Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.9.16

Slang-passasiers om vrou op haar plek te sit

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek wat my lewe lank al 'n doodse vrees vir slange het, het toe sommer twee keer grieselrige ervarings met hulle gehad terwyl ek 'n algemene verslaggeefster by Die Vaderland was.

Oor die een wedervaring het ek reeds geskryf: Slange-hel in die wildtuin (22-5-15) Klik Hier.

Die ander een het gebeur toe ek en 'n fotograaf (ek verswyg liefs sy naam) een middag vir 'n storie in die Johannesburgse middestad was.

Hy was die dag kwaad vir sy vrou. Erg omgekrap!

Terwyl ons met die terugrit by 'n troeteldierwinkel verbyry, stadig in die stadsverkeer, wou hy skielik daar ingaan. Die motor was nog nie eens behoorlik geparkeer nie, toe's hy al uit, voor ek kon vra wat hy daar wou maak. (Destyds was straatparkering in die middestad geen probleem nie - volop parkeerplek.)

En daar sit ek - ewe niksvermoedend saam met die motorbestuurder in 'n Perskor-Peugeot en wag.

Nie hoe lank nie, toe skuif die fotograaf langs my op die agterste sitplek in. Skoendoos in die hande. Met 'n deksel toegemaak en klein gaatjies aan die kante. "Slange," het hy verduidelik. Hy wou sy vrou skrikmaak.

Slange!

Klein, groot, troeteldier (?), wild; maak nie saak nie - ek kan omtrent nie eens na foto's van hulle kyk nie, so bang is ek. In een beweging was ek bo-oor die voorste sitplek se rugleuning tot byna bo-op die paneelbord.

Daar het ek vir lewe en dood vasgeklou nes 'n reënspinnekop teen 'n muur. En die heeltyd, terwyl ons ry, kon ek die reptieletjies teen die karton hoor pik-pik en doef-doef. 'n Nagmerrie!

Ek dink ek het aanhoudend vir die fotograaf gegil: "Druk die deksel vas! Druk die deksel vas!" Ek wou uitspring, iewers heen vlug - enige plek. Met 'n bus ry.

Wat ek weliswaar gedoen het. Die oomblik toe ek tot verhaal kom (net effens), het ek by die eerste die beste stilhouplek uit die motor geskarrel en vir 'n bushalte gemik. Slange as medepassasiers? G'n manier nie!

Ook maar goed daar het destyds baie busse van die stad af in Perskor se rigting gery, kort na mekaar.

Ek wens ek kan onthou wie die motorbestuurder was, want hy verdien 'n medalje en yslike dankie-sê. In teenstelling met my histeriese paniek, het hy kalm gebly en behendig bestuur. Eintlik het die rit nie lank geduur nie -- vier, vyf straatblokke ver. Skaars begin toe's dit verby, maar vir my was dit 'n ewigheid.

Weke daarná het ek elke keer as ek vir 'n storie moes uitgaan, "gebid" dat die fotograaf tog net nie daai ou sou wees nie!

Later het ek na hofverslaggewing geskuif, waar die geordende regsomgewing my soos my eie voetspore gepas het.