Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.9.16

Melkkoerant dra vrug

RUDIE VAN RENSBURG, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus skryf in 2013 in Bloemnuus: Dit was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat -- ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste – dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.

23.9.16

Bruce het die orrel gedraai

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Die eerste twee of drie maande gedurende ons opleiding in Hermie Hendriks se joenalisteskool het ek en Maureen Swart in die Sance Souci hotel gewoon.

Saans wanneer die son water trek, het die groot koerantbulle op die hotel toegesak om te ontspan en die dag se stories te bespreek.

Ons het hier die gesoute koerantlui bewonder en gerespekteer hoewel sommige van die snoeshane ons met snydende ironie bejeën het.

22.9.16

Johann was een van ons

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ons stap op dié stadium van ons lewe reeds in die sinkende lig en wanneer ´n oud kollega sterf word dit donker vir ´n wyle.

Johann Britz was deel van ons groepie van agt wat in die sewentiger jare in Hermie Hendriks se joernalisteskool was.

Ons was ´n klein groepie met groot planne en ambisie. Ons was jonk en het vir alles kans gesien.

Ons was deels baie verskillend, maar het EEN ding gemeen gehad. Ons wou almal skryf!

21.9.16

Nuwe naam vir Perskor-gebou maak nie sin nie

PIET EBERSÖHN skryf: Dis nou seker nie wat die Universiteit van Johannesburg wil verneem nie, maar die belaglike “hernoeming” van die ou Perskorgebou laat my sommer in my pap stik.

As hulle soveel in die geskiedenis van die gebou belanggestel het, sou hulle geweet het dat Willem de Klerk, Dirk Richard en Harald Pakendorf UIT DIE GEBOU UIT voorvegters vir die huidige bedeling was. Dis geen geheim nie en is wyd gepubliseer.

Johann se dood skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek was baie geskok toe ek vanoggend van Johann Britz se dood lees, en baie hartseer. Een van ons pelle in die joernaliste-skool.

My innige simpatie aan sy familie en vriende.

20.9.16

Johan Britz oorlede

JOHANN BRITZ, oud-Hoofstadter en een van die studente van die APB se joernalisteskool in 1970, is op 6 Augustus 2016 ná ‘n beroerte oorlede, het Anina Roux laat weet.

Johann het by ‘n aantal publikasies gewerk. Hy was onder meer ook stemkunstenaar en radio-omroeper. Berig HIER.

Kwarts-uitgewers het getwiet dat Johann verlede jaar ‘n boek Wie is Gottlieb? uitgegee het en onlangs ook 'n novelle, Blink Twice for Murder.

Frans Aucamp oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Frans Aucamp Saterdag oorlede is. Hy was ‘n deurtrapte Perskor-veteraan en was die laaste redakteur van Metro in Pretoria, wat uit die asse van Die Transvaler opgediep is.

Francois het ‘n koerant op Tzaneen, Die Bulletin, begin en die afgelope aantal jare suksesvol as eienaar/redakteur bedryf.

16.9.16

Herinneringe gesoek oor Perskor-gebou in Doornfontein

LORRAINE VILJOEN skryf: Ek het die berig in K'rant “’n Kubertoer na ou Perskor-landmerke” gelees. (Klik Hier.)

Ek is tans besig om navorsing te doen oor die Perskorgebou in Doornfontein wat 'n paar jaar gelede deur die Universiteit van Johannesburg gekoop is. Die gebou is opgeknap en word nou deur die universiteit gebruik. As deel van 'n “hernoemingsproses” is die gebou vanjaar venoem na Percy Qoboza, voormalige redakteur van The World, en Aggrey Klaaste, voormalige redakteur van Sowetan. Dit staan nou bekend as die Q/K Building.

13.9.16

Slang-passasiers om vrou op haar plek te sit

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek wat my lewe lank al 'n doodse vrees vir slange het, het toe sommer twee keer grieselrige ervarings met hulle gehad terwyl ek 'n algemene verslaggeefster by Die Vaderland was.

Oor die een wedervaring het ek reeds geskryf: Slange-hel in die wildtuin (22-5-15) Klik Hier.

Die ander een het gebeur toe ek en 'n fotograaf (ek verswyg liefs sy naam) een middag vir 'n storie in die Johannesburgse middestad was.

Hy was die dag kwaad vir sy vrou. Erg omgekrap!

5.9.16

Terreur dwing Perskor tot koerierdiens

JAPIE BOSCH skryf: Maureen (Heyl) Swart se storie oor Hoe het ons dit oorleef? het my teruggevoer na ‘n storie van Karin Pretorius in K’rant ‘n tyd gelede. Daarin vertel sy van die “beslommernis om films vanuit Rhodesië te versend”. Sy het verduidelik dat dit “die prosedure was om iemand by die Salisbury-lughawe op ‘n vlug na Johannesburg te gaan teiken wat bereid was om jou rolletjies film saam te neem en te oorhandig aan iemand van die koerant wat homself by die Lughawe Jan Smuts sou identifiseer”. LEES HIER.

Dié metode was nie net ‘n beslommernis nie, dit was ‘n onding wat dikwels groot verleentheid by Die Vaderland (en miskien ander Perskor-koerante) se verteenwoordigers in buitekantore veroorsaak het.

18.8.16

Hoe het ons dit oorleef?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Tussen ou K'rant-stories het ek een deur Joe van Buuren raakgelees: "Wat sou ek nie toe vir 'n selfoon wou gee." (Klik HIER.)

Inderdaad! En nie net vir 'n selfoon nie, maar ook die internet. Want daar was tye tydens my verslaggewerdae dat al twee nie slegs my lewe kon vergemaklik nie, maar as't ware my redding kon beteken.

Probleem was: Ná beskermende grootwordjare op Parys à la Vaalrivier, mak studentedae op Potch en daarna die geordende, rustige omgewing van 'n universiteitsbiblioteek in Pretoria, was die koerantwêreld dikwels vir my 'n genadelose plek. Voeg daarby 'n ingebore deur-die-windgeit, en menige keer het dit taamlik woes met my gegaan.

28.6.16

Wille Martin oorlede

HERMAN LE ROUX skryf: Wille Martin is Sondag op 81-jarige ouderdom in Heidelberg oorlede. Sy was een van Suid-Afrika se mees produktiewe skrywers en het meer as 200 liefdesromans en jeugverhale geskryf.

Wille is in Bethulie in die Vrystaat gebore. Wille se moeder was die bekende vroeë Afrikaanse skrywer, Minnie Postma.

Sy het ná haar skoolloopbaan ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

23.6.16

Dave Viljoen se kollegas onthou

FRANS SCHEEPERS skryf: My loopbaan in die joernalistiek het eintlik maar by Dave begin. Hy was hardegat, maar ook mens. Ek sal nooit vergeet die nagte dat ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs by sy woonstel in Alberton deurgebring het met 'n pak kaarte, 'n mandjie vol biltong, liters whisky en handevol munte rondom die pokertafel nie. Kosbare tye wat ek altyd sal koester.

Hy was maar moeilik, en ons het hom dikwels verwens. Maar ons onthou ook sy seerkry-tye, toe hy gevoel het sy persoonlike lewe stort in duie. Wie onthou nog toe wyle Grobbie sy bruid Adele letterlik onder die bruidstafel ingedans het. Dave was van die ou skool. En min van vandag se joernaliste sal weet wat dit beteken. Dankie Dave, dat ons jou kon ken. Ek drink vir oulaas 'n dubbel whiskey op jou lewe.

22.6.16

Dave Viljoen oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Dave Viljoen (links) oorlede is.

Ons het geen ander inligting nie en sal dit waardeer as iemand vir ons meer besonderhede kan gee.

Dave was 'n subredakteur by Die Transvaler en later by die SAUK.

14.6.16

Sipke onthou die onluste

SIPKE DE VRIES skryf: My vriend André de Bruyn en ek het die Soweto-onluste, en dié in Alexandra, van die begin tot die einde vir Die Vaderland gedek. Dit het só gebeur.

In die vroeë oggend van 16 Junie, ek dink dit was 'n Woensdag, was ek op kantoor in Aucklandpark toe daar berig kom daar is moeilikheid in Orlando-Wes. Ek is toe soontoe gestuur met die getroue bestuurder Gabriel Maphalala in sy wit Peugeot.

Ons ry verby die Baragwanath Hospitaal na die Orlando-polisiestasie waar 'n groot deurmekaarspul was en ons dadellik weggejaag is. Nóg Gabriel, nóg ek het eintlik besef wat aan die gang was. Toe ons verby die Orlando-Wes-hoërskool ry, word ons toegesak deur 'n groot groep skoliere wat aan Gabriel se Peugeot begin ruk het.

13.6.16

Wie onthou die Soweto-onluste?

Donderdag is dit 40 jaar gelede dat die Soweto-onluste van 1976 begin het. Die amptelike dodesyfer was 176, maar sommiges sê tot 700 is dood. Lees Wikipedia HIER.

Ons weet byna elke koerant het verslaggewers en fotograwe gestuur om oor hierdie stories te skryf en foto's te neem. Ons wil graag weet wie van ons lesers het destyds die onluste gedek en vir wie en in watter rol? Wat was die interessanthede wat jy vandag nog onthou en wat dalk nie destyds gepublliseer is nie?

10.6.16

Wat het van Jan van Vreden geword?

STOFFEL MYNHARDT skryf: Ek het K'rant pas vir die eerste keer onder oë gehad en lekker gelees oor al my destydse kollegas – en 'n traan gestort oor dié wat onlangs heengegaan het (onlangs ook Hans Lombard wat ek oor baie jare goed geken en beleef het).

Ek was in die jare sestig hoofsub by Die Vaderland, in die 70's nuusredakteur by Hoofstad voordat ek die openbare skakelwese en later korporatiewe uitgewery betree het.

In 2005 het ek afgetree en ek woon tans in 'n aftree-oord in Centurion. Ek is nog aktief en hoop om eersdaags self 'n paar bydraes oor die ou dae in te stuur.

9.6.16

Bienkie was 'n Grote in die SA joernalistiek

MARTIE RETIEF MEIRING skryf: Bienkie was ‘n “grote” in die joernalistiek.Sy het ’n styl gehad wat min skrywers kon nadoen.

Dis die moeite werd om haar ou “By my venster verby”-rubrieke te lees. Haar dood is hartseernuus, so gou na Hans Lombard, haar groot vriend, se dood.

Min mense kon so gul glimlag soos Bienkie! En so lekker lag.

8.6.16

Bienkie laat 'n leemte

MARGARET LOMBARD skryf: Bienkie Wessels – sy van die fyn woordkuns, die gul glimlag en die heerlike humorsin – is Maandag, 6 Junie by haar huis in Parktown-Noord oorlede.

Ek het Bienks (soos ek haar meestal genoem het) in Mei 1971 ontmoet toe ons albei by Lindsay Smithers Skakelkonsultante gewerk het.

Ten spyte van ‘n ouderdomsgaping van 22 jaar het ons dadelik ge-“kliek”. Lees, skryf, reis en die teater was van ons vele gedeelde vreugdes.