Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.2.14

As jy met ʼn tornado trou, waardeer jy die windstiltes

Na aanleiding van ANKE VAN NIEKERK, weduwee van daardie kleurvolle Perskorman Evert wat in die lewe motor-redakteur van Die Vaderland was se skrywe in K’rant, het WILLIE BUYS haar gevra om ‘n bietjie uit te brei oor hierdie wyd bekende man in die destydse motorkringe.

Dit het maar aanvanklik ‘n bietjie gesukkel, vandaar die feit dié berig
nou eers verskyn.

Kenton-on-Sea
Anke vertel self hoekom: Ek is tot einde Januarie taamlik besig en ek kan in hierdie stadium nie al jou vrae beantwoord nie. Ek is een van die gelukkige mense wat in die mooiste vakansieoord in die Oos-Kaap woon en aangesien die vakansie nou in volle gang is, staan ons plaaslike ouens maar bont om almal gelukkig te hou -- veral as 'n mens 'n lid van die tuisnywerheid is. Ons plaaslike bewoners van 3 000 siele groei in die vakansietyd tot oor die 30 000. Ek word elke oggend met die rivier en die see buitekant my vensters wakker. Evert wou dolgraag hier aftree maar dit was hom nie beskore nie. (Anke het wel verklap dat haar en Evert se paradysie Kenton-on-Sea is).

Hoe ek op julle berig in K'rant afgekom het? Evert se suster is einde November oorlede en natuurlik het sy naam ter sprake gekom. Sy niggie het besluit om sy naam te Google en daar was julle storie.

Suzelle Fourie
Daaroor skryf Anke: ‘n Familielid het baie opgewonde vir my gesê Google bietjie “K’rant – huldeblyk aan Evert”. Was my verrassing groot toe ek jou berig daar vind, asook ene van Suzelle du Preez (Fourie). Dis wonderlik dat iemand, ná 24 jaar, nog aan hom dink. Ja, hy was ‘n karakter sonder gelyke. Hy het natuurlik soms die f-woord gebruik, net om so ‘n bietjie indruk te maak.

Ek wonder of Suzelle besef hoe raak sy Evert beskryf het. Haar sin vir humor is kostelik en haar berig het my sommer vir ‘n paar oomblikke vir Evert laat herlewe. Ek het natuurlik tonne foto’s van hom, maar ek weet nie of dit eintlik is wat julle soek nie.


Evert van Niekerk saam met die legendariese 
Super Sarel van der Merwe, 'n huishoudelike 
naam in tydrenkringe.

Op die vraag oor hoe sy en Evert by mekaar uitgekom het, skryf sy: Ek vertel graag hoe ek en Evert kennis gemaak het. Ja, kennis gemaak -- nie ontmoet het nie. Ek was net 'n kort rukkie by die tydskrif Rooi Rose en op pad huis toe aan die einde van die dag. Jy onthou van Perskor langs die Holiday Inn aan die einde van Empireweg in Johannesburg waar die pad skielik nouer geword het? Ek het pas die Perskor-perseel verlaat, is deur die hek en het op die sypaadjie na my motor toe geloop toe 'n geel Volksie besluit hy moet die motor voor hom verbysteek. Die gevolg: 'n kop aan kop botsing reg langs my. Die glasskerwe en motorstukke het op my neergerëen. Toe ek weer sien staan 'n man langs my en vra of ek seergekry het. Dit, het ek later verneem, was Evert van Niekerk, Die Vaderland se motorredakteur. Hy het by die vervoerafdeling van Perskor verbygeloop en gesien wat gebeur het.

Evert van Niekerk en sy drie Jaguars.
Soos reeds genoem, was ek by Rooi Rose en het die spesiale bylaes behartig – genotvolle dae. Toe
Republikeinse Pers Rooi Rose oorgeneem het, het die hele redaksie uitmekaar gespat. Bennie Frits, befaamde skrywer en verhaleredakteur, is Huisgenoot toe. Ek self het 'n rukkie verbruikersake by Die Vaderland gedoen - totdat ek besluit het om 'n breek te vat en bedank het. Ook nie lank daarna nie het dr Willem de Klerk geskakel en gevra of ek dit nie sal oorweeg om halfdag vir Die Tranvaler te werk nie. So gedaan, totdat ek my eie onderneming begin het, nl om die motorreus Nissan se tydskrif tien jaar lank te produseer.

Van my lewe met Evert kan ek boekdele skryf (maar nie nou nie). As jy met 'n tornado getroud was, moet jy sterk winde kan trotseer en word die windstiltes ekstra gewaardeer. "Never a dull moment." Ek mis sy kwinkslae en vinnige sêgoed. Dis moeilik om te glo dat hy volgende jaar al 25 jaar oorlede is. Hierdie tyd van die jaar sou hy weer gaande gewees het oor die sterftesyfer op die pad.