Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.1.13

Skoonmaker se wantrouestem maak opslae


RIKA VAN GRAAN, vroeër van Die Transvaler en wat uit haar rolstoel een van die land se knapste misdaadverslaggewers was, skryf: Ai, dit is te lekker om van julle te hoor en te lees! Ek het gesien ’n paar oudkollegas wonder oor my.

(Links: foto onlangs van Rika ontvang.  Regs: Rika in Maart 1973.)

Wel, ek lewe darem nog al is dit so op ’n manier. My gesondheid het baie agteruit gegaan en ek is bedlêend, maar bly steeds positief en bestuur my huishouding waar ek naby die Hartbeespoortdam woon.

Ek kan nie meer self tik nie. Ek het my bediende, wat my die afgelope 18 jaar versorg, geleer om al die persoonlike dinge vir my te doen. So julle sal die spelling moet regmaak as ek dit dalk miskyk.

Ek het nogal foto’s van my persdae, maar ek weet nie hoe om dit by julle te kry nie. As julle vir my kan verduidelik sal ek dit baie waardeer. Só het ek ook unieke foto’s van die polisie en prof Chris Barnard op ’n volstruis.

Ek het ’n foto van ABJ Pienaar waar hy een aand, toe die krag tydens ’n elektriese storm afgegaan het, ’n koerant opgerol en aan die brand gesteek het sodat ek die hoofberig kon klaar skryf.

Dis so lekker om te sien wie waar is! Ray Wagner is onlangs dood terwyl hy hoofredakteur van Die Afrikaner, die HNP se lyfblad, was.

Ek wonder wat het van Koos Roelofse geword. Hy was ’n professor by Unisa en het ook al afgetree. Waar is Piet Coetzer, Marita Coetzee, Philippa Breytenbach, Bienkie Wessels en ander?

As ek Andries Botha so sien, dink ek aan my eerste flater by DT in 1970, kort ná ek daar begin werk het.

Die eerste minister, John Vorster, het die laaste vergadering van die NP-veldtog met die oog op daardie jaar se algemene verkiesing op Nigel, waar hy volksraadslid was, toegespreek. Andries en Sakkie van der Merwe het daaroor berig.

Dié aand was ek die nagtikster en moes Andries se verslag oor die telefoon afneem. Soos ek getik het, is die kopie deur die subs weggeneem, sodat dit voor saktyd by die setters kon kom.

Andries het ‘n grap gemaak en gesê net een aanwesige het teen ’n mosie van vertroue in die eerste minister gestem en dit was ’n skoonmaker van die saal. Ons sou dit later regstel.

Nodeloos om te sê, ons het in die haas daarvan vergeet. Die bom het my eers getref toe die nuusredakteur, Das Herbst, my die volgende middag vra wat ek aangevang het. Hy het ’n klag van ’n leser ontvang wat sê hy het teen die eerste minister gestem en hy is gewis nie ’n skoonmaker van die saal nie, maar wel ’n vlieënier by die SA Lugdiens. En hy neem eksepsie!

So is daar menigte stories waaroor ek kan kan skryf.

Liefdegroete aan julle almal.

(Klik HIER en HIER om herinneringe aan Rika te lees. -- Red.)