Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.9.16

Melkkoerant dra vrug

RUDIE VAN RENSBURG, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus skryf in 2013 in Bloemnuus: Dit was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat -- ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste – dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

Mense sluk swaar daaraan wanneer ons vertel dat ons die koerant destyds met net R60 begin het. Maar dit is die heilige waarheid. Die advertensie-inkomste moes die drukker betaal en aan ons ’n salaris verskaf. Dit was iets wat ons elke maand net-net vermag het (al het my salaris nie altyd my huisverband gedek nie). Ons het nooit skuld gemaak nie, maar baie selde iets anders as brood geëet.

Ons het 10 000 koerante by huise deur ’n melkverspreider op Vrydae saam met ’n bottel melk laat aflewer (in ruil vir ’n R75-advertensietjie van die melkverspreider op die voorblad). Gou sou ons as die “melkkoerant” bekend staan. Die oorblywende
2 000 koerante van die destydse 12 000-oplaag het ons self by kafees en sakeondernemings gaan aflewer.

Ons het Bloemnuus uit ’n nederige vertrek in ’n woonhuis in die stad bedryf. ’n Bedompige buitekamertjie was die donkerkamer vir die ontwikkeling van foto’s.

Ons het die verantwoordelikheid van die redaksionele inhoud, die taalversorging van mekaar se berigte, die bladuitleg, die proefleeswerk, die werwing en uitlê van advertensies (dit was ’n pyniging), die neem van foto’s en ontwikkeling daarvan, die skakelbordverpligtinge en die finansiële administrasie van die koerant alles self behartig. Hier en daar het ons vrouens darem gehelp, maar ons was sewe dae van die week minstens twaalf uur van elke dag besig. Om vir onsself te werk het skielik ’n nuwe, minder opwindende betekenis gekry.

Ons passie het by die redaksionele kant van die koerant gelê. As gewese joernaliste van Volksblad het ons geweet al die stad se nuus het nie die dagblad gehaal nie. Daar was ’n yslike gaping vir plaaslike Bloemfonteinse nuus. Maar ons wou ook ’n bietjie skop aan ons koerant gee – dit moes nie sommer net ’n doodgewone plaaslike koerantjie wees nie.


Ons het die heilige koeie in die stad aangevat. Kom ons noem dit nou maar by die naam: Soms was ons op die rand van ware sensasie-joernalistiek. Sommer in ons eerste uitgawe het ons hoofstorie die Vrystaatse rugbybase van destyds so die josie in gehad dat ons die persbank in die Vrystaat-stadion en die unie se rugbykantore verbied is.

Ná die eerste paar uitgawes het ’n hele paar vooraanstaande stadsvaders rooi gesien oor dié “vermetele skinderkoerant”.

Toe een van die rykste sakemanne in die stad oor die foon vir een van ons gil: “Ek sleep julle hof toe as julle een woord daaroor skryf”, het ons dáárdie spesifieke woorde as inlei-sin gebruik vir dié onthullende berig. Ons het deurentyd op die voorstoep van die hof geboer (my prokureursbroer het sy hande soms vol gehad om ons uit die moeilikheid te kry), maar die koerant het Bloemfonteiners minstens aan die praat gehou.

Hanlie Retief
Nico Luwes
Soms het ons gasskrywers gekry om mee te werk (natuurlik sonder betaling). Drie wat onder meer in die begindae geesdriftig gehelp het, was Nico Luwes, nou professor en hoof van die departement drama van die Kovsies, Hanlie Retief, bekende skrywer en joernalis van Rapport wat toe nog ’n kommunikasiekundestudent was en wyle David van der Merwe, later ’n bekende Bloemfonteinse neurochirurg.

Advertensies het begin instroom en ons finansiële sake het rigting kry – in so ’n mate dat die Perskor- groep ’n jaar later ’n 76%-aandeel van Bloemnuus by ons gekoop het. Skielik het ons die luukse van kantore in die stad gehad, kon ons advertensiewerwers aanstel en het ons tien uur per dag pleks van twaalf begin werk.

Ons kon selfs bekostig om nou en dan ’n vleisie te braai en het soos multi-miljoenêrs gevoel.

Dat Bloemnuus een-en-dertig jaar later steeds die stad met nuus bedien, is vir ons ’n wonderlike getuigskrif dat ons bloedsweet van destyds nie tevergeefs was nie.

► Rudie van Rensburg het sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad begin. In 1982 word hy medestigter en uitgewer van Bloemnuus en later redakteur van die saketydskrif, Die Ekonoom. In 1987 verhuis hy Kaap toe en sluit hom by Sanlam se reklame-afdeling aan. In 2008 is sy komedie, Die Begrafnis, by die KKNK met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste dramaturg) bekroon. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie vir kleuters, Die Doempies van Tafelberg. Hy skilder die afgelope 25 jaar en van sy werk is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, Amerika, Duitsland, Brittanje en Australië.