Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.1.14

Fotodag 15: Skurk Japie loop sy rieme styf

JAPIE BOSCH skryf: ‘n Student, in my jong dae altans, was gereeld op soek na ‘n naweekwerk vir ‘n paar rand. As ‘n tweedejaar in 1965 het ek ‘n Saterdagwerk gekry om ‘n rol in een van die destydse gewilde fotoverhaal-boekies te speel. Ek moes ‘n skurk wees in ‘n boekie met die naam, Die Swart Adelaar: Operasie H-bom. Die prys waar dit op die straathoeke verkoop is, was 20c.

Eddie Dorey, ‘n latere Suid-Afrikaanse se karatekampioen, was die Swart Adelaar. Hy is in Mei 2013 in die ouderdom van 76 oorlede.

Hoewel ek in net sowat 8 foto’s verskyn het, moes ek die hele dag teenwoordig wees in geval ek weer benodig sou word. Ek moes met my eie vervoer by die plek waar die verhaal afgespeel het, kom, my eie “skurk”-klere saambring en self vir my middagete betaal. Vir dié dag se opoffering is ek R3 betaal. Goedkoop arbeid? Moenie glo nie. Omgereken in vandag se geldwaarde was dit R197. (Gaan kyk self by http://inflationcalc.co.za/). Die boekie sou vandag R13 gekos het.