Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.3.14

As ou kennisse ons verraai

PIET EBERSÖHN skryf: Terwyl ek verlede week van Middelburg af Pretoria terugry, druk ek ‘n laserskyf in die gleuf op die paneelbord en Joan Baez trek los met die liedjie “On the banks of the Ohio”.

Toe loop my gedagtes so dertig jaar terug toe ek, Frans Scheepers en Johan van Wyk een naweek Tzaneen toe is, onder meer om die mistiek van die Wolkberge te gaan belewe.

Frans Scheepers
t ‘n bandjie van Lauren Copley gehad waarop sy dieselfde liedjie gesing het. Om die een of ander rede was ons gaande daaroor. As ons dit op pad soontoe en terug ‘n honderd keer gespeel het, was dit min. Dit was ook die laaste keer dat ek die bandjie gespeel het. Ek kan nie onthou of ek eenvoudig sat daarvoor was en of die bandjie die gees gegee het nie.

Ewentwel, ons kom destyds redelik laat die aand in Tzaneen aan en slaan ons tent in die munisiale kampterein op.

Kort voor lank ontvang ons besoek van ‘n kat. Met Frans se liefde vir katte is dié twee sommer gou dik vriende.

Die volgende oggend is ons vroeg daar weg, erg beïndruk met die stadsvaders se gasvryheid en die feit dat ‘n mens nie vir kampeerplek in die oord betaal nie. Ons het lekker in die omgewing gekuier, maar nooit die Wolkberg bereik nie.

Saterdagaand is ons terug na Tzaneen se munisipale ruskamp. Ons het skaars begin tent opslaan toe ‘n amptenaar met ‘n kwitansieboek opdaag en ons vir die nag se slaapplek aanslaan.

Só met dié dat hy sy boek toeslaan en die kwitansie oorhandig, daag die kat weer op en vlei hom ewe eie teen Frans se been aan.

“Kyk wie’s weer hier,” sê Frans glimlaggend en begin die kat streel.

“O,” sê amptenaar, “julle het gisteraand ook hier geslaap.” En hy slaan ons net daar vir nog ‘n aand se slaapplek aan!