Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.1.13

Die ketel tot my redding - tot redding van die ketel

PIET EBERSöHN skryf:  Die volgende storie gaan nou wel nie oor my ervarings by Perskor nie, maar dis darem sterk mediaverwant.

Toe ek einde Januarie 1979 by Perskor weg is, het ek by die destydse Transvaalse Landbou-unie (TLU) as redakteur/skakelbeampte ingeval.

Op ’n dag kom Hennie Oberholzer, die komiteeklerk belas met die unie se
onderwys-en kultuurkomitee by my met die versoek om ’n nuuskonferensie vir die komitee se voorsitter, dr Joggie van Aswegen, te reël. Die regering het besluit om skoolbussubsidies op die platteland af te skaf en die boere is boos daaroor. Die komitee sal die saak op sy komende vergadering bespreek en dié se besluit moet wêreldkundig gemaak word.

Nou weet ek mos g’n joernalis gaan opdaag vir ’n nuuskonferensie oor skoolbussubsidies nie en ek moet ’n plan maak. Ek trek die vergadering se sakelys nader en gaan dit met ’n fynkam deur – en daar amper teen die einde breek die lig helder deur!


Onondertekende spotprent in Die Kouter. Frans Esterhuyse se styl is duidelik.
“Oordraagbaarheid van landbou-distilleerderslisensies,” lui die opskrif van ’n besprekingspunt. Vir diegene
wat nie weet nie, ’n “landbou-distilleerder” is staatsdienstaal vir ’n mampoer- of witblitsstoker. Witblits van druiwe, en mampoer van perskes, sitrus, appels, pere, vye, appelkose en pruime. In 1984 is kersies bygevoeg. Ander vrugte, insluitende die geroman-tiseerde maroela, was vir dié doel verbode.

So ’n bietjie agtergrond: in die vroeë jare het boere wyd en syd drank van vrugte op hul plase gestook, grootliks vir eie gebruik, maar daar was darem ook ’n mate van ’n mark voor. Toe kom aksynsbelasting. Om die invordering te vergemaklik, is later bepaal dat stokers gelisensieer moes word, en dat ’n bepaalde kwota aksynsvry vir eie gebruik gestook kon word, maar dat aksyns betaal moes word op drank wat die kwota oorskry.

Dit het natuurlik behels dat elke stoker se produksie jaarliks nagegaan moes word sodat hy vir aksynsbelasting aangeslaan kan word – ’n haas onbegonne taak omdat ’n man van doeane en aksyns elke stookplaas jaarliks kort ná stooktyd sou moes besoek. Gevolglik is bepaal dat geen nuwe stooklisensies uitgereik sou word nie en dat bestaande lisensies sou verval wanneer die houer sterf.

Terug na die onderwys- en kultuurkomitee se sakelys. Dit blyk nou dat die uitsterwings-beleid so suksesvol was dat daar landwyd nog net 103 sulke stokers oor is. Ernstige kommer bestaan dus dat hierdie stukkie boerekultuur heeltemal kan uitsterf as die oorblywende lisensies nie oordraagbaar gemaak word nie. Die komitee sal die saak bespreek en ’n besluit neem met die oog op die behoud van die ketel.

Praat van ’n uitredding! ’n Nuuskonferensie oor die vergadering sal mos ook hierna moet verwys!
Met groot ywer het ons aan die werk gespring. Die TLU se sekretaris, Flip du Plooy, het onder sy uitgebreide kontakte gewoeker en met ’n voortreflike verskeidenheid van die Transvaal se beste witblits en mampoer vorendag gekom sodat die joernaliste darem behoorlik kon proe.

So maklik was dit waarskynlyk nog nooit om die blasé media vir ’n nuuskonferensie op te vorder nie en ’n
Spotprent deur Frans Esterhuyse in Die Transvaler.
joernalisteskaar daag by die TLU-hoofkantoor in Silverton op. Daar is geen genooide afwesig nie!
Met oorgenoeg biltong en ander versnaperinge om die skok van die mampoer te verwerk, is die konferensie ’n groot sukses. Die manne met laat spertye (ver)gryp die verposing met albei hande aan!

Willem Engelbrecht van die toe nog SAUK het ’n atlejee-onderhoud met dr Joggie gereël en ek neem hom soontoe – destyds nog in Minnaar-straat, voor die groot skuif Weavindpark toe, waar die Skerpioene nou broei.

’n Halfuur of wat later stap ’n bra verslae dr Joggie uit die ateljee: “Piet, hy het my nie ’n woord oor die bussubsidies gevra nie!”

Anton Goosen klink 'n
glasie op die stookkultuur.
So is dit ook die volgende dag in die koerante. Die saak om die stookketel van uitwissing te red is met groot geesdrif gevoer, die bussubsidies was vergete.

En die volk het vlam gevat.

Danie Yssel, lid van die provinsiale raad vir Ventersdorp en self ’n mampoerstoker, het die saak in die Transvaalse Provinsiale Raad bepleit.

Ons het ’n landboudistilleerdersgilde – met die leuse “Vreugde Uit Vrugte” – op ’n fees by Derby in die Wes-Transvaal gestig. ’n Geleentheid wat tot in die Washington Post (via korrespondent Allister Sparks) weerklank gevind het. Ek was selfs ’n tyd lank die sekretaris daarvan.

Ons het nóg stookfeeste gehou – op Cullinan, op Koster, op Calitzdorp – en ’n nasionale stookkampioenskap ingestel. Die volk het dit in hul duisende saam gevier.

By Derby het hulle ’n “nasionale” stookroete gestig.

Danie Smuts en Hendrik Schoeman bespreek die
gehalte van ‘n bottel mampoer. – Foto: The Citizen
Anton Goosen het die stookkultuur besing. Nico van Rensburg het ’n wals oor mampoer geskryf. Die parlement het dit bepraat. André P. Brink het daaroor geskryf. Ministers en latere ministers soos Hendrik Schoeman, Ben Wilkens, Piet Badenhorst en Danie Steyn het geesdriftig meegedoen.


Laasgenoemde is selfs erg deur ‘n pastoor verkwalik dat hy “toegelaat het” dat ‘n 13-jarige meisie “in sy teenwoordigheid” deur ‘n koerant by ‘n stookketel afgeneem word. Al wat die arme Steyn gedoen het, was om daardie bepaalde stookfees te open! (Berig heelonder.)

Radioman, akteur en boereraat-kenner Danie Smuts se bydrae was so waardevol dat die boerestokers en die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum vir hom ‘n bakoond op sy erf in Linden gebou het om sy groot liefde, brood bak, te kan uitleef.

Moenie Patrick Mynhardt se eenmanstuk “Sip of Jeripicho” met Herman Charles Bosman se Marico-stories as grondslag vergeet nie.

Die afslaer Sotheby’s het op ‘n veiling vir skaars wyne ‘n liter perskemampoer vir R5 500 verkoop. Die skaarsste wyn op die veiling, ‘n Grand Constance van Groot Constantia, oesjaar 1821, kon “net” R1 800 vir die duurste van drie bottels haal.

Spotprent deur Lou Henning.
Nodeloos om te sê, spotprent-tekenaars soos Lou Henning en Frans Esterhuysen kon die stooktema nie weerstaan nie.

In die kiesafdeling Lichtenburg (waaronder die Marico-distrik geval het) is die verskille tussen boere-stokers en kommersiële distilleerders oor die gebruik van die name witblits en mampoer in 1987 selfs tot ‘n verkiesingskwessie verhef!

Soos Joan Kruger in Sarie Marais geskryf het: “Drink jy hom, brand daardie vlam lank en sterk in jou.”
Die uiteinde was dat die regering ingestem het om die lisensies oor- draagbaar aan die houers se erf- gename te maak (Wysigingswet op Doeane en Aksyns, 1982).

Die stookketel is vir die nageslag gered. ‘n Mampoerfees word steeds jaarliks gevier. Stookkampioene word nog jaar ná jaar gekroon.

Die skoolbussubsidies? Geen haan het weer daarna gekraai nie en dit het ‘n stille dood gesterf.

Die Transvaler berig oor mampoer as politieke twisappel.
  • In 'n berig in die Sunday Times Metro van 5 Junie 1988 het die volgende berig verskyn:
 Storm in a Mampoer glass
De Wet Potgieter

A CLERGYMAN is at loggerheads with a Cabinet Minister after a 13-year-old girl posed for a picture at mampoer festival.

The Rev Nicholas Geere, of  Naked Valley (Kaallaagte), Pretoria, a former staff-sergeant in the Parachute Battalion and a champion archer, intends to ask the PFP's Mrs Helen Suzman to raise the issue i:n Parliament.

The Minister of Economic Affairs and Technology, Mr Danie Steyn, was the guest speaker at the annual Mampoer Festival at the Willern Prinsloo Agricultural  Museum near Pretoria.

Elana van Niekerk toating.
Mr Geere said he was inundated with telephone calls from upset parents who saw a picture of the 13-year- old girl, Elana van Niekerk, in a newspaper. She was apparently toasting a rnampoer still with a glass, of  South Africa's own moonshine.

"Our Cabinet Ministers should set an example to us," said an angry Mr Geere of the World Wide Missionary Movement.

"How could a Cabinet Minister allow such a thing in his presence?" he asked.

."We deal every day with the hardships of drunkards and alcoholics."

But, says Elana's mother, Mrs Elmarie van Niekerk, the whole row is a storm in a marnpoer glass.

"It's a big joke, In fact, the glass was empty. If Mr Geere had ever tasted mampoer, he would realise no child would he able to swallow that stuff."

Undeterred, Mr Geere is insisting upon an explanation from the Cabinet Minister. "What about that llittle girl? Mr Steyn must tell us now that she didn't drink that stuff."

Mr: Geere also asks how a nation can be expected to respect leaders who indulge in a Mampoer Festival on Saturday and attend church on Sunday, ,

"We want to look to our leaders' and believe in what they're doing," he said .

The festival is a major annual event when South Africa's "moonshiners" get together to find out whose brew from the previous year is the best.

Mr Geere, who came second in 1981 in the world archery, championships in Geneva, said he believes in the good work State Prestdent PW Botha is doing in the country, but added that his Ministers should not let him down in such a way.

"This has nothing to do with politics," he said. "The morals and future of our children are at stake."

In response, Mr Steyn pointed out that he had nothing to do with organising the festival.

"All I did was deliver the opening address. In fact, the festival was officially opened by a dominee with a scripture reading and prayers."

"All complaints, should be lodged with, the SA Distillers' Guild," Mr Steyn said.