Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.9.22

Nie vergrype nie, mense bly Peet by

 PEET VAN STADEN skryf voorts: My herinneringe is ook nie van oorvloed en vergrype nie, maar van mense.

So halfvyf een middag in 1970 loop ek Hermiena Oberholzer en Marietjie van Rooyen by die hysbak raak. Hulle was gemoedelik ná die afskeid van ons legendariese restaurantvrou tant Rosie, soos wat ons haar toe met respek moes genoem het, maar nie gedoen het nie. Party sal nog onthou dat AM van Schoor haar daar gesoengroet het.


Rosy Belily
Ek het verduidelik dat ek vroeg geloop het omdat ek ʼn binneblad moes gaan afgooi, my eerste blad: drie duim bo oor al die kolomme en ʼn enkelkolom af. Maak nie saak dat dit só ʼn bladsytjie was nie: ek wou hom die mooiste binneblad in Die Vaderland se geskiedenis maak. Amper drie ure was ʼn klein opofferinkie.

Hermiena was oudergewoonte subtiel: “Kom ek vertel jou nou, jy sal nooit ʼn koerantman se gat wees tot jy leer suip nie.”

My bietjie genetiese aanleg daarvoor het dié mediumtermynprojek gehupstoot tot ek ná ʼn week sonder vervoer in ʼn Kaapstadse vuurproef saam met lede van die eerste span in Januarie 1972 agtergekom het dat ek eintlik allergies is vir dop.

Gary en Vivian Player
Blywende doppunt vir die Hermienatoets. 

Was ek toe ooit ʼn koerantman? Wie weet? Ek het wel ʼn goeie een se ervarings beleef, veral met legendariese sportlui. Een wat altyd sal uitstaan, is ʼn week as huisgas van Gary Player in Surrey se makelaarsomgewing in Engeland. Daar kon ʼn mens hom raaknaby sien in sy omgang met Vivienne, oorwinning en nederlaag op die baan, fabelagtig ryk sakevriende en ondersteuners deur dekades. Self het ons mekaar laat uitdaag vir kaal swem in die buitenshuise swembad. ʼn Minder waardige ervaring laat Oktober in Engeland! 

Ek het onderhoude gevoer met al drie Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Wallis se Rugbyspelers van die Eeu. En met mense wat nie voorheen in Afrikaanse koerante aangehaal is of selfs mog word nie.Tog bly die klein belewenisse terugkom in dié fratstyd weens Covid, beurtkrag en aap- en politieke pokke. Hennie Lochner vertel eendag vir ʼn kollega, Heinrich Schulze, by Unisa dat ons saamwerk aan ʼn boek en dat ek ʼn sportskrywer was. Dit blyk toe dat hy navorsing doen oor destyds se Paul Roos-rugbybonde, die kleintjies op die platteland. Daar het hy toe ʼn knipsel van my scoopie uit 1970.

Jaap Swanepoel
Gerhard Burger
Jaap Swanepoel, destyds pas by Dagbreek, het met Gerhard Burger gereël dat ek Matatiele toe ry vir ʼn wedstryd tussen Suidoos-Transvaal en Natalplatteland.

Ek en Gabriel, wat hom wieg-wieg agter die stuurwiel mos nooit laat aanjaag het nie, het in ʼn nuwe 404 eers laat die Saterdagoggend daar aangekom en na ʼn gedenkwaardige deurnagkuier Sondagoggend weer in die pad geval nadat ons die Suidoosters aangery het lughawe toe. 

Vir Die Vaderland was die vrug dubbel: ʼn foto van die sneeu op die
Drakensberge wat wys waar Transvaal se koue vandaan kom was my eerste (en enigste) voorblad-hooffoto. Op die agterblad was daar ʼn beriggie dat Natalplatteland, al was hy die gasheer, nie kon bekostig om spelers van oral uit sy gebied te laat kom nie. Hoewel die besoekers per vliegtuig uit Witbank gekom het, het die Natallers stilletjies ʼn subuniespan saamgestel en in die provinsiale truie laat speel.

Gabriel Maphalala
Kwalik aardskuddend. Tog iets eie aan ʼn tyd wat – soet, suur of bitter – verby is.

Dit wys nou hoe wyd, moeitedoof en kosteblind ons toentertyd inhoud ingesamel het.

G’n wonder ons het hoofkoerante van 32 bladsye met sestig persent advertensielading uitgeryg nie. En boggherol daarvoor gekry.

Baie belangrike herinneringe vervaag. Teen wie ʼn mens destyds probeer drink of skryf het en watter prikkels agter die hakskene was, lê onder stof in ʼn databasis wat met elke volgende jaar traer oopmaak.

Harry Lombaard
Maar die mense bly jou by. Van hulle soos Willie Roux en Harry Lombaard was ʼn drie jaar of wat kollegas en soms langer mededingers, maar die vriendskappe leef al langer as alles saam. Dieselfde met mense uit mededingende persgroepe.

Selfs uit die Engelstalige pers.

My eerste senior somersbeat was gholf: negentien maande joernalis, nog nooit ʼn gholftoernooi gesien of ʼn enkele siel in die sport geken nie.

John Hildyard van die Star was my regstreekse teenstander, langer as ʼn dekade vroeër al vyf maande saam met die rugby-Springbokke Europa toe gestuur vir waarnemerservaring: nog ʼn loopbaantrappie vir een van die Argusgroep se keurlysie belowende jonges. Seker al tien jaar sportredakteur, en sewentien jaar of wat dié gholfskrywer in Johannesburg. ʼn Storie wat Buller nog nie in die Star geskryf het nie, is nog nie geskryf nie.

Mettertyd het selfs ʼn teenstander uit die sober skool die gemoedelike kuier- engeselslegende beter geleer ken. Ek moes by geleentheid oudergewoonte self sien hoe ek van Kaapstad af op Hermanus kom. Buller, met sy Arguskar, het hom oor my ontferm.

Die kuspad het ʼn bult gevat en hy het lomerig uit die agtersitplek na die hengelaars op die rotse gekyk. “There is no fish in the sea,” het hy gesê. “It all comes from tins.”

Selfs vir hom was die jaarlikse Holiday Inntoernooi in die destydse Swaziland beproewend. Ná een besonder bedrywige nag het hy met ʼn Bloody Mary voor hom en ʼn donkerbril op besluit hy moet kopie stuur. Hy het ʼn perstelegram in die tikmasjien ingerol en lank gedink. Uiteindelik stoot hy die masjien terug en sê: “Bugger it, I can’t even think of a slug.”

Ek het Buller die laaste keer by die ou Johannesburgse Buiteklub raakgeloop op pad van die dooponthaal vir ʼn kollega se kind af na die TV-nuuskantoor toe ʼn blok hoër op. Hy was toe al redakteur van die Saterdagse Star en ek gevestig in die TV-joernalistiek.

Ons het vir mekaar vertel dinge is nie meer soos toe ons nog gholf geskryf het nie. Met die groet sê hy: “No one ever scooped me as hard and as often as you did. I love you, you bugger”, gee my ʼn toe nog ongewone druk en loop.

ʼn Jaar of twee later lees ek in sy koerant hulde deur sy ou assistent, Mike Shafto, by die heengaan van “the finest bar-room raconteur of them all”. Buller se woorde het my bygebly en laat my nou nog nederig voel. Tog skryf ek dit hier, want dit getuig duideliker van hom as van my.

Ek lig my afskaffersglas vir hom. Hy het nie nodig gehad om dit vir my te sê nie.

Nie Buller Hildyard nie.