Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.9.22

Van Stadens onderskei hulle aan wye front

Peet van Staden
PEET EN ELISE (TOE BOTHA) VAN STADEN het binne ʼn maand ná mekaar teen Januarie 1970 by Die Vaderland begin, hy in die sportredaksie onder Gerhard Burger, sy in die vroueredaksie onder Kittie Vermaak. 

Sy was om die beurt joernalis (vroueredaksie, subs en verslaggeefster by DV en Hoofstad) en onderwyseres. Ná lang studie tussenin het sy in die akademie geëindig. 

In ʼn tyd sonder kraamverlof moes sy met elke kind se geboorte bedank en daarna ervaar dat koeranture nie kinders in ag neem nie. In die onderwys kon sy as getroude nooit ʼn permanente aanstelling kry nie. Daar was gevolglik skofte in wit onderwys, waarvan sy een verloor het omdat haar man ʼn joernalis was en daar in ʼn ander koerant ʼn berig oor die skool verskyn het, toe in bruin en uiteindelik in swart onderwys. Ná die dol jare en klipgooiery in Soweto is sy terug pers toe, waar sy later vroueredaktrise by Die Vaderland geword het voordat sy in Sarie se Randse kantoor aangestel is.

Elise van Staden

Haar meestersverhandeling was oor die koerantstylboek as verskynsel in Afrikaans waarmee sy met lof geslaag en die Marius Jooste-gedenkpenning verwerf het. 

Haar doktorale proefskrif het die toenemende aanslag teen Afrikaans as agtergrond gehad en die ekonomiese waarde van taal ondersoek. 

Al het sy nooit teruggekeer joernalistiek toe nie, het haar vaardigheid haar in Afrikaans en Engels aan die skryf gehou met akademiese artikels, handboeke en selfs liefdesverhale. 

Peet was bykans vyf jaar sportverslaggewer by DV en is toe Rapport toe, waarvan hy nou die oudste oorlewende sportskrywer is. Hy was daarna byna ses jaar sportredakteur van Die Transvaler, ʼn rukkie boekuitgewer en toe lid van die TV-nuusredaksie by die SAUK saam met Dave Viljoen, Leendert Pieterse, Frikkie van der Walt, Sandy Macdonald, Hennie Venter, Johan Pretorius, Marius Kleynhans en ʼn norring ander voormalige kollegas van Perskor en sy elemente. 

Ná ʼn jaar as nuusskrywer het hy in 1985 ʼn bulletinredakteur by die Afrikaanse redaksie geword in die bitter tyd net ná Andries Treurnicht en Fanie Botha se Stryd van die Berge, deur die P.W. Botha-gedoentes, 2 Februarie 1990, die Mandelajare tot Thabo Mbeki se bewindsaanvaarding. Die volgende dertien jaar was hy as uitvoerende regisseur diep betrokke by die stryd om Afrikaans en die uitbouing daarvan by die openbare uitsaaier, verreweg die langste skof van enige bekleder. Ná sy aftrede het hy drie jaar as vryskut radionuusbulletins saamgestel en geskryf. 

Voor en sedert sy aftrede het hy Afrikaanse fiksie geskryf en ook nie-fiksie in Afrikaans en Engels. 

Hy was ʼn voorsitter en lewenslid van die Randse Sportskrywersvereniging, lid van verskeie werksgroepe soos dié van die Wêreldvereniging vir TV en Radio vir die opstel van riglyne vir internasionale joernaliste, en die ATKV het in 2008 die Prestigetoekenning aan hom gedoen vir sy bydrae tot Afrikaanse TV-nuus. 

K’rant stel Peet en Elise in toekomstige uitgawes aan die woord.