Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.2.14

Dié slag hét die Peugeot gebrand!

RIKA VAN GRAAN skryf: Toe ek Philip Deetlefs se storie oor die stukkende Peugeot lees, het my gedagtes teruggegaan na die dag toe ek en Jacques Bosch ‘n storie op Schweizer-Reneke moes gaan doen en die kar se enjin aan die brand geslaan het.

Laat ons by die begin begin. Ek was die naweek by my ouers op die plaas toe ‘n ou skoolvriendin se drie kleuters die Sondagoggend op Wolmaransstad in hul kamer versmoor het.

Die kinders het geslaap en die ouers wou gou winkel toe gaan. Dit was winter en hulle het die gasverwarmer
in die kamer aan gelos.

‘n Hartseertoneel het die ouers begroet toe hulle sowat ‘n uur later tuis kom. Al drie kleintjies het in hul bedjies versmoor.

Die Sondagmiddag ry ek en my broer Wolmaransstad toe om onderhoude met die ouers te voer.

My vriendin Maria Botha was in die hospitaal weens skok. Ek het met haar gepraat en só die gebeure ontrafel. Haar bejaarde moeder was by haar in die hospitaal vir ondersteuning.

Ek kon die storie deurbel.

Toe ek Maandag ‘n opvolg doen, is die begrafnisreëlings vir die Woensdag afgehandel.

Jacques Bosch
Omdat ek die mense geken het, moes ek vanselfsprekend die begrafnis gaan doen. Die fotograaf was Jacques Bosch.

Die begrafnis was vir 13:00 geskeduleer. Ons is die oggend weg Schweizer toe, waar die kinders begrawe is. Die rit het goed verloop. Ons teenspoed het by Makouskop, sowat 40 km van ons besteming af, opgeduik toe rook skielik by die enjinkap uitgeborrel het.

Die rooi A dui Makouskop aan.
Makouskop het ‘n petrolpomp en ‘n kafeetjie. Onthou, ons het nog nie selfone gehad nie en moes staatmaak op die goedgunstigheid van die kafee-eienaar om die koerant te bel en te sê dat ons hulp nodig het.

Ek het my ouers op die plaas gebel en gehoor hulle is reeds weg dorp toe vir die begrafnis. My ouboet het tot ons redding gekom en ons dorp toe gevat om die diens by te woon.

Ná die diens is verversings in die kerksaal bedien.  Ek en Jacques is soos eregaste behandel.

Noodgedwonge moes ons na die huis toe gaan aangesien ons nog nie 'n behoorlike storie gehad het nie.

Die ouma en oupa was arm en ons wou hulle nie in die gesig vat nie!

By die huis het ons weer tee gedrink en toe vertel ouma ons dat Maria ‘n histerektomie ondergaan het en nooit weer kinders sou hê nie.

Dit was ons storie, saam met Jacques se dramatiese uitbeelding van die gebeure by die graf .

Maar nog was dit het einde niet.

Ons moes nog terug Johannesburg toe.

Ons is saam met my ouers plaas toe. Omstreeks 09:00 bel die kafee-eienaar en sê die persmotor uit Johannesburg het daar aangekom.

My pa het ons daarheen geneem. Nou was dit nog drie uur se ry terug koerant toe. Terwyl ons bestuurder gery het, kon ek en Jacques ʼn uiltjie knip ná die dag se dramas.

By die perskantoor moes Jacques sy films ontwikkel terwyl ek die storie skryf. Nodeloos om te sê dit was ons scoop. Nie een van die ander koerante het ons hoek van die storie gehad nie.

Nog was dit nie die einde van die Botha-sage nie. Drie weke later was ek weer op die plaas toe 'n vrou van Avbob bel en sê die Botha-pa is dood. Hy het met sy kar voor die trein beland.

Ek het die storie deurgebel en hulle kon van Jacques se foto's gebruik wat hy by die begrafnis geneem het.

Nog was dit nie die einde van mev Botha se storie nie.

Sy het by die gevangenisdiens aangesluit en ‘n bewaarder geword.

Tien jaar later het my pad weer met hare gekruis toe ek oor ‘n selfmoord in Pietermaritzburg moes berig. Brig Willem van Wyk het my vertel van die skietvoorval waarin Maria Botha noodlottig in die kop geskiet is. ‘n Klokkie het by my gelui!

Navrae het my by haar ouers op Schweizer uitgebring en haar dood is deur haar ma bevestig. Volgens haar ma kon sy nooit oor die dood van haar kinders en man kom nie.