Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.1.13

Bewonderaar het Len-artikel geniet

MARIUS ACKERMANN skryf: Baie dankie vir Andries Botha se lewendige artikel oor Len Lindeque in K'rant. Ek was, en is steeds, 'n bewonderaar van Len se werk. Dit moet bepaald 'n voorreg gewees het om saam met so 'n man te werk.

Van PW Botha gepraat: toe die Vloot se hoofkwartier van Simonstad na Pretoria verskuif, het Len 'n duikboot geteken wat doodluiters dog paraat in die Apiesrivier opvaar.

Oor van sy werk sal daar in die hedendaagse tye seker gefrons word. In een spotprent besing Len ene Oom Sagrys wat in sy hele getroude lewe nog nie 'n enkele skewe woord teenoor sy vrou geuiter het nie. Sy verskyn ook in die spotprent – die ene knoppe. In 'n ander spotprent keer 'n sersant van die SAP (“short back and sides”) by die Swaziland-grenspos 'n motorkar vol swartes voor. "Het julle enige Playboys in die kar?" wil die polisieman weet. "Nee," antwoord een van die grootoog-passasiers, "net garden boys en flatboys."

Doen so voort!

K’rant is natuurlik toe nuuskierig oor wie Marius Ackermann is en vra hy moet hom bekendstel. Hy laat weet:

Ek is 'n 61-jarige advokaat van beroep (Pretoria-balie) en was op 'n stadium regsadviseur vir presidente PW Botha en FW de Klerk (1987-1994).

Ek hou van skryf. Grootraad Makedaan en die Bobbejaantrop van Donkerberg [2008] en Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes [2009] het by Protea verskyn, en aanstaande jaar verskyn daar nog 'n satiriese werkie by Protea – Plein & Simpel, 'n storie oor 'n sekere groep duiwe op Kerkplein.

Ek hou baie van geskiedenis, veral die ongeskrewe, dog deurleefde geskiedenis wat geneig is om mettertyd vergete te raak.

Ek het toevallig op K'rant afgekom toe ek Len se naam ge-Google het. Ek wil graag vir By 'n kort artikel oor hom skryf. Die rede hiervoor is dat daar onlangs 'n werk oor Suid-Afrikaanse spotprenttekenaars verskyn het – sonder vermelding van Len. Daar het onlangs (10/11/2012) 'n artikeltjie van my oor Tom van Vollenhoven in By verskyn.

Tans kuier ons by kinders en kleinkinders in 'n sneeubedekte Kanada.