Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.1.14

Perskor was g'n in Aucklandpark

JAPIE BOSCH skryf: Werknemers van die ou APB en Perskor het hul werkplek se adres as Empireweg-verlenging 8, Aucklandpark geken. Amptelik was dit ‘n verkeerde adres.

Daar is rede om te glo dat min mense dit weet, maar die ou Perskor-gebou was ‘n voorstad met die naam Braamfontein-werf. Aucklandpark was sowat twee kilometer van daar af. Interessant genoeg word die naam op Google Maps en ander webwerwe net in Afrikaans aangedui – geen Braamfontein Yard nie.  Moenie 'n fout maak nie, Braamfontein-werf is nie 'n nuwe naam nie.  Dit bestaan al donkiejare.

Die stippellyn rondom die rooi A in die kaart hieronder toon Braamfontein-werf se ligging. Perskor was geleë waar die geel van Empireweg ophou. Binne-in dié voorstad was ‘n kleiner voorstad met die naam Sunnyside. Vir dié wat onthou: Douglas Jones en sy gesin het daar gebly.


Tussen Braamfontein-werf en Aucklandpark is Cottesloe aan die een kant en Richmond aan die ander.   Cottesloe was nie juis 'n woonbuurt nie en Richmond onder middelklas, maar nie arm nie. Braamfontein (sonder die werf) self was desjare ‘n minder gegoede buurt.

Aucklandpark was destyds en ten dele vandag nog ‘n gesogte voorstad, veral vir welgestelde Afrikaners. ‘n Mens kan net gis oor hoekom die ou APB daardie jare Aucklandpark as ‘n adres verkies het.

Empireweg-verlenging 8, Braamfontein-werf.