Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.6.13

Gary Player het ’n gewigsprobleem met die July

DIRK BENADE skryf: Dis Vrydag voor die Rothmans July Handicap. Ek en die goeie ou siel en fotograaf, Jack Fenix, sit in die Lonsdale-Hotel in Durban, na-aan die strandfront. Ons deel die kamer om koste te bespaar omdat ons ook manskoeldrank wil drink. Met die “normale” voorskot was dit wensdenkery. Dit kos ons geld om die July te dek -- my eie geld en ons is besig om die koerant en Rothmans te borg. Daarom was dit van kritieke belang om met Gilbeys se
skakelbeampte en handelsmerkbestuurder pêlle te maak!

Jack se foto's is al by Die Transvaler en dis nog net Pappie wat ‘n hoofberig vir die voorblad moet skryf. Mike van Niekerk, die nagredakteur, raak al knorrig. Sy naweek het al amper begin, of so dink hy!

Barbara Ray
Jack se vrou, die bekende sangeres Barbara Ray (treffer: I don't wanna play house), het hom gebel. Sy is op pad na ’n optrede êrens op die platteland. Hy moenie oor haar bekommerd wees nie. Sy ry nou.

Jack glimlag breed. Sy slag is gelewer en hy is DORS. Die Gitanes wat hy aangesteek het, laat hom, soos wat al die heel week gebeur, onbeheersd hoes. Die spreekwoordelike bloed spat. Whagga Whagga Ugghhuhhggg ttthhhhoooeee en daar trek die … ! Genoeg om van te braak en dit, die Gitanes, stink!

Mike wag en ek het nie die vaagste benul wat om te skryf nie. Daars nie ‘n siek perd of ‘n krank jokkie nie. Al wat ek by die skakelbeampte van Greyville hoor is: ”We are ready for the big day, and touch wood, everything is running to schedule. Sorry, Dirk. Write about all the food and beverages that the race goers are going to consume.“

“Thanks Carol, but that’s not what my editor is looking for.”

Ek het hulp nodig. Gaan na Solly’s en tree die familie aan. Oom Klippies, tannie Mieks en Zak Uys. Maak ook ‘n las asseblief, Jack. My voorskot het lankal sy gat gesien. Moenie bekommerd wees nie, ons kuier vanaand saam met die Gilbey-ouens. Ons sal hul kredietkaarte nooit ooit kan “max” nie. Ja ek sal vra dat hulle vir jou hoesstroop en Gitanes koop. Ja, sommer ‘n “carton”. Laat ons nie nou terughou nie.

Dit voel of Jack 'n ewigheid neem om tot my redding te kom. Die eerste Johan Esterhuizen-dubbel het skaars kante geraak toe die tweede een met Uys kalmte oor my laat daal. Ek vat die perdebybel, Computaform, en begin dit koorsagtig te bestudeer asof daar ‘n storie gaan uitspring. Ná my vyfde of sesde Essie-dubbel kry ek toe my Eureka-oomblik!

Wat gaan aan met die Henry Eatwell-stal se inskrywing, Welcome Boy wat aan Gary Player behoort? Met die toekenning van gewigte het die 53 kg wat Welcome Boy as driejarige moes dra, ‘n helse polemiek ontketen. Dit was die heel swaarste wat ‘n driejarige al moes dra en nou sien ek in Computaform dat die jokkie, Gerald Turner, elke keer oorgewig is wanneer hy inweeg. Hy ry meestal perde wat 55 tot 57 kilogram moet dra en word as ‘n swaargewig geklassifiseer.

Gary Player het gal gebraak (Johan van Wyk het al menige atletiek-ghoeroe aangehaal wat gal braak). Dit beteken dat die perd nog meer gaan dra tensy die jokkie bykans heeltyds in ’n sauna gaan deurbring en ’n ernstige dieet gaan volg. Die hoeveelste Essie-dubbel gly soos fluweel af. Ek het my f#$&@* storie! Jack sit met n m%$#@ glimlag. Ons is amper daar. Pappie moet nog net bel en die storie dikteer.

Ek wil net die gewigstorie probeer verduidelik. As dieselfde perd deur ‘n jokkie gery word wat 52 kg weeg, sou die perd ‘n ekstra kilogram lood in sy saal moes dra. En as ‘n jokkie 51 kg weeg sou daar twee kilogram lood in die saalsak moes wees. Maar as die jokkie meer as Welcome Boy se toegelate 53 kg weeg, dan kan sy been nie afgesit word om teen 53 kg in te weeg nie. Dit is tot die perd en einaars se nadeel as die jokkie nie teen die toegelate massa kan inweeg nie! Die gewigsopsteller ken aan elke deelnemer, volgens sy vertonings, ‘n gewig toe sodat almal ‘n gelyke kans het om te wen, maw, sy ideale uitslag sou wees as almal gelyk eindig.

Die Gilbey-ouens bel al om te hoor wanneer kom ons. Hulle bly in die Royal en ons gaan oorkant in die hawe 'n bietjie kuier -- net ‘n bietjie!

Ons kuier saam met die Gilbey-pelle was soos gewoonlik ‘n reuse-sukses. Met ‘n kredietkaartperk van R10 000 in die jare tagtig het ons die spreekwoordelike hond uit ‘n bos gekuier. En my scoop het die Gilbey-manne so laat lag dat die eienaar en kelners by ons groep aangesluit het om in die pret te deel. Hulle kon nie kom kla het nie omdat die gekuier seker die omset verdubbel het!

Agtuur die volgende dag is ek al amper gewoond aan die roetine van agggghhhh ttthhhoeeee. Jack, jy gaan nog omkap van die Gitanes. Jack glimlag net.

Ons is net ná ontbyt op pad na Greyville sodat ons die die druk verkeer misloop, min wetende van die drama wat wag om te ontvou oor my voorblad-scoop en die plakkate van Johannesburg tot in Durban.

Martin Locke
Sommer met die intrapslag in die perskamer konfontreer Martin Locke my met die SAUK-kameras en mikrofoon in die hand, terwyl ek yskas toe loop om ‘n yskoue tamatiekelkie te kry. “Where did you get this story from? The stable denies it and the jockey vehemently denies sitting in a sauna all day and dieting to make the weight.”

As hy gedink het ek gaan skrik vir koue pampoen en TV-kameras, het hy hom liederlik misgis. Net daar “strip” my moer. Ek het nog nooit ooghare vir hom gehad nie.

 “Listen here, of course they will deny it,” het ek hom swetsend toegesnou -- ek weet nie of die kameras GEROL het nie -- “have you asked the trainer what weight the jockey is going to weigh in at, and if he is over the limit of 53 kg? Will they substitute him with someone that can make the weight after all the publicity about the weight he was allocated? It makes all their moaning null and void if the jockey does not make the allocated weight. That’s why he is in the sauna and dieting. But you are too f%$#@& stupid to ask relevant questions, I was waiting to write this story ever since the day the weights were announced. Seems I am the only one here with brains.”

Nou is almal in die perskamer sommer die moer in vir my. Ek inkluis. Dat ek soveel “feite” misgekyk het en nie in my scoop ingewerk het nie. In die hoek van die perskamer staan my twee Gilbey-pêlle. Dit lyk asof hul gesigte bloedrooi geverf is soos wat hulle lag.

Nog ‘n suksesvolle July.

Welcome Boy het derde geëindig.

En, ja. Die jokkie was oorgewig.

Wat die tonge aan die rol gekry het, was op feite gegrond, wel meesal. Die sauna en die dieet was ’n logiese uitvloeisel van al die vloeistof wat ingevloei het! My “familie-poging” het vrugte afgewerp. Ek was tevrede, Jack was tevrede, my Gilbey-pelle was tevrede en Mike in die nagkantoor was tevrede! Net Locke het sy broek so te sê bevuil.

Nou wat nou. Dis nie ’n goeie storie wat ’n mens met feite bederf nie. Dis feite wat met logiese denke verhef is na ’n goeie storie wat uiteindelik party mense die moer in gemaak het omdat hulle die voor-die-hand-liggende-storie misgekyk het. Ja, en ek ook wat eers op die laaste nippertjie met die hulp van my “familie” en Jack Fenix se mildelike bydrae, wakker geskrik het. Is dit BMT?

En Martin Locke wat met oogklappe aan in die perskamer ingestorm het en dink hy gaan my scoop kelder sonder om AL DIE FEITE op die tafel te gooi.

NS: Met ’n ander storie het ek weer in Locke vasgeloop en dit 2-0 gemaak en ’n jaar later 3-0. Ek vertel later meer daaroor en oor ‘n paar ander sake.