Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.1.13

Hermie Hendriks se boeke herdruk

Twee van HERMIE HENDRIKS, oud-redakteur van Die Transvaler en skrywer van speur-spanningsverhale, se boeke is onlangs deur Hartbees-uitgewers van Swellendam herdruk en nog kan volg.

Die eerste twee titels is Vloek van die Heilige Trom en Dodelike Terugkeer.

Hartbees se hoofuitgewer, GERT BASSON, sê die uitgewery gee
hoofsaaklik herdrukke uit met die klem op speur-spannings- en liefdesverhale.


“Ons het van Hermie se boeke herdruk omdat hy heelwat speur-spanningsromans geskryf het, net soos sy bekende broer R. Hendriks.”

Hermie, ’n gebore en getoë Swellendammer, het tussen 1959 en 1961 nie minder nie as twaalf boeke in die reeks Diamantveld-avontuur gepubliseer. Hy het ook die vroulike speurheld, Elda van Eck, geskep met sewe boeke in die reeks waaronder Vloek van die Heilige Trom. Van sy ander werk het by boekklubs verskyn.

Sy broer, Reinhardt, was die skrywer van die beroemde Rooi Jan-reeks, onder die skuilnaam Casper H. Marais. Die reeks Temmers van die Noordweste het hy onder sy eie naam geskryf.

Basson was onder meer redakteur van die gewilde jeugtydskrif Patrys.  Hy het as Chris Sassner die legendariese Swart Kat geskep, wat aanvanklik in Patrys verskyn het, toe in boekvorm uitgegee is, en uiteindelik ‘n TV-reeks geword het. Dit is pas weer deur Protea-Boekhuis herdruk.

Hy skryf: Hartbees-uitgewers is sowat elf jaar gelede deur Dries en Maria le Roux hier in Swellendam gevestig. Dries was van 1978 tot 1981 as subredakteur aan Oggendblad verbonde.

In 2003 het ek as hoofuitgewer by hulle kom aansluit.

Soos gesê, gee ons hoofsaaklik herdrukke uit met die klem op speur-spannings- en liefdesverhale – die meeste in groot druk, hoewel daar skrywers is wat ‘n lang pad saam met ons geloop het, wat steeds oorspronklike manuskripte voorlê en wat ons uitgee indien dit aanvaarbaar is.

Die oplaes is klein aangesien ons hoofsaaklik vir die biblioteke uitgee. Ons boeke is selde in winkels of elders te kry. Daar is wel nou al  heelwat e-boektitels op Amazon en Kabebo wat deur Pick ‘n Pay bemark word.

Ek het as uitgewer by Voortrekkerpers begin en met die amalgamasie van Voortrekkerpers en APB om Perskor te vorm, was ek hoof van bellettrie en is later versoek om redakteur van Patrys te word.

Later was ek as bestuurder aan die uitgewerye Juventus, Femina en Folio verbonde en is toe na J.P. van der Walt-Uitgewers as hoofuitgewer. Ek het in 1998 daar afgetree.

Boeke van Hermie Hendriks
Ek pleeg heelwat kleuter-, jeug- en speur-spanningsromans onder skuilname. Die jongste, Terwyl die Krokodil Sing, ‘n speur-spanningsverhaal deur Hugo le Roux, het pas by Hartbees verskyn.