Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.1.14

Hennie se dubbele kragskok

PIET EBERSöHN skryf: Van Hennie Kotzé gepraat, laat dit my dink aan een van my eerste ervarings as verbruikersjoernalis by Die Transvaler daar in die later jare sewentig in Nieu-Doornfontein.

Ná drie jaar se kluistering in die nagkantoor is ek uiteindelik skryfkans gegee – al moes ek eers ‘n ander werksaanbod kry om die maghebbende arms sover gedraai te kry. Ek is na die sakeredaksie
onder redakteurskap van Johan Moolman oorgeplaas, maar na aanleiding van The Star se sukses met sy verbruikersblaaie moes ek iets soortgelyks by by DT vestig. The Star het ‘n verbruikersredaksie van twaalf gehad!

Ewentwel, Randburg het destyds ‘n selfstandige stadsraad gehad en die inwoners het toe groot probleme ervaar met foutiewe en buitensporige kragrekenings.

Hennie Kotzé
Hennie het in Randburg gewoon en ontvang ‘n baie groot rekening met gepaardgaande dreigemente van afsny en regstappe en wat nog.

Dis toe net daar wat ek opdrag kry om die stadsraad op te dreun en ‘n slag vir die verbruiker te slaan. Watter salaristrekker op aarde kan dan nou só ‘n rekening sommer uit sy agtersak betaal?

Pligsgetrou het ek, gewapen met die getuienis in die vorm van Hennie se rekeningstaat, die betrokke afdeling van die stadsraad gebel. Hulle het die besonderhede afgeneem, sou die saak ondersoek en my laat weet.

Kort voor lank bel die amptenaar terug: die rekening is so hoog omdat dit twee maande nie betaal is nie.
Ek het Hennie in die gang voorgekeer en verslag gedoen. Hy was oorbluf en het met ‘n gemompelde “my vrou was dan veronderstel om die rekening te betaal” het hy omgedraai en in sy kantoor verdwyn.