Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.8.16

Hoe het ons dit oorleef?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Tussen ou K'rant-stories het ek een deur Joe van Buuren raakgelees: "Wat sou ek nie toe vir 'n selfoon wou gee." (Klik HIER.)

Inderdaad! En nie net vir 'n selfoon nie, maar ook die internet. Want daar was tye tydens my verslaggewerdae dat al twee nie slegs my lewe kon vergemaklik nie, maar as't ware my redding kon beteken.

Probleem was: Ná beskermende grootwordjare op Parys à la Vaalrivier, mak studentedae op Potch en daarna die geordende, rustige omgewing van 'n universiteitsbiblioteek in Pretoria, was die koerantwêreld dikwels vir my 'n genadelose plek. Voeg daarby 'n ingebore deur-die-windgeit, en menige keer het dit taamlik woes met my gegaan.

28.6.16

Wille Martin oorlede

HERMAN LE ROUX skryf: Wille Martin is Sondag op 81-jarige ouderdom in Heidelberg oorlede. Sy was een van Suid-Afrika se mees produktiewe skrywers en het meer as 200 liefdesromans en jeugverhale geskryf.

Wille is in Bethulie in die Vrystaat gebore. Wille se moeder was die bekende vroeë Afrikaanse skrywer, Minnie Postma.

Sy het ná haar skoolloopbaan ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

23.6.16

Dave Viljoen se kollegas onthou

FRANS SCHEEPERS skryf: My loopbaan in die joernalistiek het eintlik maar by Dave begin. Hy was hardegat, maar ook mens. Ek sal nooit vergeet die nagte dat ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs by sy woonstel in Alberton deurgebring het met 'n pak kaarte, 'n mandjie vol biltong, liters whisky en handevol munte rondom die pokertafel nie. Kosbare tye wat ek altyd sal koester.

Hy was maar moeilik, en ons het hom dikwels verwens. Maar ons onthou ook sy seerkry-tye, toe hy gevoel het sy persoonlike lewe stort in duie. Wie onthou nog toe wyle Grobbie sy bruid Adele letterlik onder die bruidstafel ingedans het. Dave was van die ou skool. En min van vandag se joernaliste sal weet wat dit beteken. Dankie Dave, dat ons jou kon ken. Ek drink vir oulaas 'n dubbel whiskey op jou lewe.

22.6.16

Dave Viljoen oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Dave Viljoen (links) oorlede is.

Ons het geen ander inligting nie en sal dit waardeer as iemand vir ons meer besonderhede kan gee.

Dave was 'n subredakteur by Die Transvaler en later by die SAUK.

14.6.16

Sipke onthou die onluste

SIPKE DE VRIES skryf: My vriend André de Bruyn en ek het die Soweto-onluste, en dié in Alexandra, van die begin tot die einde vir Die Vaderland gedek. Dit het só gebeur.

In die vroeë oggend van 16 Junie, ek dink dit was 'n Woensdag, was ek op kantoor in Aucklandpark toe daar berig kom daar is moeilikheid in Orlando-Wes. Ek is toe soontoe gestuur met die getroue bestuurder Gabriel Maphalala in sy wit Peugeot.

Ons ry verby die Baragwanath Hospitaal na die Orlando-polisiestasie waar 'n groot deurmekaarspul was en ons dadellik weggejaag is. Nóg Gabriel, nóg ek het eintlik besef wat aan die gang was. Toe ons verby die Orlando-Wes-hoërskool ry, word ons toegesak deur 'n groot groep skoliere wat aan Gabriel se Peugeot begin ruk het.

13.6.16

Wie onthou die Soweto-onluste?

Donderdag is dit 40 jaar gelede dat die Soweto-onluste van 1976 begin het. Die amptelike dodesyfer was 176, maar sommiges sê tot 700 is dood. Lees Wikipedia HIER.

Ons weet byna elke koerant het verslaggewers en fotograwe gestuur om oor hierdie stories te skryf en foto's te neem. Ons wil graag weet wie van ons lesers het destyds die onluste gedek en vir wie en in watter rol? Wat was die interessanthede wat jy vandag nog onthou en wat dalk nie destyds gepublliseer is nie?

10.6.16

Wat het van Jan van Vreden geword?

STOFFEL MYNHARDT skryf: Ek het K'rant pas vir die eerste keer onder oë gehad en lekker gelees oor al my destydse kollegas – en 'n traan gestort oor dié wat onlangs heengegaan het (onlangs ook Hans Lombard wat ek oor baie jare goed geken en beleef het).

Ek was in die jare sestig hoofsub by Die Vaderland, in die 70's nuusredakteur by Hoofstad voordat ek die openbare skakelwese en later korporatiewe uitgewery betree het.

In 2005 het ek afgetree en ek woon tans in 'n aftree-oord in Centurion. Ek is nog aktief en hoop om eersdaags self 'n paar bydraes oor die ou dae in te stuur.

9.6.16

Bienkie was 'n Grote in die SA joernalistiek

MARTIE RETIEF MEIRING skryf: Bienkie was ‘n “grote” in die joernalistiek.Sy het ’n styl gehad wat min skrywers kon nadoen.

Dis die moeite werd om haar ou “By my venster verby”-rubrieke te lees. Haar dood is hartseernuus, so gou na Hans Lombard, haar groot vriend, se dood.

Min mense kon so gul glimlag soos Bienkie! En so lekker lag.

8.6.16

Bienkie laat 'n leemte

MARGARET LOMBARD skryf: Bienkie Wessels – sy van die fyn woordkuns, die gul glimlag en die heerlike humorsin – is Maandag, 6 Junie by haar huis in Parktown-Noord oorlede.

Ek het Bienks (soos ek haar meestal genoem het) in Mei 1971 ontmoet toe ons albei by Lindsay Smithers Skakelkonsultante gewerk het.

Ten spyte van ‘n ouderdomsgaping van 22 jaar het ons dadelik ge-“kliek”. Lees, skryf, reis en die teater was van ons vele gedeelde vreugdes.

7.6.16

Bienkie Wessels verloor stryd teen kanker

Frans Wessels skryf: My ma, BIENKIE WESSELS, is Maandag oorlede ná n lang stryd met kanker.

Reëlings ivm die roudiens sal aan julle gestuur word.

Bienkie was 'n kranige koerant- en tydskrifjoernalis; die skrywersbloed het dik deur haar are geloop.

Sy was ook 'n getroue K'rant-leser, en het graag op die hoogte gebly van al haar oudkollegas se doen en late.

Ongelukkig moes sy die laaste reünie misloop agv haar verswakte gesondheid.

Sy gaan 'n groot leemte laat, sowel in haar vriendekringe as die joernalistieke wêreld.

31.5.16

Neil Steyn oorlede

Nog `n Perslegende, NEIL STEYN, is Maandagmiddag oorlede.

Neil was sportredakteur van Hoofstad en later van Transvaler. Hy het as assistent-redakteur van albei koerante gedien. -- Piet Ebersöhn.

(Foto sowat 40 jaar gelede geneem. -- Red.)

SKRYF … siel-salf vir die treur

JASPER SCHELLINGERHOUT (voormalige hoofsub by Die Vaderland en daarna dominee van die Evangelies Gereformeerde Kerk) skryf: Flenters van die Ewigheid, die boek van KOOS BOTHA oor die verlies van sy kosbare kinders (berig HIER), het my laat teruggryp na hoe ek ook deur te skryf, doodsmart draagliker help maak het. Nie dat ek enigsins meen my verlies naby gekom het by wat kollega Koos beleef het nie. Dalk beteken die onderstaande iets vir die treuendes van oudkollegas Piet Roos, Hans Lombard en al die ander. (Hierby sluit ons in Danie Malan, Mack van der Walt en almal wat op die Vergeet-nie-lys is - Red)

24.5.16

Laaste onderhoud met veteraan-joernalis Hans Lombard

PEET SIMONIS skryf: Hans Lombard het Donderdagoggend gesterf toe hy op Bothaville, waar hy die Nampo-Oesdag bygewoon het, skielik in die nag doodsbenoud geword en die asmapompie nie meer kon help nie.

Magriet (sy vrou): “Ek het geweet dis die einde. ‘Dis reg Hans, jy kan maar gaan -- ek sal OK wees’," het ek vir hom gefluister en sag die liedjie Nader My God by U vir hom geneurie. Hy het in my arms gesterf.

Hans Lombard het in April 90 geword. Hy en Magriet (eintlik Margaret maar hy het haar Magriet genoem en sy wil so genoem word) was 41 jaar getroud. Hy het een seun (Paul) gehad uit sy eerste huwelik en hy is ook onlangs oorlede.

23.5.16

Hans Lombard se diens more


Klik HIER vir 'n padkaart. 
Speel met die muis om die kaart te beweeg en groter of kleiner te maak.

20.5.16

Hans was nuushond soos min

MARTIE MEIRING skryf: Hans Lombard se dood is ongelooflike hartseer nuus. Hy was ‘n legende en sal sekerlik ook baie lank onthou (en geëer) word vir sy nuushond-talent. Dat hy juis by Nampo sou doodgaan, klink amper of Hans dit self so wou gehad het dat hy in die tuig sou sterf.

Dankie Hans vir die groot vriendskap en dankie Margaret dat jy Hans se beste was. Hy sal ook altyd onthou word vir die ewige gentleman wat hy was.

19.5.16

Perslegende oorlede

Een van die legendes van die Afrikaanse joernalistiek, Hans Lombard, is om 02:00 vanoggend by die Nampo-oesfees op Bothaville oorlede.

Hy het op 8 April sy 90ste verjaardag herdenk en het nog vol in die tuig gestaan met die bedryf van sy eie skakelonderneming.

Sy vrou, Margaret, laat weet hy het van benoudheid wakker geword, vir sy asmapompie gevra en is byna onmiddellik daarna oorlede.

11.5.16

Danie Malan oorlede

DANIE MALAN, oudkollega van Die Transvaler, is vroeër vandeesmaand in sy slaap aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy was die eksman van Lala Wahl.

Danie was 'n saggeaarde gentleman. Hy het hard gespeel en hard gewerk en was bemind onder sy kollegas.

10.5.16

Aanwysings na Piet Roos se gedenkdiens

Kaart na NG Kerk, Florauna, Pretoria-Noord waar Piet Roos se gedenkdiens op Donderdag, 12 Mei 2016 gehou word. KLIK HIER. Klik die linkerknop op jou muis en beweeg die kaart.

6.5.16

Piet Roos dood op pad na sy huweliksherdenking

PEET SIMONIS skryf: Piet (“Pille”) Roos (68) en sy vrou Chrisna was in die Kaap om hulle elfde huweliksherdenking te vier toe hy verlede Saterdag verongeluk het.

Van Chrisna se nekwerwels en ribbe is gekraak en sy het ander beserings opgedoen, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan en terug by hul huis in Pretoria.

Sy sê haar hele lyf is blou en seer. sy kan niks van die ongeluk onthou nie – net dat hulle van Bloubergstrand af op pad Stellenbosch was.

1.5.16

Piet Roos oorlede

PIET ROOS, oud-Vaderlander, is Saterdagmiddag in 'n padongeluk naby Stellenbosch oorlede. Sy vrou, Chrisna, is in die Mediclinic, Stellenbosch opgeneem. Volgens 'n vriend van Piet het 'n geldwa 'n ander vragmotor op 'n sperstreep verby gesteek en 'n kop-aan kop-botsing veroorsaak.

Piet was 'n lewenslustige en joviale mens. Nadat hy die joernalistiek verlaat het, het hy aptekerswese studeer.  Hy het 'n apteek in Pretoria-Noord gehad.  Dié beroep het hom die bynaam van "Piet Pille" by sy Perskorkollegas besorg.