Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.8.16

Hoe het ons dit oorleef?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Tussen ou K'rant-stories het ek een deur Joe van Buuren raakgelees: "Wat sou ek nie toe vir 'n selfoon wou gee." (Klik HIER.)

Inderdaad! En nie net vir 'n selfoon nie, maar ook die internet. Want daar was tye tydens my verslaggewerdae dat al twee nie slegs my lewe kon vergemaklik nie, maar as't ware my redding kon beteken.

Probleem was: Ná beskermende grootwordjare op Parys à la Vaalrivier, mak studentedae op Potch en daarna die geordende, rustige omgewing van 'n universiteitsbiblioteek in Pretoria, was die koerantwêreld dikwels vir my 'n genadelose plek. Voeg daarby 'n ingebore deur-die-windgeit, en menige keer het dit taamlik woes met my gegaan.

Frans du Toit
Een oggend, in die vroeë sewentigerjare, het nuusredakteur Frans du Toit dit goed gedink om my uit te stuur vir 'n storie oor die ou Irene-kerk wat dié dag gesloop sou word.

"Weet jy waar die Irene-kerk is?" wou hy weet.

Hoekom vra die man my nou so iets? het ek gedink. Nat-u-u-urlik weet ek waar dit is.

Len Gallagher
In een van die motorpoel-Peugeots is ek en 'n fotograaf toe daar weg. Len Gallagher, dink ek.

Ons ry en ons ry en oplaas ry ons Irene binne. Toe nog 'n klein dorpie, want dit was lank voordat grys hare die nuwe sexy geword het.

Met die nuuskierigheid van 'n kameelperd kyk ek dadelik rond om te sien of ek nie dalk stofwolke in die lug sien opstyg nie. Ek spits my ore vir die gedreun van swaar slopingsmasjinerie, miskien plofstof ook.

Maar niks van hierdie aard nie.

Straat op en straat af ry ons. Vra vir die enkelinge wat verbykom waar die Irene-kerk is, of die kerk wat gesloop word. Vriendelike glimlagte en koppe wat ontkennend skud. Nee, niemand weet van so 'n plek nie.

Ons word wel na ander kerke op die dorp verwys, en telkens as dit gebeur, maak hoop en verwagting
bokspronge al met die pad vooruit. Net om soos 'n dooie plank neer te kletter elke keer as ons by 'n kerk aankom - en hy staan stewig en onverstoord in sy fondasie. Nêrens soveel as 'n pik of 'n graaf of 'n hamer in sig nie.

Baie jare later het ek op die internet gelees dat Irene 'n boomryke dorp is. Helaas, van al hierdie bome onthou ek niks. My herrinnering aan dié voorstad is beperk tot 'n beangste soektog deur die strate. Terwyl druktyd al hoe nader kom.

Toe die hol-kol-op-die-maag-besef: Die gebou wat ek soek, is nie hier nie!

O, die skok! Die paniek!

Nadat nog kosbare tyd vermors was, het ons naderhand 'n kafee gevind, waar ek die telefoon kon gebruik om die kantoor te bel en te verduidelik. Wat Frans du Toit se reaksie was, kan/wil ek nie onthou nie.

Uiteindelik het ons wel die Irene-kerk gevind. Teen dié tyd reeds 'n puinhoop. Toe glad nie eens baie ver van die persgebou in Aucklandpark af nie, hoor. Dit was rêrig nie nodig om na die verste uithoeke te reis om hier uit te kom nie.

Terug by my lessenaar, het ek in 'n telefoon-onderhoud met 'n dominee uitgevind dat die Irene-kerk eintlik 'n groot rol in die Johannesburgse geskiedenis gespeel het. Maar as nuweling in die stad was ek nog nie hiervan bewus nie.

Wat Irene betref? Nou ja, ek het van die dorp geweet en toe sommer halsoorkop aanvaar dat die Irene-kerk op Irene hoort. Maak mos sin.

Ai, hoe anders sou daardie dag nie verloop het as ek al die wonderbaarlike tegnologiese goeters van vandag tot my beskikking kon hê nie! Om maar net enkele voorbeelde te noem:

Op die internet sou ek vroegtydig die nodige agtergrond oor die kerk kon navors. Met die klik van 'n rekenaar-muis of die tik van 'n vingerpunt teen 'n elektroniese glasskerm, sou ek binne 'n oogwink op 'n padkaart kon sien presies waar die plek geleë was; met 'n gepaard gaande foto (straataansig) van die gebou. Ek sou tot kon uitvind hoe lank die rit sou duur, van die vertrekpunt af tot by die bestemming. Ongelooflik! En sou ek dan nietemin - ná dit alles - om die een of ander duistere rede steeds op Irene beland het, kon ek die redaksiekantoor sommer gou-gou op my selfoon kontak. G'n tydrowende geskarrel vir 'n kafee-foon nie!

Ag, die moontlikhede van dinge wat dié dag - danksy die hedendaagse tegnologie - beter of anders of vinniger kon verloop, is heeltemal te veel om op te noem.

Hoe het ons dit oorleef? Die tyd voor internet en selfone, skootrekenaars, tablette en 'n navigasiestelsel in die motor. Laasgenoemde verwys natuurlik na daai vrou wat in jou kar praat. O, sy sou ons darie dag hel gegee het!