Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.1.13

Bybelprentjie skop ons uit die Volksraad

ANDRIES BOTHA skryf: Kyk, as 'n man kort is en hy’s skraal en as hy boonop 'n bokbaard het en sy bynaam is Bybelprentjie, dan sal hy Christelik-beleefd glimlag, maar daaragter sit 'n outestamentiese wraak van 'n oog vir 'n oog wat jy net tot jou eie nadeel sal tart.

Dit het gegaan oor die (vir ons bloot tegniese) verbreking van 'n spertyd van 'n aankondiging van komende wetgewing wat Die Transvaler
voortydig geplaas het.

Elkeen in die persgalery van die Parlement het in elk geval lank vooraf reeds geweet wat in die wetgewing sou staan, maar die spertyd vir die uiteindelike nuusmededeling daaroor was agtuur in die oggend. Dan was Die Transvaler al op straat en daarom is ons deur die Speaker, Henning (Bybelprentjie) Klopper, daarvan beskuldig dat ons die spertyd verbreek het, hoewel ons natuurlik (weliswaar dood in die kol) bloot bespiegel het wat in die wetgewing sou staan.

Henning Klopper
Ek en Koos Roeloefse, my kollega in die Persgalery, het nog doodluiters in ons kantoor gesit toe die ampswag, Francois Retief, in volle ampsgewaad, swaard en de lot, ons kom meedeel het dat hy van die Speaker opdrag gekry het om ons van die Parlementêre gronde te “begelei”.

Maar ons het ons huiswerk gedoen. Die Speaker het slegs gesag oor die Volksraad, nie oor die Senaat nie. Oom Jan de Klerk was toe President van die Senaat en ons het hom versoek om vir ons daar 'n plekkie in te rig.

Ek het Francois, 'n dierbare vriend saam met wie ek in die Parlementêre span gholf gespeel het, meegedeel dat hy ons tot by die gang na die Senaat kan vergesel, aangesien ons voortaan daarvandaan sal werk – 'n gebied waaroor die Speaker nie gesag voer nie.

So gesê, so gedaan. Francois het my later vertel dat die Speaker behoorlik slangboos was toe hy van ons set hoor. Hy’t hom voorgeneem dat ons nooit weer in die persgalery in die Volksraad toegelaat sou word nie.

Jan de Klerk
Ben Schoeman
Oom Jan het ons toe ewe gemaklik in 'n koukuskamer van die Opposisie, wat hulle nooit gebruik het nie, laat tuismaak. Ons had 'n reusekonferensietafel met 30 leerstoele en was ewe trots oor ons nuwe, veel ruimer en luukser akkommodasie.

Veral toe die persgalerymanne in die Volksraad almal die volgende dag in alleryl die Senaat bestorm het omdat premier John Vorster 'n belangrike beleidstoespraak daar kom lewer het. Ons het ons kollegas so ewe in ons nuwe kwartiere ontvang.

En Bybelprentjie se wraak? Dit het net 'n paar dae geduur, want hoe kan Die Transvaler se manne dan nou uit die Volksraad gehou word? Kort voor lank het Oom Ben Schoeman, toe leier van die Volksraad, ons na sy kantoor ontbied.

Sy gesprek was, soos sy gewoonte was, betreklik kort en op die man af. Min of meer soos volg: “Die Speaker het my versoek om julle manne ernstig te berispe voordat julle weer in die Volksraad toegelaat word. Nouja, moet dit nie weer doen nie.”

Uit en klaar. Ons verbanning uit die sinagoge was op 'n end. En almal was gelukkig, behalwe (die’s ek seker van) Bybelprentjie.