Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.3.20

Kotie van Heerden oorlede

KOTIE VAN HEERDEN, een van die stigtersbestuurslede van Rapport, is in die ouderdom van 80 aan nierversaking in Alberton oorlede.

Van Heerden, saam met die koerant se destydse hoofbestuurder, Tobie Boshoff, se grootste deurbraak om die koerant se sirkulasie in die 1970's te help bou, was waarskynlik die koerant se betrokkenheid by boks.

2.3.20

Peet verklap sy geheime

PEET SIMONIS skryf: Ek sien K’rant is op soek na sy duisendste “storie”. Jare gelede het ek die eerste een geskryf toe ek die eerste weergawe van die blad op die internet begin het. (Lees die voetnota.)

As my ou vingers, wat nou byna 83 jaar oud is, nie te veel bewe nie, haal ek dalk nog die saktyd vir nommer een duisend. Beurtkrag moet net saamspeel ... en natuurlik moet die storie/s goed genoeg wees anders land dit in K’rant se snippermandjie.

26.2.20

Carl Köhler oorlede

CARL KÖHLER, boksskrywer en voormalige assistent-sportredakteur van Die Vaderland, is Donderdag in die Hospitium in Houghton, Johannesburg oorlede. Hy het pankreaskanker gehad. Carl was 82.

Een van Carl se hoogtepunte in sy loopbaan was in 1973 toe hy die boksgeveg tussen Pierre Fourie en Bob Foster om die wêreld se ligswaargewigtitel in Albuquerque, New Mexico, VSA bygewoon het. ‘n Vertelling van hom is HIER.

Winnie, Carl se vrou, vertel dat hy baie danig was oor die feit dat hy reeds ‘n oupagrootjie van ‘n tweejarige dogtertjie was.

25.2.20

K’rant se millennium-uitgawe net om die draai!

JAPIE BOSCH skryf: Byna agt jaar gelede (op 7 Mei 2012) was ‘n storie van Philip Deetlefs die eerste een wat in K’rant verskyn het. Vandag vat-vat ons aan 1 000 stories. Hierdie is storie nommer 998.

Die onstaan van K'rant het binne enkele dae soos 'n veldbrand versprei. Oudkollegas het gretig deelgeneem. Op vier na het ons in die eerste drie jaar nie minder nie as 800 stories ontvang. In die vyf jaar daarna het nog amper 200 ons bereik.

14.2.20

Pers-ID van toentertyd

FRANS WESSELS (Jr) skryf: Vanoggend verskyn daar n pop-up op my rekenaar ... daar is weer 'n storie in K’rant geplaas!

Frans Wessels
Bienkie Wessels
Ek het vining gaan loer, sien die berig oor die reunie, lees natuurlik die ouer stories ook, en sien toe die versoek op 11.11.2019 vir nog 14 stories om die millennium kerf te haal.

Ek was nie self by Perskor nie, maar het deur my ouers, Frans en Bienkie, Perskor baie goed leer ken; aldus my belangstelling in K’rant.

Oor die jare het ek baie stories gesien met name uit vanmelewe se dae; mense wat ek destyds goed geken het en met wie ons baie ondervindinge saam meegemaak het.

12.2.20

Reünie 2020: geborg deur Dagbreektrust

Dis weer tyd vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens).

Margaret 
Lombard
Margaret Lombard het besluit om die tuig as komiteelid neer te lê. Ons bedank haar vir haar werk met ons finansies en skakeling met die restourant.

Madelaine Page het ingestem om by die komitee aan te sluit. Die komitee, onder leiding van ons voorsitter Harald Pakendorf, en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om die funksie weer by die Irish Rock-restourant te hou.

7.1.20

R300 miljoen se "scoop"

MARIUS DU PLOOY skryf: Ek waarborg nie dat ek alles 100% onthou soos dit was nie. Dit was Maart 1978 toe ek die Sondagoggend by Die Transvaler ‘n oproep van ‘n informant kry. (Dit klink altyd so belangrik om van "my informant" te praat. So asof ek êrens uit ‘n James Bond-fliek kom.)

Hy vertel my toe dat daar ‘n reuse-diamantontdek is by die Premiermyn noord van Pretoria, maar dat niemand ‘n woord daaroor rep nie.

17.12.19

Jaareinde op hande

Nou ja toe, daar is nog ‘n jaar verby. Was nie woes opwindende jaar nie, maar K’rant het oorleef met so hier en daar ‘n vars storie wat in ons mandjie beland het.

Dankie aan al die bydraers en lesers van die afgelope jaar. Ons kort nog agt stories om aan K’rant millennium-status toe te ken. Dit is die onmiddellike uitdaging vir 2020.

Die komkommers is op die land en K’rant se redaksie gaan ook bietjie uitspan tot vroeg volgende jaar.

Ons wens al ons lesers ‘n vreugdevolle en geseënde Kerstyd toe en ‘n voorspoedige 2020 wat vol heerlike verrassings sal wees! -- Redakteur.

11.12.19

Jan Swanepoel oorlede

Jan Swanepoel
MARISA WILCOCKS het laat weet van die afsterwe van Jan Swanepoel. Jan het (saam met sy suster Christien) in Die Vaderland se subkantoor gewerk en ook by Perskor se skakelbord.

Hy is op 6 Desember oorlede. Sy troosdiens is op 11 Desember om 11:00 by die Gereformeerde Kerk Noordrand, Landhuisstraat 1129, Allensnek. Roodepoort.

20.11.19

Hoeveel kos iets moois?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Terwyl ek navorsing vir 'n storie oor Brixton gedoen het, het ek ook deur K'rant gesnuffel en onder andere huldeblyke aan Kittie Vermaak gelees.

Dit het my baie hartseer gemaak. Nie net omdat sy nie meer met ons is nie, maar ook omdat ek ten tye van haar dood nie daarvan geweet het nie en dus nie haar begrafnis kon bywoon nie. Die rede hiervoor is dat ek toe nog nie met K'rant kennis gemaak het nie.

Nou wil ek graag 'n laat huldeblyk aan haar bring. Kittie was vroueredaktrise van Die Vaderland terwyl ek in die vroeë sewentiger jare hofverslaggewing gedoen het.

18.11.19

Hillbrow se ander spore

PIET EBERSÖHN skryf: Dit het gʼn niks met Perskor uit te waai nie, maar Maureen Swart, Karin Pretorius en Gert van Rooyen se Hillbrow-stories herinner my met ʼn ompad aan ʼn ervaring as buitemuurse student.

Dalk is dit versagtend dat die stil tye tussen opeenvolgende uitgawes in die nagkantoor broodnodige studietyd opgelewer het.

In elk geval, ek moes destyds ʼn werkstuk oor die ontstaan en ontwikkeling van die Johannesburgse Hospitaal doen en navorsing uit The Star van die jare voor die eeuwisseling het vir ʼn ligter oomblik of wat gesorg.

13.11.19

Suzelle Fourie in haar slaap dood

Suzelle Fourie
JOHANN VERSTER, vroeër misdaadverslaggewer by Die Vaderland en Transvaler en later motorredakteur, het ons laat weet dat Suzelle Fourie byna agt maande gelede oorlede is.

In ‘n berig wat Johann aangestuur en reeds op 1 April 2019 in Weslander (kantoor in Vredenburg -- Red.) verskyn het, skryf Trish Goosen: “Suzelle Fourie, gewese mede-eienaar van Weslander, is verlede week (in Maart 2019 -- Red.) in haar slaap dood.

“Suzelle (77) was meer as 20 jaar (1979-2000) die redakteur van Weslander voor sy en haar man, Gerrie, die koerant aan Media24 verkoop het.”

12.11.19

K’rant byna by sy millennium-uitgawe

PIET EBERSÖHN skryf: Wat ʼn mal perd het ek nie opgesaal toe ek
toentertyd op Peet Simonis se versoek die redakteurskap van K’rant by hom oorgeneem het nie.

Nou vertel die huidige redakteur, Philip Deetlefs, my dat ons nog net 13 stories kort om dit 1 000 stories te maak wat al in K’rant gepubliseer is.

Noudat die stories in K’rant al die millennium-merk verbysteek, raak die bittersoet van daardie vestigingsjare sommer heuningsoet.

11.11.19

Tyd om vir oulaas diep te grou

K’rant kort nog net 14 stories ons totaal op 
1 000 stories te bring!

K’rant het oor die jare saam met die lesers en bydraers gegroei om ‘n unieke naslaanbron met interessante stories en (nou) geskiedkundige foto’s te word, wat op hierdie manier vir die nageslag bewaar word.

Ek weet dis nie altyd goed om bloot hoeveelhede te jaag nie, maar ek dink as elkeen van ons nog net een (laaste?) keer lekker diep in ons geheue gaan rondgrawe, sal daar tussen ons gewis nog 14 trefferstories opgedis kan word.

Ons sien uit daarna om julle stories te kry en moet nie dink dat die syfer 14 ‘n doodsnik is nie. Daar is nog 'n hele paar leë blaaie wat gevul kan word. -- Redakteur.

8.11.19

Gogga maak vir baba bang

PHILIP DEETLEFS skryf: In die vroeë jare sewentig was ons ‘n jongklomp by Die Transvaler wat min of meer saam begin werk het en ook groot vriende geword het. Willie Buys was nuusredakteur, Carel Noffke die hoofredakteur.

Ek dink dis omdat ons eintlik so min geld verdien het dat ons as ‘n groep vriende en kollegas naweke saam “goedkoop” pret gemaak het. Een van ons prettige dinge was om te gaan piekniek hou by plekke soos Gillooly's Farm en ‘n plek iewers in die Wesrand waarvan ek die naam nie meer kan onthou nie. Daar was ‘n lekker diep poel in die rivier onder ‘n krans. Dit was ‘n gewilde piekniekplek met die eerste piekniekgangers wat natuurlik die uitsoekplek gekies het.

5.11.19

Nagmerrie in Twiststraat

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Wat ís dit tog met Hillbrow dat ons hom nie kan uitlos nie en hy ons nie wil laat gaan nie? Net toe ek gedink het dat alles wat daar oor die "Brow" te sê is, reeds gesê is, was Karin Pretorius se heerlike en interessante storie in K'rant.

Helaas, hierdie eens geliefde voorstad het 'n plek geword om te vrees. Hóór deesdae net die naam, "Hillbrow," en alarms begin in jou kop skree: GEVAAR! BLY WEG!

Daar is oorbevolking, erge armoede, baie van die geboue, 'n swetterjoel daarvan gekaapte plekke, is in so 'n vervalle toestand dat dit lewensgevaarlik is om daarin te woon en elke soort misdaad onder die son vier in hierdie woonbuurt hoogty.*1)

9.10.19

Bloeddorstig in Brixton

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In heelwat K'rantstories word daar na die Brixton‐polisiestasie*1) ‐‐ alombekend as die Brixtonse moord‐ en roofafdeling ‐‐ verwys, asook na die Brixton‐blitspatrollie en die voorstad self. Sommige kollegas het in Brixton of omgewing gewoon, soos dinamiese en geliefde Kittie Vermaak, wat 'n huis in Putneyweg gehad het. Boonop was Perskor in 'n stadium skaars 'n klipgooi van hierdie gewilde woonbuurt af geleë en baie van ons het seker ook jare lank ons inkopies by die destydse OK Basaar ‐‐ ai,waar is daardie dae? ‐‐ in Highstraat gedoen.

Dus moeilik om te glo dat hierdie einste voorstad eens deel van een van die bloedigste gebeurtenisse in Suid‐Afrika se geskiedenis was. So gewelddadig was dit dat ons land op die randjie van 'n burgeroorlog gestaan het.

11.8.19

Rower skiet John se pinkie af

Hennie van Zyl, haastige Springbokvleuel van die sestigerjare, vertel in Rapport van 11 Augustus 2019 die volgende oor John du Toit:

John du Toit (links) en Hennie van Zyl


7.8.19

Oom Hermie uit Intensiewe Sorgeenheid

MARGARET LOMBARD het laat weet: Ek het pas met oom Hermie se dogter Hermien gepraat (selnr 079 724 6981). Oom Hermie is nie meer in die ISE nie; hy is na die hoësorgeenheid by die Flora-kliniek oorgeplaas. Ek sal groete en beterskapwense aan hom oordra.

31.7.19

Oom Hermie in hospitaal

LOUISE BLAKE skryf: Hermie Hendriks se dogter Hermien het laat weet: “Pa het Woensdag flou geval. Hy is in die Flora-kliniek. Die een hartklep wil nie oopgaan nie."
Hermie Hendriks 
verlede jaar toe 
hy 93 was.