Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.11.15

Chris Vermaak mis sperdatum én die oorlog

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het geweet as K'rant bietjie karring aan ons geheue gaan dit my aan een of twee stories laat dink wat ek nie andersins sou onthou het nie:
i) die beste -- maar werklike -- verskoning vir ‘n sperdatum wat nie gehaal is nie en
ii) ‘n scoop vir jou koerant omdat die opposisie nie na jou wyse raad wou luister nie!

Op 10 Februarie 1981 -- bykans ‘n jaar ná onafhanklikheid in Zimbabwe -- is die Entumbane militêre kamp naby Bulawayo in ‘n slagveld omskep toe Zipra- en Zanla-magte van onderskeidelik mnr Joshua Nkomo en eerste minister Robert Mugabe slaags geraak het.

30.10.15

Nuuskierige toeriste by staatsleiers se nuuskonferensie

NIC VAN OUDTSHOORN skryf: Ek het Gustaf Pienaar se berig oor die nuuskonferensie van John Vorster en James Callaghan met belangstelling gelees want ek was ook daar.

Ek was destyds ('n ruk nadat ek by Landstem gewerk het) skakelbeampte vir Rhodes-universiteit en ook 'n korrespondent vir 'n paar Britse koerante.

Een van hulle het my laat weet van Callaghan se besoek en ek is toe vinnig van Grahamstad na Port Elizabeth.

Amelia verloor stryd teen kanker

DRIES SONNEKUS het laat weet: My dogter, Amelia, is gisteraand oorlede (54 geword in September) ná ‘n stryd van baie jare teen kanker. Daar is drie dogters; die jongste een word maar 11, die oudste doen haar laaste jaar internskap by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein. Die begrafnis sal in Bloemfontein wees maar ek weet nog nie wanneer nie. (Dries kan by sontaal@mweb.co.za gekontak word - Red.)

26.10.15

Toe John Vorster soos 'n sif gelek het

Gedurende sy SAUK-jare in Port Elizabeth (1973-1977) moes GUSTAF PIENAAR jaarliks toesig hou by die opname van premier John Vorster se nuwejaarsboodskappe. Een opname onthou hy veral vanweë 'n gemoedelike gesprek tussen Vorster en 'n joernalis wat op 'n verrassende noot geëindig het. (Dis nou nie ‘n Perskor-storie nie, maar synde uit dieselfde werksagtergrond plaas ons die interessante storie graag - red)

Dwarsdeur die wêreld gebruik staatshoofde en politieke leiers die jaarwisseling om hul volgelinge oor radio en televisie toe te spreek en hul sterkte vir die nuwejaar toe te wens. So is dit ook in Suid-Afrika.

22.10.15

Piet skrik hom boeglam - eers vir luiperd, toe vir brak

PIET ROOS skryf: Twee keer het ek geskrik. Groot geskrik.

Die eerste keer was daar by Loskopdam waar 'n "mak" jagluiperd my gebyt het. Ek het 'n storie gaan doen oor Des Varaday se jagluiperdplaas en hy vat my die kamp in. Ons stap stadig deur die bosveld en daar lê 'n jagluiperdwyfie so neffens 'n doringboompie.

Ek buk om 'n vloer-foto van die dier te neem en alles is nog reg.

20.10.15

Aas vir storie-vangs

PHILIP DEETLEFS skryf: Ná Piet Ebersöhn se reeks skitter-onderhoude met oom Hermie Hendriks en ander bydraes van die jongste tyd het ons heelwat terugvoering gehad van gereelde lesers wat vir ons vertel het hoe lekker dit is om weer iets nuuts op K'rant se voorblad te sien, en die redaksie stem saam!

Martie Retief Meiring se boodskap is sprekend van die terugvoering wat ons gekry het:

16.10.15

Skaterlag oor panty op 'n paal

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Evert van Niekerk, oudmotorredakteur van Die Vaderland, was altyd half deurmekaar en stillerig as hy by sy klein glaskantoortjie in Aucklandpark aangekom het.

Hy was vroeg-oggend nie juis spraaksaam nie. Seker maar nie ‘n oggend-mens nie. Maar een oggend ná sy aankoms bars hy kort-kort van die lag uit. Het julle ouens dan nie gisteraand radio geluister nie? En hy mompel iets van “die baas”.

Nou wat het aangegaan, Evert? vra een van die ouens (dalk nog Tom Buys), geamuseerd.

13.10.15

Die Kunstige Perskorhane

PIET ROOS skryf: Daar is hele swetterjoel kunstenaars, spotprenttekenaars en illustreerders wat bydraes gelewer het aan die Perskor-publikasies.

Ons dink altyd eerste aan Len, maar daar was manne soos Lou Henning, Jurko Jankovic, Dov Fedler, Andre de Beer.

Murray en Elzabe Schoonraad het 19 jaar lank navorsing gedoen en 'n ensiklopedie saamgestel van al die kunstenaars van 1900 tot so 1989. Murray is professor in Skone Kunste aan Tukkies en Elzabe het 'n DSc in Plantkunde en ek deel graag die inhoud met K´rant.

9.10.15

Sat vir politiek


Op Jannie Kruger se dienstyd as redakteur van Die Transvaler het die ongelukkige eksperiment met twee mederedakteurs, dr GD Scholtz en Jan van Rooyen, gevolg.

Ek het die indruk gekry dat Van Rooyen moeilik by Scholtz se politieke styl aangepas het. Scholtz, ‘n mens op sy eie, was sekerlik een van die grootste karakters met wie ek saamgewerk het. Hy het onder meer ‘n fantastiese – eintlik fenomenale – geheue gehad. Dit het nie net politieke, geskiedkundige en nuusfeite gegeld nie, ook sport- en selfs perdewedrenuitslae. Hy het byvoorbeeld baie jare se wenners van die Durbanse July-perdewedren op sy vingerpunte geken.

7.10.15

Hendrik Verwoerd was hardkoppig, maar ware heer


Met Hendrik Verwoerd se aanstelling by DT het hy eers ‘n tyd lank by Die Burger gewerk om die ABC van die koerantwese te leer. Daar is vertel dat hy so ‘n goeie leerling was dat hy selfs die tee gemaak het.

Ek onthou hom as ‘n ware heer, maar iemand wat baie sterk standpunt kon inneem. As hy ‘n besluit geneem het, is hy nie maklik oortuig om dit te verander nie, soos sy teenstanders in die politiek later maar alte deeglik ervaar het.

5.10.15

Misdaadstories moes oorlogstories vervang



K’rant (met Hans Lombard se hulp) het uiteindelik vir HERMIE HENDRIKS, oudredakteur van Die Transvaler, omgepraat om van sy ervarings oor 40 jaar as joernalis in diens van die Voortrekkerpers, die Afrikaanse Pers, Dagbreekpers en uiteindelik Perskor, met ons lesers te deel. Die Transvaler se geskiedskrywer, Piet Meiring, het oom Hermie bestempel as “een van die bouers van ons koeranttradisie”.

Teen die einde van 1944 het die leidende geeste by Die Transvaler gemeen dat die Tweede Wêreldoorlog einde se kant toe staan en besluit om ‘n misdaadverslaggewer aan te stel om die leemte te help vul wat ‘n gebrek aan oorlogsnuus kon laat.

My broer, Hein (Die skrywer R Hendriks, wat ook die Rooi Jan-boeke onder die skuilnaam Casper H Marais geskryf het. – Red), het vroeër vir DT gewerk en was op daardie tydstip ‘n vryskutskrywer, wat onder meer speurverhale geskryf het, en hy is genooi vir ‘n onderhoud om die pos te vul.

2.10.15

EKSKLUSIEF: Oom Hermie lig die sluier!

Hermie Hendriks
40 jaar gelede
Hermie Hendriks
onlangs
Ná vier dekades in die joernalistiek en by publikasies wat in K'rant se stal pas, het Piet Ebersöhn die voorreg gehad om die merk- waardige Hermie Hendriks se geheue te tap. Hy lig die sluier oor groot name uit die verlede.

Maandag, Woensdag en Vrydag word hierdie baie interessante en heerlike lekkerlees-verhaal in K'rant gepubliseer.

Maak seker jou K'rant beland saam met jou koffie op die ontbyttafel!

1.10.15

Statige Kitty Vermaak, ‘n vrou met smaak

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ek was vir 'n bitter kort tydjie deel van die Perskor-familie, skaars 18 maande. Maar die juwele in my herinneringe sal altyd by my bly. Ek onthou die uitsonderlike Kittie Vermaak: Vroueblad-redaktrise van Die Vaderland.

Kittie het haar half oor my ontferm, want ek was ‘n boere-girl van Orkney met 'n PU vir CHO-graad wat my in die ongelooflike wêreld van die Goudstad se joernalistiek begewe het.

29.9.15

Kom ons leer Russies praat


André du Toit
ESTELLE DE BRUYN skryf: Die assistent-redakteur van Die Vaderland toe ek in1981-1982 daar gewerk het, was André du Toit. Hy het eendag vertel dat hy Russies leer.

Hoekom? wou ons weet. Ai ai ai, verduidelik hy aan ons groot-oog jong joernalissies: "As die kommuniste hier oorneem, en die Russe kom, gaan ek die ou wees wat hulle wys waar die kafeteria en die toilette is!"

14.8.15

Juhan Kuus is oorlede

SUZELLE FOURIE skryf: Met ‘n geskeurde skouerspier wat my uit die slaap hou, bring ek my nagte meestal deur met swerftogte op die internet. Tydens so ‘n laatnag geswerf die afgelope week kom ek toevallig af op ‘n berig oor die onlangse dood van fotograaf Juhan Kuus in Kaapstad.

Ek het Juhan nie goed geken nie, maar onthou hom wel. Hy het in die vroeë jare sewentig saam met oorle’ Gerrie (fotograaf Gerrie Fourie, Suzelle se man -- Red.) vir Rapport gewerk en ek onthou dat Gerrie destyds groot agting vir Juhan se werk gehad het. Hy het hom as een van die beste persfotograwe in Suid-Afrika beskou, ‘n mening wat deur vele ander in die beroep gehandhaaf is.

31.7.15

Piet spring loesing vry

PIET ROOS skryf: Kemptonpark was destyds 'n sentrum vir die aanspreek van sake vir dwelm- en porno-oortredings omdat die lughawe daar was. Die ouens wat op die lughawe gevang is, is na die plaaslike landdroshof gebring.

In daardie dae was onsedelikheid 'n baie ernstige misdaad. Die manne het oorsee sulke opvoedkundige tydskrifte soos Playboy en ander stoutighede gekoop en huis toe gebring.

So was daar 'n welbekende man en sy maters van Vrede in die Vrystaat wat bietjie oorsee gaan pret maak het.

29.7.15

Reisgogga byt vir Ona by Die Transvaler

ONA VILJOEN skryf: Dis moeilik om te onthou presies wanneer die reisgogga my gebyt het. Dalk was dit toentertyd toe Club Med my na Reunion-eiland uitgenooi het om ’n artikel oor hulle vir Die Transvaler se naweekbylae te skryf.

Ai, hoe lekker was dit nie!! Behalwe dat ek en ’n ander meisie wat ook hulle gas was, een oggend besluit het om "topless" op ’n afgeleë stuk strand te gaan "tan" (dit was nog voordat swaartekrag sy tol geëis het). Sjoe, daardie aand het ons die gevolge gedra: bloedrooi was daardie sensitiewe gedeeltes. In so 'n mate dat die bestuurder se vrou vir ons jogurt gebring het om aan te smeer. Dit trek glo die angel van sonbrand uit!

13.7.15

SA se beste fotograaf in sy tyd

SIPKE DE VRIES skryf: Ek is vreeslik jammer om te hoor van Gert se afsterwe. Ek het 'n rukkie gelede nog met hom en sy vrou Marie gesels. Dit het toe nog goed gegaan met hulle.

Gert Hattingh was in 1963 my eerste "baas" as hooffotograaf van Die Transvaler. Ek het pas uit Nederland hier aangekom en dit was my eerste werk in Suid-Afrika. Gert het my die fynere kunsies van die persfotograafwerk geleer.

10.7.15

Talentvolle Gert Hattingh Woensdag ter ruste

GERT HATTINGH se vrou Marie het laat weet dat Gert se roudiens Woensdag 15 Julie in die NG Kerk Hartenbos gehou sal word. Sy het gesê Gert het onlangs maagprobleme ontwikkel wat veroorsaak het dat hy die afgelope twee weke nie meer kon eet nie. Gert is eergisteroggend (8 Julie 2015) oorlede.

As 'n huldeblyk aan Gert publiseer K'rant 'n storie oor Gert wat in April 1991 in Perskorhaan gepubliseer was.

8.7.15

Gert Hattingh oorlede

Gert Hattingh, voormalige fotograaf van onder meer Die Vaderland en Die Transvaler, is vanoggend oorlede. K'rant sal hopelik binnekort meer inligting hê.