Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.1.14

Oggendblad kry nuwe motors

PIET EBERSöHN skryf dat ‘n gewese senior Oggendbladter, wat anoniem wil bly, die volgende storie vertel: Van die motors in Oggendblad se motorpoel was in ‘n uiters swak toestand. Die bande was glad, die masjiene swak onderhou en dit was niks vreemd dat die motors langs die pad gaan staan het met van die verslaggewers nie. Hulle het letterlik vir hul lewens gevrees as hulle met een van die motors op die pad was.

‘n Onophoudelike stroom klagtes hieroor het op dowe ore geval. Daar is nie geld nie, was die bestuur se antwoord telkens.

Illustrasie
Een van die manne, nou saliger, het ‘n vriend in die Pretoriase verkeersafdeling gehad, en toe die volgehoue
klagtes by bestuur nie resultate lewer nie, het hy besluit om sy vriend se hulp in te roep.

Die eervolgende keer toe die nuusredakteur hom op ‘n storie uitgestuur het, het hy sy verkeersmanvriend van die roete verwittig. Hy is van die pad af getrek en ná deeglike ondersoek is die motor daar en dan as onpadvaardig van die pad af gehaal.

Die volgende dag is nog drie van die gehawende motors se roeteplanne aan die verkeersdepartement verstrek. Al vier het in die toets gedruip en is van die pad af gehaal - vier motors in twee dae.
En Oggendblad het nuwe motors gekry.