Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.1.14

Asseblief! Dit WAS respektawelik

LUCIA GOMES skryf: Nou toe. As julle jul klaar gebreek het -- gelag het soos julle lê -- laat ek verduidelik. (Weet natuurlik nie waaroor gaan al die lawaai nie. Lyk my julle het nog nooit 'n mens in 'n laken gesien nie!)

Julie 1970
Ewenwel. Dis Hanekraai-redakteur, Paul Kruger, wat my met die meegaandefoto in die gang byloop. "En toe," wil hy weet, "wat se lawwigheid is dit nou eintlik dié?" Sommer so. En kamma kastig is hy vreeslik geskok. "Om te dink," fluistersê hy, "dat oom Apie Greeff, Maxie Pienaar, Martie Snyman en André Verster ook so ... so kaal ... so ... " en hy's vort.

Paul Kruger ...
kwansuis geskok.



Nou ja. Ek moes toe maar alles aan hom ontbloot - die storie meen ek. Want kyk, die waarheid seëvier altyd. Geen laken is groot genoeg om hom te verberg nie. En hier is dan hoe dit gekom het dat ons groepie APB-ers ons op 'n dag bevind het - elkeen in 'n laken! (Sirkulasie: sorg tog dat dié geskrif nié by die volgende adresse afgelewer word nie.)

Die ding begin toe ons deur die grootbaas van Holiday Inn na Hluhluwe toe genooi word vir die opening van 'n nuwe Holiday Inn.

Van ons pers word verteenwoordigers van Die Vaderland, Rooi Rose, Financial Gazette, Hoofstad en Dagbreek genooi . Daar word ook nog 120 ander pers- en uitsaaimanne vanoor die land gevra om en masse op te trek. En dié Vrydagmiddag staan ons op Jan Smuts (nou OR Tambo-lughawe -- Red.). Lyk asof Chris Barnard aankom -- die dae toe sy kom en gaan nog nuus was. Persmense waar jy kyk. Skuins ná drie pak ons die Skymaster van Protea-lugdiens se pens stampvol en daar grom ons. Die ou tuigie is nog pure perd (gaan ook soos een tekere as hy in 'n lugleegte beland). Maar gelukkig word daar mildelik "kalmeermiddeltjies" voorsien.

Dis ná my tweede "kalmeermiddeltjie" dat ek eers oom Koos Pienaar (Maxie van Fleur se man) se hand los. Want toe sê sy darem al vir die DERDE keer vir my. "Kyk girl, moenie worry oor die goete wat hier so onder die "plane" kraak nie. Die Japanse goed is maar so." En sy steek 'n Courtleigh aan met 'n soort van 'n finaliteit wat lyk of sy nou kláár gepraat het.

Die Kaap is gou Hollands. “Praat word daar gepraat -- teenstander is nie meer teenstander nie. Dit is die
July, politiek, iemand se blouoogkind en selfs die oggend- en middagvadoekies wat oor die tonge rol.

Hulle moes só gelyk het.
• Sononder land ons op so 'n eenkanterige stukkie aarde aan die sonop-kant van Mtubatuba. Die hele Zoeloeland se kombi's is daar saamgetrek om ons Inn toe te neem. Trappies is daar nie om ons uit die vliegtuig te kry nie. Maar watwou, seep- en tamatiekissies doen die joppie ewe goed. Bowendien: soos my ou kollega, Doug Jones, die spyker op die kop slaan, in daardie stadium was ons almal slim, sterk, ryk en mooi en "don't care".

En hoe kom ons toe aan ons lakens? Dit het alles begin met die Bacchusfees. Ja, ons verneem toe ons moet Saterdagaand 'n Bacchusfees bywoon. En ons gaan aantrek soos Romeine -- almal, sonder persoons des aansiens. Klere sal voorsien word, kondig reklameman Dan Pienaar sedig af. En waar was julle toe ons Saterdagaand ons klere by die kantoor gaan haal, toe sien ons: ons kry elkeen 'n skamele lengtetjie linne om ons naaktheid te bedek!

Toe lyk hulle só
En hier is ons ...  in ons lengtetjies linne op die Hluhluwese Bacchusfees.
Agter: Oom Apie Greeff (Sakeweek) en sy vrou, Yvonne; Maxie Pienaar (Fleur) en Koos Pienaar; Martie Snyman (Rooi Rose); Frans du Randt (Hoofstad); Susan Verster (André se vrou; en Aletta en Len Gallagher (laasgenoemde by Die Vaderland).
Voor: Lucia Gomes (Dagbreek); Joan Craffornd (Die Vaderland); Joey du Randt (Frans se vrou); André Verster (Die Vaderland en Joey Steyn (Hoofstad).
Joan Crafford en ek gryp ons lappies en sit af kamer toe. En daar sit Martie Snyman van Rooi Rose, hare opgedollie, maar sonder klere. En sy skud die ou stukkie linne sonder gesag op die bed uit en sê: "Hoe maak mens nou jou jis toe met dié flintertjie?" En dit was omtrent die oorwegende gevoel.

• 'n Uur lank is daar 'n geskarrel, 'n gemeet en 'n gepas en 'n gespelde. Ja, ponde haakspelde is gebruik. (Vra maar vir oom Apie Greeff waar sy vroutjie, Yvonne, hóm oral gespelle het. En deurentyd sê Martie Snyman: "Dank die Vader Marietjie-hulle sal nooit hul ma só sien nie".

Maar ons raak aangeklee en so hou ons toe Bacchusfees. Respektawelik. Heeltemal Respektawelik. En bewaar die siel wat weer lag. -- Hanekraai, Julie 1970.