FRIKKIE VAN DER WALT skryf: ‘n Poets is gewoonlik heelwat snaakser as ‘n mens nie aan die ontvangkant is nie. Werkers in Perskor se fabriek in Aucklandpark, Johannesburg, wat as gevolg van die maatskappy se stortvloed koerante en ander publikasies gereeld oortyd gewerk het, het tussen die versorging van die publikasies genoeg vrye tyd gehad om mekaar en ander poetse te bak.
Een van hulle het gesien hoe sy kinders mekaar met ‘n tuinspuit vol water, pleks van ‘n waterpistool natspuit. Gemelde spuittoestel kan opgepomp word om gifstof oor besmette plante te spuit. Die spuit se sproeikop het gebreek en ‘n potlood-dikte straal gespuit as die sneller gedruk word. Die spuit se baas het dit werk toe gebring met die voorneme om uit te glip en ‘n nuwe spuitkop te koop.
Van sy verveelde maters het dit raakgesien en proefnemings daarmee begin doen. Die houer bevat omtrent twee liter water en as dit styf genoeg opgepomp word, skiet dit ‘n byna twee meter lange straal water ‘n paar meter ver. Die bevinding het dadelik tot ‘n toets op ‘n slagoffer gelei. Die spuit se eienaar het na een van sy kollegas ‘n paar meter verder gemik en laat waai. ‘n Helder straal water het soos ‘n waterslang op die niksvermoedende slagoffer afgekronkel en op sy bors nes gemaak. Toe hy verbaas opkyk, was almal hard aan die werk.
Die waterkanon het ‘n instelling in die fabriek geword en gereeld slagoffers geëis totdat iemand dit opgespoor en gebreek het.
Een van die fabrieksmanne, ene George as ek reg onthou, het op ‘n hoewe gebly en slange gevang wat hy vir ‘n ekstra inkomste aan die slangpark verkwansel het. Hy het die slange in ‘n leë 25-literverfdrom met ‘n deksel werk toe gebring en tussen sy oortydpligte weggeglip om dit af te lewer. Ek wou verfwerk by my huis doen en Steyntjie Steyn, die voorman, verwys my na George, wat glo ‘n vriend met ‘n winkel het waar ek enige kleur verf teen kosprys kan kry.
Ek en ‘n paar ander belangstellendes stap saam om te gaan kyk. Hy maak die verfblik se deksel oop, maar pleks van verf probeer verskeie adders ontsnap. “Jammer verkeerde blik,” lag Steyntjie en sy medekonkelaars.
George, ‘n betreklik godsdienstige man, se siel is gereeld uitgetrek as hy in die nabyheid is. Iemand sou kastig ‘n probleem ondervind en luidkeels begin vloek. George sou hom dadelik vermaan. “Kerk vir jou Sondag!”
Hoewel ek gewys het ek is bang vir slange, was daar ‘n Skot wat byna histeries geraak het as hy ‘n slang sien. As die man geskrik het, het hy onverstaanbaar en vervaard in sy swaar aksent geprotesteer. Hy sou dan beleefd gevra word om stadiger te praat omdat hulle hom nie verstaan nie. Hy was vir Steyntjie se poetse so bang dat Steyntjie, voorman of nie, nie nader as tien treë aan hom kon kom nie. Opdragte is oor ‘n afstand uitgedeel en uitgevoer.
So betrek Steyntjie die Belg, Pannas Vicene, by sy gekonkel. Hulle stel by George vas dat ‘n sekere slang wat hy gevang het ‘n molslang is en nie giftig is nie. Steyntjie roep die Skot en vra hy moet ‘n bladproef trek en bring. Die kêrel trek die proef en sit dit tien treë verder neer. Steynjie trap hom uit en toe die Skot onverstaanbaar teëpraat, vroetel Pannas in die agtergrond en gee ‘n paar treë pad. Steyntjie beduie hy moet die proef vir Pannas gee om dit na hom toe te bring.
Die Skot gryp die bladproef en vat die slang vas. Die slang peul uit en word na ‘n reeks uitgerekte gille en vermoedelik Skotse vloekwoorde meters ver geslinger. Die woedende Skot wou Steyntjie aanrand, maar is deur ander personeel gekeer. Hy is uiteindelik al gillend huis toe en het Steyntjie later by die fabrieksbestuurder, Abdol van der Merwe, verkla.
Een van die fabrieksmanne het ‘n rubberslang êrens gekoop wat na die ware Jakob gelyk het. Kompleet met flitsende tongetjie. Nadat hulle mekaar oor en weer bang gemaak het, verskuif die visier na die subs. Te wete die hoofsub wat die laaste twee blaaie sommer op die steen nasien. Die steen was eintlik ‘n tuisgemaakte houtstellasie met ‘n skuins blad waar proewe nagesien kon word. Ek raak een aand met bladsy een se proef besig en kom agter die gebruiklike geroesemoes van stemme in die fabriek is besonder stil. Toe ek opkyk, flits ‘n addertongetjie in my gesig.
Ek besef as die ding my in die gesig pik is dit doodsake. Ek beweeg stadig agteruit, maar die gebroedsel beweeg saam met my. Veg of vlug flits deur my gedagtes. Hoe beveg jy ‘n slang met jou kaal hande? Vlug is ‘n beter opsie en ek gee vervaard agteruit pad en hol ‘n fabriekswerker uit sy geloof uit. Die kêrel het die slang met stuk deurskynende vislyn aan ‘n besemstok vasgemaak en van agter oor my kop laat hang.
Ek het nie soos die Skot onverstaanbaar gevloek nie. Almal in die fabriek het presies verstaan wat ek gesê het.