Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.1.14

Toe 'n minister my nie 'gefaaier' kon kry

CHARL THOM skryf: Die onlangse afsterwe van Theo Gerdener, gewese Administrateur van Natal, Kabinetsminister tydens die Vorster-era en latere stigter en leier van die Demokratiese Party, het my laat terugdink aan hoe ek gevrees het hy gaan sorg  dat ek ontslaan sou word.

Ek was redakteur van die Afrikaanse weekblad, Die Nataller, waarvan
Gerdener terloops self die stigter-redakteur was. Gerdener was minister van binnelandse sake en leier van die NP in Natal toe die episode hom afgespeel het.

Theo Gerdener
Foto: Die Burger

Ek het uit 'n onberispelike mediese bron verneem dat 'n breingewas by Gerdener gediagnoseer is, dat hy geopereer gaan word en dat sy prognose glad nie goed was nie. In daardie stadium het heelparty joernaliste en van sy politieke kollegas ervaar dat hy baie kortgebonde en soms selfs bitter onredelik kon raak. Dit was heel anders as die skerp man wat ons toe geken het.

Ek het Gerdener kort voor saktyd gebel en hom met die storie gekonfronteer.

Hy was woedend en wou dit nie ontken of bevestig nie. Hy het gedreig dat as ek dit sou durf waag om te publiseer, hy vir seker sou sorg dat ek die volgende dag op straat sou wees.

Ek het die stang vasgebyt en laat waai. Daarna was die storie ook in al wat 'n dagblad en Sondagblad is onder groot opskrifte.

Marius Jooste
Die Nataller,  soos hy in 
Januarie 1965 gelyk het.
Toe kom die oproep van baas Marius Jooste soos ek gevrees het.

"Wat vang jy met Gerdener aan?", wou hy weet.

Ek het hom mooi in die prentjie gebring en toe gewag vir die byl om te val.

Maar Jooste was tjoepstil aan die ander kant.

Ek het, met wat seker maar 'n taamlik bewerige stem was, gevra of ek afgedank is.

Jooste het net gesnork. "Ek stel redakteurs aan en dank hulle af. G'n ministertjie doen dit namens my nie!"

Dit was die einde van die storie wat my betref. Gerdener is geopereer en alles is bevestig. Hy's kort daarna uit die Kabinet maar het goed herstel en later die Demokratiese Party gestig.

Ek het hom later weer ontmoet maar hy het geen melding gemaak van die gebeure nie. Hy was klaarblyklik weer sy ou self.