Sulke stil -dae sal ook vir K’rant aanbreek en daar is baie redes voor –
byvoorbeeld moegheid by skrywers ná die “vakansie” wat vir kinders en kleinkinders ‘n hoogtepunt was, maar wat oupas en oumas se liefde en banksaldo's swaar beproef het.
Gister het die laaste drie hier by ons vertrek en vandag is daar 'n stilte oor die huis maar alweer ‘n pyn van verlange in die hart. Miskien is dit nou die tyd om 'n storie vir K’rant aan te pak wat ek al lankal in gedagte het, want vanoggend sien ek juis in K’rant die redakteurs vra ernstig vir bydraes van ons almal.
Die stories wat ek in gedagte het, het hulle ontstaan in die dae van die ewige stryd by koerante om die beste en grootste te wil en moet wees. Die sirkulasiestryd.
Hermie Hendriks |
Carl Nöffke |
In die dae toe Die Transvaler oorgeneem is deur die Afrikaanse Pers in die vorming van Perskor was sy verkope in die omgewing van ‘n skrale 12 000 per weekdag en ongeveer daar het dit vir maande bly vassteek – maak nie saak hoe die “opmaak” en aanbieding en wat ookal verbeter is nie.
Otto Schwelnuss |
Hennie Kotzé |
Een van die oplossings was interessante storie-reekse wat oor weke “geloop” het. Dit moes goed aangebied en bemark word met plakkate en advertensies op radio ens ens. Die gesamentlike impak was dan dat die leserstal geklim het. Hoeveel? Dit het te doen gehad met die belangstelling wat die storie-reeks gaande gemaak het asook goeie verspreiding en soos reeds aangedui - bemarking.
Gert Kotzé |
Op 'n dag het mnr Schwelnuss en Hermie gevra wat ek dink. My reaksie was iets soos – “Nee, jislaaik mense, net die Here alleen weet hoe ons kan slaag – mens sal daaroor moet bid!”
Ek kan nie onthou of dit ernstig geklink het of lighartig was nie, maar Otto, vir een, het dit nogal ernstig opgeneem:
“Nou ja, gaan huis toe en gaan bid daaroor!” het hy met ‘n glinster in die oog gesê.
Omstreeks daardie tyd het my pa vir my 'n boek present gegee met die titel “I Believe In Miracles” – geskryf deur Kathryn Kuhlman en Jamie Buckingham. Dit was 'n blitsverkoper in die VSA en as jy een hoofstuk gelees het, sal jy weet waarom.
Kathryn was 'n besonderse vrou en aan die hoof van 'n besondere bediening wat groot belangstelling gewek het. By haar kerkdienste het duisende mense opgedaag wat dikwels medies gesproke aan die einde van hul lewens was – “hopelose” gevalle.
Wat so merkwaardig was van haar persoonlikheid, was dat sy vol lag en vreugde was, maar tog ‘n innige verhouding met die Here gehad het. In haar boek (beskikbaar op Internet) skemer dit skerp deur. Haar kerkdienste was nie vir 'n oomblik vervelig nie – daarvan kan prof Jacques Theron van Unisa wat saam met my twee van haar dienste sou bywoon, ook getuig. Maar wag, ek loop die storie vooruit.
(Foto's wat ek by haar byeenkomste geneem het, het ek self ontwikkel en laat afdruk in Amerika. Op die een regs het sy toe vir my 'n boodskappie geskryf wat vir my baie beteken:
To Peet
God Bless You
Kathryn Kuhlman
Wat sy in daardie boek skryf en wat in daardie tyd in Suid-Afrika aan die gang was op die vlak van sogenaamde wondergenesings – veral by dienste van 'n man genaamd Dan Bosman, het my 'n idee gegee.
Ek het vir Otto, Hermie en die ander by Die Transvaler voorgestel dat ons goeie indiepte-navorsing doen en 'n reeks skryf oor mense wat genees is (en ook oor dié wat nie genees is nie) by soortgelyke dienste in Suid-Afrika, maar ook in Amerika. Elke genesing moes deur dokters bevestig kon word.
Dan Bosman sou juis in daardie tyd op uitnodiging in die VSA gaan optree. Sy program was so gereël dat dag een in die Americana Hotel in New York sou wees. Daar het duisende Amerikaanse sakemanne byeengekom van die organisasie Full Gospel Bussinesmen International en die spreker: Niemand anders as Kathryn Kuhlman nie!
Die grootkoppe by die koerant het die reeks goedgekeur, maar toe dit by koste kom, het die bestuur op die Tweede Verdieping (Aucklandpark), vasgesteek. Die saak is beredder deurdat ek aangebied het om die binnelandse koste van die besoek aan Amerika self te betaal – die pers sou net die vliegkaartjies gee.
En so is ek toe hier weg en het aangesluit by 'n groepie Suid-Afrikaners wat ook New York toe is vir Kathryn se diens – onder meer akademikus van Unisa, Jacques Theron - toe nog net “meneer”. Hy het later professor in Teologie geword.
Voor ons vertrek, het ek eers vir Kathryn Kuhlman geskryf en gevra dat ek haar ontmoet. Dit was merkwaardig dat sy ingestem het. Die ontmoeting sou nie in New York wees nie – ek wou eers sien wat aangaan en wie sy werklik is. Ek sou haar ‘n week later ontmoet in Los Angeles waar sy 'n groot diens gelei het by die Shrine Auditorium (links) wat sitplek bied aan sewe duisend mense.
Ek moes dus van oos na wes oor Amerika g van New York na Los Angeles vlieg vir daardie onderhoud. Gelukkig kon 'n mens daardie tyd 'n goedkoop vliegkaartjie koop – ‘n Visit USA-kaartjie vir net $200 of so. Daarmee kon ek vlieg waar ek wou en die land deurkruis.
Wat ek en Jaques Theron in New York gesien het by Kathryn se eerste diens, het ons verbaas – byvoorbeeld die genesing van ‘n pragtige vrou uit Europa wat ‘n kankergewas so groot soos 'n lemoen in haar sy gehad het. Daar is nie eens vir haar gebid nie – terwyl die groot gehoor gesing en die Here geloof en Kathryn gepreek het, het die gewas skielik verdwyn.
Die vrou was oostelp van blydskap. Sy het opgestaan en in trane van ekstase vertel wat met haar gebeur het.
Kathryn wou weet waar sy vandaan kom en watter soort werk sy doen. Sy was 'n operasangeres uit Wene.
“Nou wil jy dan nie vir die Here iets sing om jou dank te betuig nie?” het Kathryn gevra. Duisende manne het hande geklap en begin juig.
Daar was 'n vleuelklavier en 'n wonderlike pianis. Hy het die Onse Vader begin speel en daardie vrou het hemels gesing terwyl trane van dankbaarheid oor haar wange loop.
Koerantmanne huil nie, maar daar was 'n lastige wasigheid in my oë. Ek kon darem nog vir Jacques langs my sien en sy mond wat letterlik oopgehang het. Dit het my laat lag midde-in die erns van daardie onvergeetlike, heilige oomblikke.
“Gaan jy die storie vir jou koerant skryf?” wou Jacques later weet.
“Nee man, ek sal eers haar dokter moet opspoor om haar mediese toestand van voor vandag te bevestig en ook wat dit nou is – hoe gaan ek dit hier regkry in Amerika – ek het skaars genoeg geld vir 'n hot dog 'n dag!”
Ons het gelag. Nou ja, dan wag ons maar en soek gevalle wat medies bevestig kan word terwille van die ongelowige Thomasse.
In die volgende weke het ek baie genesing-getuienisse gekry wat wel medies bevestig kon word – ook stories waar mense hulle verbeel het hulle is genees, maar hulle was nie.
Dan was daar die storie van dr Gauche die agnostikus wat gesê het hy sal nooit glo as hy nie met sy eie oë kan sien hoe God 'n kreupele genees nie en hoe dramaties sy ongeloof “beloon” is. En daar was mev Bokkie Breedt wat kanker in 'n gevorderde stadium gehad het.
X-strale het getoon hoe haar borsbene al plek-plek opgevreet was deur die kanker. Toe raak die Here haar aan (of sy vir Hom) en die genesing is so radikaal en onmiddellik dat die volgende X-strale geen teken van kanker of beenskade kon toon nie.
Mev Breed se dokter was woedend. “Julle mors my tyd – hierdie kan nie mev Breed se X-strale wees nie!” was sy reaksie.
Maar dit was.
En dan was daar die stories van teleurgestelde siekes wat NIE gesond geword het by dienste van Kathryn of Dan Bosman nie. Hoekom nie?
Ek het maar katvoet geloop met die reeks in Die Transvaler, want die koerant het mense wat NIE glo dat
God nog in ons dag kan of wil genees nie, uitgenooi om ons te looi.
Volgende keer skryf ek meer oor wat by Katryn se dienste gebeur het en dan oor genesings en nie-genesings hier in Suid-Afrika.
Die “kassie” links het by elk van my artikels in Die Transvaler van September/Oktober 1973 verskyn.
En ja,ek is bly Hermie leef nog om te bevestig dat hierdie stories die koerant se sirkulasie wel laat klim het. Goeie nuus kan ook koerante verkoop!