Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.1.14

Afvalgeleentheid skep verleentheid

JAPIE BOSCH skryf: ‘n Misverstand tussen Marius Jooste en Martie Snyman, oud-redaktrise van Rooi Rose in die jare sewentig, oor skaapafval het amper tot konsternasie gelei.

Jooste het op ‘n dag Martie na sy kantoor laat kom en haar gevra om hom te help met die reëlings vir ‘n ete waartydens hy afval wou voorsit. Hy sê toe vir haar: “Vra sommer vir ‘daai Bosch’ om vir my 13 stelle afval te kry”.

Martie Snyman
Die eerste Bosch wat in Martie se kop gekom het, was die uwe. Toe sy by my aanklop, het dit vir my sin gemaak. Ek het haar so half geken, want as hoërskoolseun het ek en my vriende soms by haar dogter, Marietjie, gekuier. Ons was in dieselfde hoërskool en het nie te ver nie van mekaar af gewoon nie. Later toe ek by die koerant begin werk het, het ek en Martie mekaar soms in die gange gesien en gegroet. Boonop was ek in daardie stadium munisipale verslaggewer by Die Vaderland en een van my gereelde kontakte was raadslid Koos Powell wat ‘n slaghuis in Greymont gehad het.

Ek het vir Koos gaan spreek en hom laat verstaan dat die afval vir die grootbaas is, dat hy moet sorg dis van goeie gehalte en dat dit stiptelik by Martie se kantoor afgelewer moet word.

Bill Bosch se voormalige slaghuis in Emmarentia.
Intussen het Jooste op een of ander manier onverwags met Bill Bosch, ‘n voormalige boksskrywer van Die Vaderland, kontak gehad. Bill het ook ‘n slaghuis gehad, in Emmarentia, Johannesburg. Jooste hoor toe dat Martie nog nie die afval by Bill bestel het nie. Toe bestel hy dit self en sê hy moet 13 stelle afval by Martie laat aflewer.

‘n Dag of wat later laat weet Koos Powell my dat sý 13 stelle afval gereed is. Martie is tevrede en tref reëlings dat Koos betaal word. ‘n Rukkie later kom iemand van Bill se slaghuis met 13 pakke afval by Martie se kantoor aan.

Wat haar reaksie was en wat alles daarna gebeur het, weet ek nie, behalwe dat sy by Jooste was. Druipstert en met ‘n rooi gesig het Martie my kom vra om vir Koos Powell te vra of hy sý afval sal terugneem. Uiteraard het dit my in ‘n ongemaklike posisie geplaas.

Ek het ‘n persmotor gekry en die afval na Koos teruggeneem.

Bokant die ingang van Koos se slaghuis was ‘n groot bord waarop in vet letters geskryf is: “Sien leef en laat leef” (nogal eienaardig vir ‘n slaghuis). Ek het gehoop dié leuse van Koos sal help as ek hom verduidelik wat gebeur het. Dit het gewerk en ek is by Koos weg met gratis braaivleis vir die naweek en die kontant van 13 stelle afvalle.