉ BESTER, gewese sportredakteur van Transvaler, skryf: So tussen die skrywery op my eie rugbywebwerf, www.suparugby.com, Annemie se mediaskakelwerk by die Luiperds en ‘n klas wat sy af en toe by die NWU-Puk aanbied, het ek weer begin om funksies aan te bied waar van ons land se legendes vereer word.

Die eerste daarvan verlede jaar is genoem “Die Aand van Slotte” om een van die ikone van SA Rugby, prof Johan Claassen, nou 84 somers oud, te vereer.

Behalwe Dok Craven het niemand groter spore in SA Rugby getrap nie. Kyk bietjie na hierdie statistiek: Springbok van 1955 tot 1962, Springbok-keurder van 1962 af, voorsitter na die Nasionale keurders van 1968 af, Springbokafrigter van 1970-1976 en adjunk-president van SA Rugby van 1976 tot 1992.

Drie Springbokafrigters uit Potchefstroom. 
André Markgraaf  (links) en Gert Smal (regs) 
langs prof Johan Claassen.
Dit beteken onbaatsugtige diens op nasionale vlak van 1955 tot 1992 - ‘n tydperk van 37 jaar - en dit alles uit Potchefstroom uit.

Die aand is deur drie Springbokafrigters uit Potch bygewoon. Gert Smal het uit Ierland gevlieg en André Markgraaf se private straler het in Potch geland. Alles om hulde aan prof Claassen te bring.

En ’n paar maande later het Supa ‘n reunie van die Oos-Transvaalse span wat in 1972 in die Curriebekereindstryd teen Transvaal gespeel het (en teen Gerald Bosch verloor het) aangebied.

Skip Henderson en sy helde van daardie seisoen is met Gerhard Viviers-kommentaar en spesiale truie met die roos op die bors vereer, maar dit was weer eens twee tagtigjariges wat die kollig gesteel het.

Ek en oom Piet Robbertse vang ná sowat 40 jaar met die nuus op.
 André Laubscher en Eddie Grieb, 
statistikus van die SA Rugbyunie, voltooi die kring
Oom Daan Nolte, die breier van daardie span, en die skeidsregter daardie dag, oom Piet Robbertse, albei tydgenote van prof Claassen, was die sterre van die aand.

Oom Piet was Suid-Afrika se voorste skeidsregter van daardie jare en het twee toetse in die 1970-toetsreeks teen die All Blacks en ‘n paar Curriebekereindstryde hanteer.

Hy het ook aan die Hoërskool Stoffberg in Brakpan vir my Aardrykskunde gegee.

Soos prof Claassen s’n is hul breine nog vlymskerp en het albei waardigheid en klas aan die geleenthede verleen.

Prof Claassen het sy gehoor van ongeveer 300 mense in Potch vir amper ‘n halfuur aan sy lippe laat hang en oom Daan se toespraak oor sy Madodas en oom Piet se staaltjies uit die 1970-toetse was rugbykos vir die fynproewer.

En die ou manne het mekaar waardeer, rugby gesels en geskiedenis opgediep, nie bakhand gestaan om nog iets gratis te kry nie. En hulle het dit waardeer.

Hulle word nie meer so gemaak nie  ….