Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.2.14

‘Ek beleef ‘n wondergenesing’

Die tweede aflewering in PEET SIMONIS se reeks van vyf artikels oor sy ervarings terwyl hy in die jare sewentig ‘n reeks oor geloofsgenesings vir Die Transvaler geskryf het.

PEET skryf: In die vorige artikel oor ongewone genesings (lees hier), het ek geskryf hoe dit gebeur het dat ek vir Die Transvaler ‘n reeks oor die onderwerp aangepak het.
Daar was destyds sterk aansprake dat wonders van genesing besig was om te gebeur – hier te lande veral by dienste van Dan Bosman, ‘n gewese lugmagman wat Christen geword en vir mense begin bid het.

Die Transvaler van destyds was nogal dapper om die reeks toe te laat oor dit soveel aanstoot kon gee. Baie mense glo nie dat God mense nog genees in antwoord op gebed nie. Die opdrag was dus duidelik – ons skryf net oor gevalle wat medies verantwoord kan word en ter wille van “balans” gee ons ook reklame aan gevalle waar mense NIE gesond geword het nie.

Ons het ook ‘n sielkundige, ‘n bekende Gereformeerde teoloog en ‘n sendingkundige geraadpleeg wat die getuienisse onder die vergrootglas gesit en aan die einde van die reeks hul menings gegee het.

Nadat die hoofredaksie die groen lig gegee het vir die reeks, was die eerste stap om te gaan kyk wat gebeur
in die destydse bedienings van twee van die mees bekendes op die terrein – Bosman in Suid-Afrika en Kathryn Kuhlman in die VSA.

Die belangstelling in haar dienste was so groot dat sy gereeld een keer per maand die bekende Shrine Auditorium gehuur het. Jare lank was die plek met sy sewe duisend sitplekke tot oorlopens toe vol siekes, hul familie en nuuskieriges wat kom luister en kyk het.

Niemand was toegelaat om by haar dienste te getuig van genesing as daar nie familie, dokters of vriende teenwoordig was wat kon bevestig wat die sieke makeer het en dat daar tydens die diens ‘n verandering ingetree het wat hulle as genesing beskou het nie.

Ek sou Kathryn voor haar diens ontmoet, maar toe ek ‘n uur voor die tyd daar aankom, was die diens al so te sê aan die gang. Buite het plate ambulanse en motors en busse gestaan. Duisende het opgedaag – party het deur die nag gewag dat die deure van die bekende bymekaarkomplek oopmaak, het ek verneem.
Een van die helpers wat geweet het van my koms, het gesê ek kan ná die diens met die bekende vrou praat en het my na ‘n goeie sitplek langs die middelpaadjie geneem.

Koerantmanne is gewoond om goeie plekke te kry om hulle werk te kan doen en dit pla jou nie, maar daardie dag het ek nogal sleg gevoel – hier sit ek, perdfris en gesond en buite is soveel ellende en pyn. Kan ek nie maar my plek vir een van hulle gee nie – ek sou in elk geval eerder wou rondloop met my kamera.

By die soort dienste is daar minstens honderd vrywillige helpers wat goed opgelei is en wie se kleredrag hulle onderskei as werkers. Ek het een nader geroep: “Hoor hier, ek is 'n joernalis wat hier is vir werk. Ek sal nie omgee om my plek op te gee vir ‘n sieke en eerder onopsigtelik rond te beweeg en fotos’s te neem nie.”
“Dankie, meneer, maar nee. Die plek is vol. Brandregulasies is baie streng en bepaal dat almal moet sit. Mense mag nie rondstaan in die gange nie.”

Die gesprek was natuurlik in Engels.

Ek het bly sit en na die mooi koorsang geluister terwyl almal wag dat die diens begin. Daar was ‘n gees van afwagting – hierdie gaan nie ‘n gewone kerkdiens wees nie. Hier sit mense wat medies gesproke nie meer hoop het nie. Dis nie uit terloopse belangstelling of pligspleging dat hulle hier is nie.

Terwyl ek so sit en rondkyk wie om my is, het ek die spanning op baie gesigte gesien – party in stille gebed. Ek dink ek het geweet wat baie dink: “Is hierdie my groot dag? Kan God mý ook gesondmaak? Wil Hy?”
Ek wonder of dit drie minute was toe stap ‘n helper na my (nie die een met wie ek tevore gepraat het nie) en vra: “Meneer, sal jy omgee om jou plek vir ‘n sieke te gee?”

En die brandregulasies dan?

“Met graagte,” en ek staan op en begin die lang breë middelgang oploop na agter.

Dit was goed, want in die volgende ure het ek toe ontroerende dinge gesien en beleef wat ek alles sou mis as ek heeltyd op een plek gesit het.

Ek het maar probeer om onopsigtelik te wees – bang iemand wat weer aan die brandregulasies dink, gooi my uit.

Naby die verhoog aan die regterkant (die reghoekige wit opening ongeveer in die middel van die foto onderlangs) het ek by ‘n klein kamertjie uitgekom waar mense gesit en gelê wat misvorm en gebreklik is en waarskynlik nie graag in die openbaar wou verskyn nie. Ek was nogal geskok deur dit wat ek daar gesien het, byvoorbeeld ‘n kindjie wie se kop byna twee keer die normale grootte was.

Die diens was al ‘n hele ruk aan die gang. Kathryn, geklee in ‘n wit rok met lang loshangende moue, het gepreek uit Johannes 17 waar Jesus met Sy Vader praat en die punt gemaak dat ons mense ook met Hom kan praat – ons kan maar ons harte voor Hom uitstort en ons behoeftes bekendmaak.

Ná die preek het helpers verhoog toe begin kom met mense wat opgewonde kom vertel het dat hulle tydens die diens “gesond” geword het. Talle verskillende siektes en gebreke was genoem en mense wat kon bevestig wat met die persoon geskort het, is kortliks uitgevra.

Daar was baie blydskap. Kathryn het ‘n manier gehad om die gehoor te laat lag en dit het ‘n gemoedelike atmosfeer geskep.

Ek sou graag van die dramatiese getuienisse wou opvolg - uitvind wat dokters sê oor die getuienisse van “gewese” siekes, kreupeles, blindes, maar in die konteks van só ‘n diens was dit onmoontlik.

Die vrou het tydens die diens en as mense getuig het verskeie kere beklemtoon “This is not me, I am not the one who heals. This is the Work of God’s Spirit, all glory to Him!”

Een keer het sy gesê: “I am not God’s first choice for this ministry. God chose a man but He failed God. This is hard for me – I am on my feet many many hours, days, weeks, and I weep for those who don’t get healed. I don’t understand it myself. I die a thousand deaths for them. On the other hand I thank Him for every healing. God is so wonderful. Glory to Him!”

Baie wat oortuig was dat hulle gesond geword het, verlaat die plek en van die wat nie plek kon kry nie en nog buite gewag het, word dan ingelaat.

Ek het gesien hoe ‘n swart vrou inkom wat haar dogter op n rolstoel stoot. Die ma se gesig was ‘n toonbeeld van moedeloosheid en wanhoop. Die diens is al meer as drie uur aan die gang – dit staan einde se kant toe en hulle kon nou eers inkom.

Die dogter se regterarm was half in die lug en sy kon dit skynbaar nie in ‘n normale posisie kry nie. Haar kop was ook skuins na regs gedraai.

Ek kon nie anders as om jammer te voel vir hulle nie en het in my hart gebid dat die Here haar asseblief moet gesondmaak.

Ek het nogal ‘n gevoel gehad dat ek hardop vir haar moes bid maar daarvoor het ek glad nie kans gesien nie.
Ek het ‘n ruk lank gestaan en kyk of daar nie dalk “iets met haar gebeur nie” maar ná ‘n paar minute my rug op hulle gekeer en stadig weggeloop.

Skielik was daar n gil van vreugde agter my. Die dogter was uit die rolstoel, haar arms in die lug om God te dank. Ek sal die uitdrukkings van ekstase en dankbaarheid op hul gesigte kan vergeet nie.

Was dit my gebed wat die Here verhoor het? Wat dan van die ma en dogter, familie en vriende s’n? Hulle het seker honderde kere gebid? Maar wat maak dit saak?

Die diens was aan sy einde. Kathryn Kuhlman het gevra: “Now who of you would like to know this wonderful Jesus?”

Honderde het na die verhoog gestroom om te hoor wat hulle moet doen om volgelinge van Jesus te word.

• Interessant dat daar nooit ‘n kollekte opgeneem was of enigiets oor geld gesê is nie.

Ná die diens het ek die besondere vroue-prediker ontmoet en ‘n rukkie met haar gesels. Haar eerste opmerking was dat ons nog niks weet van die krag van God nie. Sy was aangenaam verras dat ‘n koerantman so ver gekom het om haar diens by te woon.

(K’rant beskou bostaande as ‘n weergawe van ‘n joernalis se waarnemings en ervarings in die uitvoering van sy pligte en plaas dit uit hierdie oogpunt. K’rant is steeds nie van voorneme om godsdienstige debatte te voer nie. – Red.)