Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.6.13

As ‘n ‘fondle’ te warm raak!

JOE VAN BUUREN skryf: Die Villa Barcelona in Johannesburg was in die jare sewentig en tagtig nogal bekend onder ons koerantmense.

Ek was in ‘n stadium ‘n gereelde besoeker, omdat wyle André de Bruyn ‘n ruk lank daar gewoon het.

Daar is al heelwat in K’rant oor André geskryf. Hy was die soort ou wat
die lewenstogdraagliker gemaak het.

André de Bruyn
André het my herinner aan ‘n kameraad met wie ek gedurende een van my vele weermagkampe ‘n tent gedeel het.

Soggens wanneer ons ontwaak, het hy ‘n paar oomblike lank gestaan en peins en dan gesê: “Hmmmmmmm …, I think I’ll wear khaki today.”

Ek en André was verdedigingskorrespondente, ek by Die Transvaler, hy by The Citizen, en ek het gereeld twee-uur of drie-uur soggens ‘n draai by die Villa gemaak om hom op te pik wanneer ons op ‘n storie Suidwes toe is.

Ons het altyd in skroefaangedrewe vliegtuie, soos Flossies, Dakotas en Skymasters, gevlieg en ons moes ons gedurende die lang vlugte vermaak.

Dit het ons gedoen deur ure lank poker te speel, of om skielik soos een man op te spring en van die voorkant van die viegtuig na die agterkant te hardloop en dan weer terug. Ek het dit terdeë geniet, tot daar op ‘n dag aan my verduidelik is dat dit die vlieëniers se werk baie moeilik maak.

Om terug te keer na die Villa, André het op ‘n dag ‘n fondue by sy woonstel daar gehou.

‘n Fondue, oftewel ‘n “fondle”, soos ons daarna verwys het, was destyds baie gewild en my fonduestel, vurkies en al, rus steeds iewers in ‘n kombuiskas.

Dit het egter senuwees van staal geverg om ‘n “fondle” mee te maak. Óf die vurkie het ‘n mens se lippe uitmekaar gebrand, óf jou tong en wange is deurboor. Die ergste was dat ‘n mens na al dié lyding steeds honger was.

Ek het later geleer om maar eers tuis te eet wanneer ek na ‘n fondue uitgenooi word.

In ieder geval, geen fondue kon as geslaagd bestempel word tensy die olie nie op die stoof aan die brand slaan onderwyl die ouens ‘n paar kappe maak nie.

Dis juis ook wat dié dag gebeur het.

So ‘n ding kan baie gevaarlik wees en André het die brandende pot olie baie versigtig na die binneplein gedra onderwyl die res van ons hom op ‘n veilige afstand luidkeels aangemoedig het.

Die ander inwoners het herinner aan meerkatte wat uit hul gate borrel soos hulle op die stoepe te voorskyn gekom het om dié petalje te aanskou.

Die brand is eindelik geblus en sover ek kan onthou het ons die “fondle” terdeë geniet.