Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.1.13

Meneer met ’n geweer

FRIK VAN DER WALT skryf: Daar was in my groentjiejare byna 'n halfeeu gelede nooit genoeg fotograwe om aan politiek, sport, finansies, algemene redaksie, vroueredaksie en landdros- en hooggeregshof se joernaliste se behoeftes te voldoen nie.

En almal het op die beste fotograwe aangedring omdat 'n goeie foto jou beriggie stukke beter laat lyk.

Ray Cragg
As die fotograwe se baas, Ray Cragg, besluit het 'n berig is nie belangrik genoeg om 'n fotograaf saam te stuur nie, het hy 'n mik- en druk kamera in jou hand gestop. 'n Mens kon hom darem soms met 'n oproep na die nuusredakteur, Sarel van der Walt, tot ander insigte dwing.

Mense wat met die gereg gebots het of hulle familie was gewoonlik nie te geneë om onderhoude toe te staan nie. Ons het meestal agtergrond by die polisie of ambulansmanne gekry en het net 'n foto ter illustrasie gesoek.

Vreemd genoeg was dit nie in die suidelike gebiede 'n probleem nie, maar in die noordelike gebiede is 'n deur vinnig in jou gesig toegeklap.

Hannes, een van ons fotograwe, was 'n meester met steelfoto's. Hy het sy kamera oor sy linkerskouer onder sy baadjie gehang en foto's oor my skouer geskiet. Die optrede het soms tot emosionele opwellings en vergeldingsgedagtes by verdagtes of oortreders gelei wat die kamera gewelddadig wou afneem. Ons kon gewoonlik betyds voor 'n aanranding padgee.

Sommige harnekkige ontsteldes het ons partykeer agterna gesit, wat ons dan met oorgawe ontduik het.

Indien ons tot by die persmotor agtervolg is, het ons weggejaag. Dit het ook al gebeur dat ons by 'n toegesluite motor kom as die bestuurder gaan kos koop of rondgeflankeer het. Afhangend van die aard van die agtervolging het ons dan maar verby gehou of by die motor vir die bestuurder gewag.

Soos met die fotograwe het 'n mens jou motorbestuurder ook probeer kies.

Ek en Hannes het 'n nuuswenk gewoonlik op pad na 'n misdaadtoneel bespreek.

'n Jong mannetjie van die Westbury-woongebied, wat bekend is vir sy bendes, het hom so in ons gesprek ingeleef dat hy ons verseker het hy sal altyd op sy pos wees. Sy pos was een van daardie Anglias met 'n skuins venster agter. Nou nie juis 'n wegkommotor nie.

Kittie Vermaak
Om sy geesdrif nie te demp nie het ons na 'n onderhoud vir Kittie Vermaak oor iemand wat skoene ontwerp op die motor afgestorm. Ons was nog op pad toe swaai die motor se linkerdeur oop. Ons duik in en klouter oor die sitplek agter toe.

Intussen jaag ons jong vriend soos 'n besetene om die eerste draai. "Sodat ons uit die pad kom as iemand besluit om te skiet," verduidelik hy.

Ons het later by Arrie, die biblioteek se bode, gehoor hoe die jong Westbury ons van 'n gewisse dood gered het. Hy is plegtig vir sy heldedaad bedank en ons het onderneem om hom in die toekoms betyds oor noodsituasies in te lig.

Willie Havenga
Op 'n dag kry ek 'n wenk van 'n ambulansman oor 'n rooftog in Braamfontein naby die stasie waartydens 'n vrou ernstig beseer is. Hannes was nie beskikbaar nie en ek en wyle Willie Havenga is na die toneel toe.

Hoewel daar gewoonlik polisiemotors op 'n misdaadtoneel is, was daar dié dag niks nie. Ons het aanvaar die polisie-ondersoek by die skakelhuis is afgehandel.

Ons klop aan en word deur vermoedelik 'n familielid ingenooi. Hy bevestig dis sy vrou wat gewond is en met 'n ambulans hospitaal toe geneem is. Hy ontwyk vrae oor die rooftog en verduidelik hoe goed hy vir die slagoffer gesorg het.

Gesorg het? Dit lyk na huismoles wat skeef geloop het en ons maak aanstaltes om te ry. Dis toe dat die man in 'n woedebui uitbars, 'n rewolwer uitpluk en ons beveel om te sit. Wat ons blitsig gedoen het.

Ons het geskok geluister hoe goed hy vir die feeks was wat agter sy rug rondgeflerrie het. Ons het weer probeer padgee, maar die swaai van 'n rewolwer het ons van gedagte laat verander.

Ná sy tirade oor die sogenaamde flerriefeeks is ek en Willie ingelig oor wat hy van ons aasvoëls dink wat op die menslike leed teer. Sy uittrapsessie is na 'n rukkie deur die foon onderbreek en terwyl hy aan iemand verduidelik hy is met die pers besig, storm ek en Willie by die huis uit.

Die vyf treë van sy voordeur af tot by die hekkie was die langste afstand in my lewe wat ek in die kortste tyd in my lewe afgelê het. Willie was nie baie atleties nie, maar ek moes uithaal om by te bly. Westbury was, soos wyle Gert Kotze sou sê, genade sy gedank, op sy pos. Die Anglia se deur het oopgevlieg en ek en Willie het op mekaar in die motor beland. Westbury is soos blits om die eerste draai en ons is dadelik Sans Souci toe om iets vir die senuwees te kry.

Omdat Westbury vanweë destydse wetgewing nie in 'n kroeg toegelaat sou word nie, het ons in Brixton gaan medisyne koop. Gewapen met 'n liter Old Brown-sjerrie en plastiekglase het ons in parkie naby die RAU gaan sit om tot verhaal te kom. Die eerste dop het soos 'n skip in Pearl Harbour gesink. Terwyl ek en Willie die traumatiese gebeure herleef, het Westbury geskink en ons het gedrink. Westbury is 'n knertsie aangebied, maar het dit beleefd van die hand gewys, omdat hy nie vir dronkbestuur gevang wil word nie.

Teen die tyd dat ek en Willie ons storie agter mekaar gekry het dat ons darem nie soos gekke lyk nie, was die koerant reeds op straat. Ek het die drama probeer weglag deur by Willie te verneem of hy darem 'n steelfoto van die man geneem het.

"Ek is nie 'n oorlogskorrespondent nie,"seg hy. "Sou jy 'n foto geneem het?"

Jan Hoeksema
"Nee," se Westbury plegtig. En ek stem saam.

Ons het saam besluit dat die gebeurtenis 'n stille dood sterf om te voorkom dat siniese veterane ons maande lank treiter.

Die verontregte rewolwerswaaier is later dieselfde dag in hegtenis geneem nadat die vrou in die hospitaal dood is. Hy het die galgtou, volgens ons wyle hofverslaggewer, Jan Hoeksema, net-net gemis, maar die regter het jare se woedeterapie agter tralies voorgeskryf.