Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.1.13

‘n Kersgeskenk ná hanekraai

JAPIE BOSCH skryf: Gee en jy sal ontvang, sê die Grootboek. Dis wat skuins voor Kersfees met my (en K’rant) gebeur het.

Die storie loop só: ek het ‘n versameling van 43 Hanekraaie en Perskorhane gehad. Eersgenoemde was die personeelblad van die APB en die ander van Perskor. Met die opruiming van ons huis ‘n paar jaar gelede voor ons verhuising van Johannesburg na Jeffreysbaai het ek ‘n nuwe baas vir hulle gesoek.

Ek kon dit nie regkry om hulle weg te gooi nie, want dit bevat mooi stories van oud-kollegas en plek-plek geskiedenis van genoemde persgroepe. Aan die anderkant sou dit maar net ‘n boks opland wat ek saampiekel en iewers onoopgemaak bly vir die goggas om te vreet. Ná ‘n bietjie rondbel, sê Piet Roos toe hy sal besit neem.

Sedertdien is K’rant gebore. En ek huil oor my vrygewigheid daai tyd. Piet laat weet ook dat as ‘n besige apteker het hy nie tyd om stories uit te soek en oor te tik nie. En ek huil weer, want ek weet watse mooi stories daarin is wat K’rant se lesers sal waardeer.

‘n Paar dae voor Kersfees kom Piet en sy vrou, Chrisna, en hul jongste by my oorslaap op pad Wes-Kaap toe. (My vrou het by ons kinders gaan kuier.) Met hul aankoms en voordat ek nog behoorlik kon dagsê, sê Piet: “Hier’s hulle terug”.

Piet Roos gee die versameling terug aan Japie Bosch.
Al 43 eksemplare, mooi opgepas vyf jaar lank stop hy in my hand. Was Piet nie so oud en lelik en van die verkeerde geslag nie, het hy ‘n soentjie gekry. Ons het darem blad geskud. Dankie opnuut, Piet.

Ons het geblaai en gepraat en gelag en Chrisna het ons geduldig dit gegun. Dankie, Chrisna.

Dié versameling is ongelukkig ver van volledig. Daar ontbreek baie, soos die tabel hieronder aandui. Hanekraai het lank voor 1970 bestaan en Perskorhaan het ‘n klompie jare ná 1977 nog bestaan. Al daardie jare se eksemplare sal ons ook graag onder oë wil kry. Oud-kollegas word vriendelik gevra: het julle nie van dié wat ontbreek nie? Stuur dit asseblief na my by Posbus 2398, Noorsekloof 6331. Probeer om dit nie vou nie. Ek sal elkeen terugstuur as jy so vra.

Al die goeie stories sal daaruit onttrek word. Dit sal nie vir my nodig wees om stories oor te tik nie. Daar is slim rekenaarprogramme waarmee ‘n mens dit in redigeerbare teks kan omsit.
 
  • K'rant sal van more af stories en foto's uit voorgaande begin plaas.  Lek solank lippe af.