Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.1.13

Koos Doep trek Arthur Barlow ’n streep

DRIES LE ROUX, gewese subredakteur van Oggendblad, skryf: Na aanleiding van Gerhard Kleijn se bydrae oor die oud-Oggendbladters in K’rant het ek in my geheue gaan delf en op nog ’n klompie name afgekom.

Daar was ook Kobus (“Cat”) Bekker (algemene redaksie), (“Donker”) Daan Eksteen (hofverslaggewer), Willie Jooste (algemene redaksie), Fanus Bothma (hoofsubredakteur), Arthur Barlow (algemene redaksie),
Mariechen Waldner (politieke redaksie), Andreé Bosch (sub), Johan (“Voetspore”) Badenhorst (waarskynlik ook algemene redaksie), en Sandy Macdonald (sportsub). Dan was Wilna Matthee se suster (kan nie meer haar voornaam onthou nie)
ook in ’n stadium op die vroueredaksie, en in die subkantoor het ’n vrou met die naam Willa of so iets gewerk.

Ek sal nooit aan Arthur Barlow dink sonder om te onthou hoe Koos Doep hom eendag ’n streep getrek het nie.

Koos du Plessis
Arthur het een van Perskor se Datsun 120Y’s iewers in die laat jare sewentig, vroeë jare tagtig op die Ben Schoeman afgeskryf en in die daaropvolgende Perskorhaan het ’n foto van hom by die wrak verskyn. Die manier waarop Arthur langs die wrak gestaan het, het die platjie in Koos wakker gemaak.

Met die hulp van Thea Smit (die redaksiesekretaresse) en die sekretaresse van Abel van Niekerk (bestuurder van Hoofstadpers) het hy ’n uittrapbrief onder Abel se naam, op die ware briefhoof, aan Arthur opgestel en deur Thea laat aflewer. Ek weet nie of Abel se handtekening vervals is en of hy onbewustelik self die brief geteken het nie, maar dit was daar.

Ek kan nie meer die inhoud van die brief in detail onthou nie, maar weet dat Arthur se kop goed gewas is oor “sy selfvoldane houding” oor sy “kordaatstuk”, of iets in dier voege. Die laaste sin in die brief is egter onvergeetlik en kon net deur Koos geskryf gewees het: “Onthou, honger oë loer na jou pos!”

Ons in die subkantoor (Koos inkluis) het uitsoeksitplekke gehad om die verdere verloop te kon dophou, want Arthur se werkstasie was regoor die subkantoor.

Harald Pakendorf
Hy het dadelik die koevert oopgeskeur en begin lees, en hoe verder hy gelees het, hoe rooier het hy geword. Ek neem aan dit was toe hy by die laaste sin uitgekom het dat hy opgespring en na Harald Pakendorf (die redakteur) se kantoor toe gestorm het.

Dit het Koos effens onkant betrap, want hy wou Arthur voorkeer voordat hy daar uitkom, maar sonder sukses.

Gelukkig het almal lekker gelag toe Koos sy outeurskap erken nadat hulle die brief gelees het.

(Dries le Roux was van 1978 tot 1981 ‘n subredakteur by Oggendblad in Pretoria. Deesdae bedryf hy en sy vrou, Maria, hul eie uitgewery, Hartbees-uitgewers, op Swellendam. – Red.)