Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.2.14

Fanie was altyd aan die werk

PEET SIMONIS skryf: Ons vriend en kollega Fanie van Niekerk (78), se graf in die Wesparkbegraafplaas, Johannesburg, is links buite sig op die foto hieronder. Daar is hy Vrydag deur familie en vriende ter ruste gelê.

Sy graf is net oorkant graf nommer 15 613 in die blok gereserveer vir mense van die Gereformeerde en Pinksterkerkfamilies. Langs hom is ‘n
boomomsoomde laan en oorkant dié lê die Katolieke, dan die Moslems en nog verderaan die Jode.

Fanie van Niekerk
Fanie sou dit ook baie komies gevind het dat die ou verdelings nog bestaan.

Daar was min Perskormense by sy begrafnis, want daar is min van sy porture oor. Baie van hulle was vóór hom hier by Wespark en hulle is nog daar – ook gesaai in al die verskillende blokke volgens nommer, denominasie en kultuur.

Die twee grawe by Fanie se tydelike grafsteentjie, was nogal tiperend van sy lewe – altyd aan die werk. Hy was een van Perskor se hardwerkendste, vriendelikste, hulpvaardigste, sê almal wat hom geken en die voorreg gehad het om saam of naby hom te werk.

By Aucklandpark sedert die dae van Dagbreek en Sondagnuus en Die Vaderland, was hy meer in die fabriek as bo in sy kantoor, want toe koerante die eerste keer kleur begin druk het, was Fanie se talente en vaardighede onontbeerlik. Hy het die verskillende kleurskeidings gemaak sodat sekere van ons rolperse die eerste keer kleur kon druk.

In Nieu-Doornfontein was sy kantoor op die tweede verdieping net verby Die Transvaler se skryfhokkies, skuins oorkant John du Toit, Joe Venter en die ander sportskrywers se plek.

Toe was Fanie al in ‘n bestuurspos, maar eintlik was hy vredemaker en fasiliteerder. Vonke het dikwels gespat tussen die redaksie en die fabriek en dan moes hy dinge oplos en weer laat werk. Altesaam 45 jaar was hy by die pers – en anders as baie ander – het hy elke dag daar geniet. Hy was ‘n man wat sy werk geken het.

Ons almal sal sy vriendelike glimlag onthou – nie ‘n dag was hy daarsonder nie.

Al wat daardie kenmerkende glimlag van sy gesig kon vee, was die kanker wat hom die laaste maande baie swaar laat kry het. Hy het menigmaal genesing van allerlei kwale ervaar, maar daar is iets soos ‘n siekte wat tot die dood toe is, en Fanie het geweet dis hierdie keer só vir hom. Toe het hy vir sy besoekers gebid eerder as hulle vir hom, het ‘n familielid gesê.

By verlede jaar se reünie-ete, het Fanie gestraal en sy kameratjie oortyd laat werk. Ek en Esther was twee van baie wat hy dringend genooi het: “Onthou, kom kuier nou gou vir ons, asseblief!” Dis ons verlies dat ons nie spesiaal tyd daarvoor ingeruim het nie.

Fanie laat sy vrou, Bets, en kinders Samuel, Willie en Ilse agter asook agt kleinkinders na.