Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.1.13

K’rant kry subredakteur

K’rant het nog ‘n aanwins tot sy redaksie gekry.

Stella Niemand (née Fouché) sal voortaan K’rant se subredakteur wees. ‘n Meer geskikte persoon kon K’rant nouliks voor wens. Buiten dat sy meer as ‘n dekade lank joernalis was, was sy voor haar aftrede 15 jaar lank ‘n taalpraktisyn by ‘n groot versekerings- en finansiëledienstemaatskappy. Boonop, sê sy, help sy “met liefde”.

Stella was in die 1970’s vier jaar lank verslaggewer by Die Transvaler. Daarna was sy skrywer van huisblaaie vir ‘n openbarebetrekkingemaatskappy. ‘n Kort rukkie by The Citizen het gevolg en toe drie jaar lank as verslaggewer by Rooi Rose in Durban. Hierop het sy vertaler by ‘n langafstandkollege in Durban geword. En toe beroepstaalpraktisyn.

Stella sê sy is “erg gek na Afrikaans”. Haar vriende noem haar die Boere-kugel van Sandton.

Om te bewys hoe toegewyd sy oor haar nuwe “werk” is, skryf sy gister, na aanleiding van ‘n storie in K’rant:  “Ek het nou amper van my stoel afgeval! Hoe is dit moontlik dat ‘sirkuskunstenaar’ twee woorde geword het? Ek hoop nie dis ek wat dit misgekyk het nie. En as ek het, vra ek nederig om verskoning.”

(Dankie, Stella, dat jy bereid is om K’rant met jou kundigheid by te staan. – Red.)