Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.12.12

Earl Martin oorlede

Hendrik Martin skryf: "My pa, EARL MARTIN wat jare lank aan Perskor verbonde was, is Sondagnag op 80-jarige ouderdom in Pretoria aan 'n longinfeksie oorlede. Ek weet dat hy by die Volksblad begin werk het, later was hy onder andere by Die Transvaler/Die Vaderland en die Rooi Rose in Durban en Hoofstad in Pretoria.

Hy het ook 'n hele paar boeke geskryf, onder meer 'n roman - Swart Horison - en verskeie jeugverhale, soos Seun agter 'n Mauser en Wes van Messina.

Van sy gedigte is op universiteit aan ons as studente voorgeskryf as 'n voorbeeld van die Sestiger-beweging in die Afrikaanse letterkunde.

Ek glo hy het 'n besondere invloed op baie van sy vriende, kollegas en familie gehad. Wat my persoonlik betref, het hy 'n vormende invloed op my lewe en lewensuitkyk gehad, en sy dood kom as 'n swaar slag. Ons sal hom mis.

Hy word oorleef deur sy eggenote, Marina, twee seuns, Frits en Hendrik, en 'n dogter, Minja. Daar is ook vier kleinkinders: Sonja, Amy, Olivia-Pearl en Ruby. Sy voormalige eggenote, Wille Martin, is ook 'n skrywer en woon tans in Heidelberg."

Die begrafnis is Donderdag, 20 Desember, om 11:00 by Grobbelaars-begrafnisdienste se kapel op die hoek van Annie Botha- en Unionstraat, Riviera, Pretoria. Ek kan gekontak word by hendrik.martin1@gmail.com.