Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.20

Oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: Hy was die eerbiedwaardigste van alle joernaliste wat my pad gekruis het. Nee, nou stel ek my aan – wie se pad dit my voorreg was om te kon kruis.

Voorwaar ʼn Israeliet sonder bedrog – en dit in ʼn beroep waarvan Horace Flather in sy The Way of an Editor gesê het die meeste knappes is “slightly off the normal mental beam”.

26.6.20

Hermie Hendriks op 95 oorlede

Hermie Hendriks se dogter, Hermien, het laat weet dat haar pa op 25 Junie 2020 in die Florakliniek in Johannesburg oorlede is.
Hy het op 9 Junie 95 geword en is vroeër vandeesmaand in die kliniek opgeneem nadat hy geval het.

Oom Hermie was ‘n ware Perskor-legende. Ons sal met graagte ‘n paar huldeblyke van oudkollegas oor hom ontvang.

8.6.20

K’rant bring ou vriende byeen

JAC DE VRIES
skryf: Baie dankie vir die onlangse plasing van die brief van my ou vriend, David Fall, wat na my gesoek het. Dit was 'n groot verrassing om vir die eerste keer ná 1983 weer met hom en sy vrou kontak te kon maak. Hy was 'n diplomaat verbonde aan die Britse Ambassade in die RSA.

Ek het in 1983 by die SA Polisie aangesluit. Toe ek toestemming gevra het om my kontak met hom voort te sit, was die antwoord dat kontak met diplomate deur die Departement van Buitelandse Sake behartig word en dat sulke kontak dus nie nodig is nie.

David en sy vrou het Suid-Afrika in Januarie 1985 verlaat en hy was later Britse Ambassadeur in Thailand met die skrikwekkende tsunami op 26 Desember 2006.

Nogmaals baie dankie vir K'rant se hulp. Dit word hoog op prys gestel.

5.6.20

Jeanne het diep spore by Perskor getrap

Jeanne Goosen
K’RANT bring hulde aan die skryfster Jeanne Goosen wat Dinsdag, 2 Junie 20020, in Melkbosstrand oorlede is. Sy sou volgende maand 82 gewees het. Volgens ‘n vriendin was sy die afgelope twee jaar bedlêend.

Jeanne het by nie minder nie as vyf Perskorpublikasies gewerk. Sy was onder meer kunsredakteur by Hoofstad en joernalis by Oggendlad, Die Transvaler, Rooi Rose en Tempo.

Jeanne was bekend vir haar unieke karakter en talent. Die volgende toekennings is onder meer aan haar gemaak: CNA-prys (1990), MNet-prys (1991), Rapport-prys (1990 en 1992), Afrikaans Onbeperk (1998) en die Eeufeesmedalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009).

‘n Volledige artikel oor Jeanne is HIER.

Verskeie koerante het gisteroggend voorbladberigte of -foto’s van haar geplaas.


25.5.20

Christien (Swanepoel) Nieman oorlede

Christien Nieman
MARISA WILCOCKS het laat weet van die afsterwe van Christien Nieman op 19 Mei 2020. Pankreaskanker is twee jaar gelede by haar gediagnoseer.

Christien het saam met haar broer Jan Swanepoel (hy is in Desember oorlede) in Die Vaderland se subkantoor gewerk. Sy was ons groot taalkenner. 'n Mens kon vir Christien enigiets vra, sy het altyd geweet wat die korrekte taalgebruik was. Waar party mense 'n "wandelende ensiklopedie" is, was Christien 'n "wandelede woordeboek."

Vir baie jare het ek gewonder wat van Christien en Jan geword het. Toe my pasgetroude kinders aan die Wes-Rand gaan woon het, het hulle in dieselfde kerk beland as Christien, Jan en Christien se man, Piet. Hulle drie het die twee onder hulle vlerk geneem en 'n groot rol in hul lewens gespeel. Al drie is nou nie meer met ons nie, maar sal altyd onthou word vir hoe besonders hulle was.

Die foto bo van Christien is in Februarie deur een van haar goeie vriendinne geneem. Christien het 'n baie hegte vriendekring gehad.

'n Gedenkdiens sal ná die inperking gehou word.

14.5.20

Op soek na Jac de Vries

From January 1981 to January 1985 I was First Secretary at the British Embassy in South Africa, moving between Pretoria and Cape Town with the parliamentary sessions.

I came to know, professionally and as a friend, Jac de Vries, deputy editor of Oggendblad. After my stint in South Africa my career took me back to South East Asia and Australia and I lost contact with Jac.

7.4.20

Ons soek 'n engel vir Rapport (Deel 2 van 2)

PEET SIMONIS skryf verder: Drie dae voor ons moes terugkeer na Nairobi, was ons op die Kigali-lughawe. Baie van die groot ruite van die lughawe was flenters geskiet en daar was ander oorlogskade.

Ons het gehoop om op 'n leë vragvliegtuig na Nairobi te kom – dit sou ons die lang oorlandroete spaar waarvoor daar kwalik genoeg tyd was voor ons weer die vlug na Suid-Afrika by Nairobi moes haal.

Ons was moeg, maar skielik is ons vaakheid verdryf deur ‘n aankondiging oor die luidspreker van die lughawe dat ‘n vragvliegtuig op die punt staan om te vertrek na Bukavu -- en daar is een sitplek beskikbaar.

6.4.20

Ons soek ‘n engel vir Rapport (Deel 1 van 2)

PEET SIMONIS skryf: Om ‘n vryskut-joernalis te wees, het in die ou dae beteken jy werk nie vir een werkgewerkoerant nie, maar verkoop jou storie aan enigeen wat belang stel. Die koper het oor die algemeen volgens vaste tarief betaal – per kolom sentimeter. Vir foto’s is apart betaal.

Min vryskut-joernaliste wat ek ken, kon genoeg produseer om gemaklik te lewe en na mate koerante se lesers se belangstelling wyer en wyer gestrek het, het dit meer en meer gekos om die storie daar ver te gaan haal.

Toe ek die Rwanda volksmoord gedek het, was ek verskeie kere na die land en terug SA toe want daar was nie selfone nie. Telefone het ook nie gewerk nie.

31.3.20

Thijs was skepper oor wye front

PAUL KRUGER skryf oor die talente van sy vriend en kollega, Thijs Nel, wat Saterdag oorlede is: Thijs was op sy dag kunsredakteur van Die Vaderland, toe die grootste dagblad in die RSA.

Hy was ‘n kunstenaar van formaat en sy talente was oor ‘n wye front versprei, hy was skilder (verskeie suksesvolle kunsuitstallings deur die jare), hy was pottebakker, digter, kortverhaalskrywer, navorser en kenner van CJ Langenhoven se werk wat hy in ‘n omvattende boek saamgevat het.

30.3.20

Thijs Nel oorlede


THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland en befaamde kunstenaar, is Saterdagoggend in die versorgingseenheid van ‘n aftreeoord in Oudtshoorn oorlede, het Paul Kruger, ‘n goeie vriend en kollega van destydse laat weet. Hy was 76.

Thijs wat alleen gewoon het, het sowat ses weke gelede siek geword. Vriende wat na hom omgesien het, het hom gehelp om na ‘n aftreeoord te verhuis. Voor dit was hy nog bedrywig met keramiekwerk en het ‘n opdrag vir ‘n fontein vir iemand in Fancourt, George, voltooi. Hy het veral naam gemaak met sy skilderye en was ook skrywer en digter.

21.3.20

Wouter de Wet oorlede

Wouter de Wet, destyds Die Transvaler se kunsredakteur en vir dekades lank RSG se aanbieder van die programme “Dis Opera” en “Loof die Here” is op 9 Maart by sy huis in sy slaap oorlede.

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG skryf: "Dis met hartseer dat RSG afskeid neem van ‘n geliefde omroeper, Wouter de Wet. Hy is vroeg vanoggend (9 Maart) by sy huis oorlede ná ‘n kort siekbed. Hy het kanker gehad.

Wouter se uitsaailoopbaan strek oor 52 jaar. Dit het begin nadat hy by Die Transvaler in Johannesburg gewerk het. Wouter was ook ‘n groot tennis-ondersteuner en het vir jare lank tennis van Wimbledon in Londen uitgesaai.
Wouter het in Desember 2019 finaal uitgetree".

18.3.20

Perskor-reünie uitgestel

Weens die vrese vir die verspreiding van die Corona-virus, en veral omdat ouer mense maklik vatbaar is vir die infeksie, het die reünie-komitee besluit om die ete van Sondag 22 Maart 2020 onbepaald uit te stel. -- Harald en Aletta Pakendorf, Louise Blake en Madelaine Page

11.3.20

Western Transvaal Record palm trofee in

ENGELA (Badenhorst) KORKOWSKI skryf uit Duitsland hoe 1974 ‘n interessante jaar by die Western Transvaal Record was. Die WTR het destyds weekliks verskyn.

In Augustus 1974 het die Franse nasionale Rugbyspan met spelers soos Arturo Ortzabal en Denoit Dauga in die span, ‘n georganiseerde toer deur die opleidingsentrum van die Stilfonteinse myn gedoen en die Western Transvaal Record, het dié storie “eksklusief” gedek.

5.3.20

Happie plaas, happie stad

KARIN PRETORIUS skryf: Ek blaai deur ‘n ou foto-album vol stof opsoek na familiefoto’s. Is dit nie snaaks om nog foto-albums te besit nie? Met foto’s wat in goue of swart driehoekies vasgeplak is? Maar hoe gooi mens dit sommer weg met soveel herinneringe?

My oog val op ‘n artikel wat ek op 30 Desember 1975 op versoek van nou wyle Kitty Vermaak, vroueredaktrise van Die Vaderland, geskryf het: Happie plaas, happie stad … dit smaak beter saam.

4.3.20

Reünie, 2020

Onthou asb om teen 17 Maart 2020 te laat weet of jy en ‘n metgesel die Perskorreünie in Johannesburg gaan bywoon. Indien jy wel die uitnodiging aanvaar het en nie ‘n antwoord gekry het dat ons jou daar sal sien nie, beteken dit ons het nie jou e-pos gekry nie.

Kontakbesonderhede:
Vorige berig en padkaart HIER.

3.3.20

Kotie van Heerden oorlede

KOTIE VAN HEERDEN, een van die stigtersbestuurslede van Rapport, is in die ouderdom van 80 aan nierversaking in Alberton oorlede.

Van Heerden, saam met die koerant se destydse hoofbestuurder, Tobie Boshoff, se grootste deurbraak om die koerant se sirkulasie in die 1970's te help bou, was waarskynlik die koerant se betrokkenheid by boks.

2.3.20

Peet verklap sy geheime

PEET SIMONIS skryf: Ek sien K’rant is op soek na sy duisendste “storie”. Jare gelede het ek die eerste een geskryf toe ek die eerste weergawe van die blad op die internet begin het. (Lees die voetnota.)

As my ou vingers, wat nou byna 83 jaar oud is, nie te veel bewe nie, haal ek dalk nog die saktyd vir nommer een duisend. Beurtkrag moet net saamspeel ... en natuurlik moet die storie/s goed genoeg wees anders land dit in K’rant se snippermandjie.

26.2.20

Carl Köhler oorlede

CARL KÖHLER, boksskrywer en voormalige assistent-sportredakteur van Die Vaderland, is Donderdag in die Hospitium in Houghton, Johannesburg oorlede. Hy het pankreaskanker gehad. Carl was 82.

Een van Carl se hoogtepunte in sy loopbaan was in 1973 toe hy die boksgeveg tussen Pierre Fourie en Bob Foster om die wêreld se ligswaargewigtitel in Albuquerque, New Mexico, VSA bygewoon het. ‘n Vertelling van hom is HIER.

Winnie, Carl se vrou, vertel dat hy baie danig was oor die feit dat hy reeds ‘n oupagrootjie van ‘n tweejarige dogtertjie was.

25.2.20

K’rant se millennium-uitgawe net om die draai!

JAPIE BOSCH skryf: Byna agt jaar gelede (op 7 Mei 2012) was ‘n storie van Philip Deetlefs die eerste een wat in K’rant verskyn het. Vandag vat-vat ons aan 1 000 stories. Hierdie is storie nommer 998.

Die onstaan van K'rant het binne enkele dae soos 'n veldbrand versprei. Oudkollegas het gretig deelgeneem. Op vier na het ons in die eerste drie jaar nie minder nie as 800 stories ontvang. In die vyf jaar daarna het nog amper 200 ons bereik.

14.2.20

Pers-ID van toentertyd

FRANS WESSELS (Jr) skryf: Vanoggend verskyn daar n pop-up op my rekenaar ... daar is weer 'n storie in K’rant geplaas!

Frans Wessels
Bienkie Wessels
Ek het vining gaan loer, sien die berig oor die reunie, lees natuurlik die ouer stories ook, en sien toe die versoek op 11.11.2019 vir nog 14 stories om die millennium kerf te haal.

Ek was nie self by Perskor nie, maar het deur my ouers, Frans en Bienkie, Perskor baie goed leer ken; aldus my belangstelling in K’rant.

Oor die jare het ek baie stories gesien met name uit vanmelewe se dae; mense wat ek destyds goed geken het en met wie ons baie ondervindinge saam meegemaak het.