Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.12.12

Kersgroete van Bloubergstrand af …

Karin Pretorius skryf: Beste Andries (Botha) en Willie (Buys), Is julle nie twee fantastiese ouens om 'n mens na soveel jare te onthou en almal weer heuglik saam te snoer met ‘n lekker-lees en interessante K’rant nie?

Dit is 42 jaar - 'n leeftyd! - sedert ek Die Transvaler in 1971 verlaat het en dis net 'n gesoute joernalis soos jy, Andries, wat ‘n mens per e-pos al die pad tot in Bloubergstrand kan opspoor. Ek woon al die afgelope 15 jaar hier as 'n semi-"uitgetredene" en as 'n eiendomsagent, nadat ek in 1992 'n pakket van die SA Kommunikasiediens (die ou Departement van Inligting) aanvaar het. Ek was hoof van die gaste-afdeling wat min. Pik Botha se oorsese gaste vergesel het op bepaalde programme wat ons vir hulle uitgewerk het.

Ek sal graag in die nuwe jaar ietsie wil vertel van my lewe sedert 1971, asook die vier jaar as oorlogskorrespondent van 1978 - 1982 in die ou Rhodesiese bosoorlog waartydens ek toevallig onder meer Perskor se verteenwoordiger geword het. Dit was ontsettende interessante - maar ook hartseer - tye vir 'n joernalis.

Intussen wens ek al ons kollegas 'n geseënde Kerstyd toe en stuur ek vir julle hierdie groot-blink son langs Robbeneiland as Kersgeskenk om aan julle Kersboom te hang. Mag sy lig vir julle helder en warm skyn gedurende die feesgety en mag julle 2013 net so skitterend en glad verloop soos die son sy goue weg baan oor 'n spieëlgladde see verby rots en sand.

Groete uit Bloubergstrand.

(K’rant kan die wag vir daardie beloofde bydraes nie. – Red.)