Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.4.18

Foto's: Jaarfunksie, 2018

MADELAINE PAGE het die meegaande foto's aan K'rant gestuur. Dit is geneem tydens die jaarfunksie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) op Sondag, 25 Maart 2018 by die Aucklandparkrolbalklub in Johannesburg.

K'rant het nie byskrifte van die foto's nie. Daarom het hy dit goedgedink dat lesers self moet kyk of hulle hul oudkollegas herken. Plek-plek sal die naamplaatjies help.

16.4.18

Jakkie se flikvlooiwenk

JAKKIE GROENEWALD, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland, was nooit skaam vir meisies nie. En hulle ook nie hul neuse vir hom opgetrek nie.

As akteur het Jakkie jare terug al naam gemaak.  In sy jongste rol in 'n advertensie  is hy 'n boer wat nie juis 'n goeie begrip vir Engels het nie. Daarin het hy raad vir die manne wat sukkel om hul vrouens of meisies se aandag te behou.

Klik HIER om 'n splinternuwe wenk van Jakkie oor romanse te kry.

3.4.18

Apartheidsredakteur se ervaringe geboekstaaf

HARALD PAKENDORF skryf (op versoek): Om ‘n boek te skryf was nou nie waaraan ek gedink het nie. Ek werk nog voltyds, die tyd is maar min. Het tog gewonder of ek dalk nie vir die dogters en kleinseuns ’n soort familiegeskiedenis moet skryf nie, so ‘n Stories vir die Kinders.

Toe praat Penguin my om om ‘n ander boek te skryf en so eindig die pogings in Stroomop, eintlik maar herinneringe van die joernalistiek in die dae van apartheid. Ek het probeer om op die agtergrond te bly maar dit is onmoontlik as jy moet skryf oor twee koerante waarvan jy redakteur was -- 1972 tot 1986, Oggendblad en Die Vaderland.

6.3.18

Subwerk en subkontrakteurs vir die dak oor jou kop

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: In die Oos-Kaap is geleenthede aansienlik minder as in ‘n plek soos Johannesburg. Dit het ek gou ontdek toe ek vroeg in Januarie 1974 na Johannesburg verhuis het met my jong vroutjie om by Die Vaderland as assistent-hoofsub in te klok.

Ek was op die punt om planne te finaliseer vir huis bou in Port Elizabeth toe ons besluit om ons grootwordwêreld vir die Rand te verruil.

15.2.18

Jaarfunksie op 25 Maart 2018

Die jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) vind plaas op Sondag, 25 Maart 2018 by die Aucklandpark-rolbalklub, h/v John Adamsonrylaan en Jan Cilliersstraat in Montgomerypark, Johannesburg. Die ingang is in Jan Cilliersstraat

Die komitee (Harald Pakendorf (voorsitter), Aletta Pakendorf, Margaret Lombard en Louise Blake) het besluit om die funksie na ‘n plek met ‘n private funksiekamer te verskuif. Daar is veilige parkering onder groot koeltebome. Dankie aan Jakkie Groenewald wat die plek voorgestel het.

14.2.18

K’rant se taalversorger skouer-af

As ons lesers vorentoe ontdek dat daar ‘n taalfoutjie iewers oorgesien is, moenie bevrees wees nie.

K’rant se getroue taalversorger, Stella Niemand (links) is vir ‘n paar maande met siekteverlof met twee skoueroperasies wat vir haar voorlê. Ná die operasies mag sy vir ‘n paar maande nie haar hand aan ‘n rekenaar sit nie.

(Ons wens jou voorspoed toe en ‘n spoedige herstel met die operasies, Stella! – Red.)

12.2.18

Paul en Willie krap steentydperk oop

PAUL KRUGER skryf: Hierdie storie word aan Willie Havenga opgedra -- uitstekende fotograaf, goeie maat en kollega. 

Die oeroue vraag: Waarom klouter klimmers berge?

Antwoord: Hulle doen dit omdat die baas so sê.

In hierdie geval was die baas mnr Otto Schwellnuss, lid van Die Vaderland se hoofredaksie, as ek nou mooi reg onthou. Die ou groot gryse se kantoor was op die vierde verdieping skuins oorkant die algemene redaksie se hokkiekantore, maar ons plebs het baie min met hom te doene gehad.

24.1.18

Wanneer het Hoofstad die lig gesien?

NIC VAN OUDTSHOORN skryf: Ek geniet K’rant baie hier in Australië. Kan enige leser my asseblief inlig oor die datum van Hoofstad se eerste uitgawe? As ek reg onthou, het John Vorster die amptelike opening waargeneem.

Dankie by voorbaat.

(Nic, stuur vir ons foto van jouself, asseblief. -- Red.)

23.1.18

Dot Kruger oorlede

KOOS BOTHA skryf: Dot Kruger is Saterdagaand in die ouderdom van 84 jaar oorlede in haar huis in die aftreedorp, Darrenwood Village, Johannesburg.

Ná meer as 'n halfdosyn kankeroperasies en feitlik nege jaar se deurlopende chemo-behandeling het die chemo haar gestel afgetakel en onder meer haar gebeente bros gemaak. Sy het drie erge beenbreuke in die afgelope twee jaar beleef.

11.1.18

Norman van Blackie oorlede

 Norman 
Chandler
Louise Blake het laat weet dat Norman Chandler Woensdag, 10 Januarie, op sy vrou se verjaardag, oorlede is. Hy was 78.

Norman het op Kersdag flou geword van bloeding op die brein. 

Medici het hom gister breindood verklaar waarna al die organe wat bruikbaar was vir oorplanting geoes is.  Daarna is die masjien wat Norman lewend gehou het, afgeskakel.

4.1.18

Tubby du Preez oorlede

Tubby du Preez.
Foto: Netwerk24.
Piet Ebersöhn het laat weet Tubby (Etienne) du Preez, gewese Pretoriase sportskrywer van Die Tramsvaler en Oggendlad, is oorlede.

Onderstaande het Dinsdagoggend op Radio Pretoria se Facebook-blad verskyn:

Dit is met leedwese dat Pretoria FM moet aankondig dat ons kollega, Ettiene du Preez, gisteraand in die ouderdom van 64 jaar oorlede is.

23.11.17

Komkommers bring die bobbejaan uit die berg

PHILIP DEETLEFS, K'rant se redakteur, skryf: Soos elke jaar is dit omtrent nou dat komkommertyd behoorlik aanbreek. Komkommertyd wanneer koerante en ander media dikwels stories dra wat deur “kenners” bevestig is, maar so ver soos Paasnaweek van die waarheid af is.

Gerugte versprei met ons selfone deesdae soos ‘n veldbrand en ons het hier in Namibië verlede week al besef dis komkommertyd toe die stories oor die radio, TV en in die koerante dik geloop het van Grace Mugabe wat dalk in haar geboortedorp, Benoni wegkruip of dat sy politieke asiel in Namibië gevind het en reeds in Windhoek is.

30.10.17

Never a dull moment

TOBIE MOSTERT, voormalige sportskrywer van Die Vaderland en Rapport, skryf: Die Springbokke het Saterdag 30 September in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein Suid-Afrika trots gemaak deur darem gelykop teen die Wallabies te speel - maar daar was 'n vreemde atmosfeer in die Vrystaatse hoofstad.

SA joernalistiek en -sport het een van sy grootste seuns daardie dag verloor: Joe Venter (83).

27.10.17

Joe Venter was joernalis van staal

PIETER KRUGER skryf: Dit was 36 jaar gelede toe ek Joe Venter die eerste keer ontmoet het, in die mediatent op die laaste dag van Sun City Classic-gholftoernooi - die voorloper van die Nedbank-uitdaagtoernooi.

Leendert Pieterse, Die Vaderland se destydse sportredakteur, het twee nat-agter-die-ore-joernaliste, ek en Tobie Mostert, een Vrydagoggend net ná saktyd versoek om die Saterdag na Sun City deur te ry om te gaan kyk “hoe daar in die veld” verslag oor sport gedoen word.

6.10.17

Legendes is handvol, nie landvol nie

PIET EBERSÖHN skryf: My WAT en HAT is nog iewers ingepak, maar met wat ek gegoogleloer kry, kom `n legende min of meer neer op `n verhaal waarvan die wortels in die historiese werklikheid berus, maar wat in die volksoorlewering dalk ietwat oordryf word.

Oorspronklik was dit die verhale van heiliges wat in die kerk oorvertel is, en op letterkundge gebied gryp dit steeds hierna en na die mitologie terug.

`n Legende kan ook iemand wees wat sulke verhale inspireer.

Toemaar, ek wil nie `n lesing oor die woord “legende” gee nie.

3.10.17

Legendariese en alomgeliefde Joe Venter was sport se vriend

Gary Player het bewoë geraak toe hy later bel om te verneem na die welstand van “my groot vriend Joe” wat hy kort tevore op dié se siektebed spesiaal gaan besoek het in Bloemfontein. Toe Frik du Preez Saterdag van Joe Venter, veteraanjoernalis, se afsterwe verneem, was hy verslae, skryf Gert Coetzee

“Ons het ’n grote verloor,” het hy gesê oor die man met wie hy sedert 1962 ’n sportvriendskap gedeel het.

Ook die oud-Springbokflank André Venter van Bloemfontein het per SMS sy medelye met “oom Joe” se mense betuig.

13.9.17

Des Erasmus (deel 2 van 2): Die kuber-kommunikasie dien slegs as “teasers”


HENRIETTE LAMPRECHT skryf: Des Erasmus erken hy was baie dae weg van die huis in sy loopbaan as joernalis en soms lang dae en lang nagte waarin die kleinspan soms net gesien is wanneer hulle reeds slaap of nog slaap. Van goeie aftye saam is supertye gemaak.

Soms is hy weggeroep wanneer hulle saam op pad na ‘n lekker plek was. Daar was tog verstaan, sê hy “hoewel klein seuntjies en ‘n meisietjie se vingertjies soms deur die ogiesdraad van die voorhekkie gedruk was waar hulle staan en wag het”.

12.9.17

Des Erasmus (deel 1 van 2): Die joernalistiek was ‘n nering, nie 'n betrekking

HENRIETTE LAMPRECHT, hoofverslaggewer by Republikein in Windhoek wie se storie hier onder oor veteraankoerantman Des Erasmus in Republikein in Windhoek verskyn het, skryf: Des Erasmus is letterlik die ‘last man standing’ van sy generasie gatskopjoernaliste en vir my ’n mentor en die versinnebeelding van die Afrika-gesegde: “wanneer ’n man sterf, brand ’n biblioteek af”.

As ‘n boorling van die Kaapse Middellande was Des Erasmus se eerste kennismaking met stories van tannie Miemsie van Deventer van ‘n buurplaas.

30.6.17

Jan van Vreden oorlede

Jan van Vreden
JOHAN VAN ZYL van Pretoria FM het laat weet dat Jan van Vreden, ‘n bekende in joernalistieke kringe, Woensdagoggend (28 Junie 2017) in die ouderdom van 83 jaar aan hartversaking oorlede is.

Jan het jare lank as joernalis vir Perskor gewerk. Hy was onder meer hoofredakteur van  Hoofstad, Transvaler en Die Noord-Transvaler.

Hy is op Laersdrif naby Marble Hall gebore en het op Groblersdal skoolgegaan. Jan het ‘n  groot bydrae tot die Afrikaanse mediabedryf in Suid-Afriika gelewer. Hy was in militêre kringe bekend vir sy uitsonderlike dekking van verskeie weermagoperasies.

16.6.17

K’rant scoop Rapport en homself

PHILIP DEETLEFS skryf: Vier en ‘n half jaar gelede toe K’rant ses maande oud was, het Jean Oosthuizen vir ons ‘n heerlike storie oor PG du Plessis (nou wyle) geskryf. Ná PG se dood nou die dag soek ons hier by K’rant naarstiglik na iemand wat vir ons iets uit ‘n Perskor-hoek oor PG kan skryf.

Op Facebook sien ons toevallig Jean Oosthuizen se treffende storie oor PG wat 100% in die Perskor-ruimte pas. Rapport het dit oor die naweek gepuliseer, maar K’rant wil dit vir die rekord en toekomstige verwysing plaas.