Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.6.16

Sipke onthou die onluste

SIPKE DE VRIES skryf: My vriend André de Bruyn en ek het die Soweto-onluste, en dié in Alexandra, van die begin tot die einde vir Die Vaderland gedek. Dit het só gebeur.

In die vroeë oggend van 16 Junie, ek dink dit was 'n Woensdag, was ek op kantoor in Aucklandpark toe daar berig kom daar is moeilikheid in Orlando-Wes. Ek is toe soontoe gestuur met die getroue bestuurder Gabriel Maphalala in sy wit Peugeot.

Ons ry verby die Baragwanath Hospitaal na die Orlando-polisiestasie waar 'n groot deurmekaarspul was en ons dadellik weggejaag is. Nóg Gabriel, nóg ek het eintlik besef wat aan die gang was. Toe ons verby die Orlando-Wes-hoërskool ry, word ons toegesak deur 'n groot groep skoliere wat aan Gabriel se Peugeot begin ruk het.

Gabriel Maphalala
Gabriel het saggies met hulle gepraat en baie stadig deur die menigte bly ry. Toe ons deur is, wou Gabriel nie verder daar bly nie en is ons terug kantoor toe. Daar het ek ná oorleg met die nuusredakteur 'n ander motor bespreek; dit was die Peugeot met die radiotelefoon, en ek het vir André gevra om saam te kom.

Ons het ons kameras saamgevat en om die een of ander rede geen fotograaf saamgeneem nie. Terug in Soweto, nog voor die padblokkades opgerig is, het ons begin rondry en net brande en menigtes gesien, veral in Orlando, Jabulani en Phefeni. Daar was nie 'n biersaal, munisipale gebou of enige owerheidsgebou wat nie gebrand het nie.

In die vroeë stadium was daar ook nog nie soveel polisie nie. Later die middag of miskien vroegaand het André en ek fotorolletjies gaan aflewer en kopie geskryf. Toe het ons by André se huis 'n 'fullface' motorfiets-helm, 'n windbuks en 'n paar bottels sterk drank gaan haal.

André de Bruyn
Ná donker is ons langs agterpaadjies, want nou was daar orals padblokkades, terug in 'n brandende Soweto. Ons het orals rondgery, by polisiestasies -- nou agter sandsakke -- gaan kyk, en beskryf wat aangaan.

Ons is hier en daar ook lelik gedreig, die omgewing was eintlik lewensgevaarlik, terwyl André bestuur met sy helm op terwyl ek waar nodig as die mense te naby kom, my windbuks uit die passasiersvenster gewys het. André het die helm gedra sodat hy kon bly bestuur as die vensters stukkend gegooi word. Ons het seker soos 'n Mad Max-outfit gelyk. Dat ons nie daar vankant gemaak is nie, verbaas my vandag nog.

So het ek en André die volgende paar dae en nagte binne-in Soweto gebly en partykeer 'n bietjie sop by van die beleërde polisiestasies gekry. Ook het ons op 'n manier filmrolletjes by André se vriendin Louise Blake gekry wat dit weer kantoor toe geneem het. Teen die Saterdag was ons ook nog na Alexandra toe waar meegaande foto van ons geneem is. Die Sondagmiddag, as ek reg onthou, is ons uit hierdie gebiede. Dit was, in Douglas Jones se woorde, baie ''hairy" en dit was koud, baie koud.

André de Bruyn met die donker bril en Sipke de Vries met die baard
tydens die onluste in Soweto by 'n uitgebrande motor afgeneem.
Ek het so twee jaar later toe ek by The Citizen was, die Cilliers-verslag oor die onluste in hande gekry. Dit was twee volumes dik en baie goed geskryf. Na wat ek onthou, is daar landwyd 1 075 mense dood in die onluste, volgens die verslag. Dit was oor 'n tydperk van drie weke of 'n maand. Onthou dit was nie net in Soweto en Alexandra nie.

André de Bruyn is jare later in Oshakati doodgeskiet. Ek mis hom nou nog.