Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.12.12

Hillbrow, die Soho van Johannesburg

PIET ROOS skryf: Daardie dae in 1973, 1974 het ons klompie om en by Hillbrow gewoon. Emmie (Bornmann) Gouws in Smitstraat, Carénè Boshoff naby die toring, Marieta in Argyle en ek in Braamfontein.

Hillbrow was wonderlik. 'n Plek met lewe. Daar kon mens drie-uur in die oggend by die Porterhouse instap vir biefstuk, afgesien van Fontana wat nog nooit sy deure gesluit het nie.

Ons het uitgehang by Bella Napoli, 'n Italiaanse restaurant vir spaghetti en soms, as die kunsredakteur vir jou 'n uitnodiging gegee het, was ons by Athens by Night. Moet nie vir Taubie Kuschlick se Jacques Brel is Alive and Well in die Chelsea vergeet nie. Jy het geweet om nie heel voor te sit nie, want Ferdie Uphoff, die hysbaktegnikus wat Brel gesing het, was baie begeesterd. Hy het gesing dat die spoeg spat!!

Maar een Oujaar is ek gestuur vir ‘n atmosfeerstorie oor Hillbrow.

Atmosfeer het mos dik geloop daar en so staan ek daar skuins voor twaalf die aand op die straathoek en bekyk die mense.

Van oorkant kom ‘n man en vrou aangestap. Hulle is so laat veertigs, man effe geset en vrou mollig. Hulle klou so styf aan mekaar dat ‘n mens die spreekwoordelike Minora-lemmetjie nie tussen hulle kan inkry nie. Ek kyk terwyl hulle nader kom. Toe hulle by my kom, kyk hy vir haar en sê:

"By the way, what is your name?"