Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.6.13

Ego ontkom net-net op Thabazimbi

PIET EBERSÖHN skryf: Philip Deettlefs stuur nou die dag een van daardie kettinggrappies per e-pos aan wat my gedagtes ver laat terugdwaal – na ‘n slag toe my ego genadiglik ‘n ernstige knou gespaar is.

Dit was in die eerste helfte van 1979 en die vleisboere het swaar getrek. Hulle het ‘n vergadering in die Yskorsaal op Thabazimbi gereël
en die minister van landbou, Hendrik Schoeman, moes gaan verduidelik wat aan die gang is en wat die regering daaromtrent gaan doen.

Verbruikersake en landbou was deel van die hooi op my vurk en ek is Thabazimbi toe gestuur om te rapporteer.

Dit was weer een van daardie dae dat die pers se motorpoel effens ontoereikend was en teen die tyd dat ek daar opdaag, was die vergadering al aan die gang.

Ek het gekyk, en gekyk, en weer gekyk, maar ek sien net één oop stoel in die stampvol saal – amper heel voor en een sitplek weg van die paadjie af – en gaan sit toe maar daar. Die man op die punt verseg om op te skuif en ek skuif toe maar verby hom.

Die dag besef ek ook wat ‘n goeie, of dalk moet ek eerder “bedrewe” sê, politikus is en dat so iemand nie noodwendig antwoorde verskaf nie.

Kort voor lank loop die gemoedere hoog. Schoeman word met vrae gepeper, maar beantwoord die een na die ander met gemak.

Hendrik Schoeman
Toe kom die knelvraag en hy word oënskynlik in ‘n hoek gedryf.

Hy het so in die algemeen begin praat en steek toe vas. “Kom, ek vertel julle eers ‘n grappie!” Hendrik vertel toe die storie van Jonas wat stad toe is om te gaan boks. Dit gaan goed en hy wen die kampioenskap. Op ‘n dag gaan kuier hy op die plaas om ‘n bietjie by sy ou werkgewer met sy indrukwekkende kampioenskapsgordel te spog.

“Nou toe,” sê die boer, “wys my wat jy geleer het.”

Jonas het so begin dans, dans en ‘n paar kort houtjies geslaan, vertel Hendrik, toe klap die boer hom dat hy sommer so onder die trekker inskuif.

“Ek dag jy’s die kampioen,” vra die boer toe Jonas opstaan en hom afstof.

Jonas se verweer: “Maar die baas boks nie, die baas moer sommer!”

Die Yskorsaal op Thabazimbi het gedreun soos die vergadering lag.

Hulle het nog gelag, toe vat die minister weer die draad, maar nie waar hy dit gelos het nie – op ‘n heel ander plek. Hy ignoreer die vraag ter tafel en vertel die boere hoe onbillik die buitensporige higiënevereistes is wat die Europese Gemeenskapsmark (voorloper van vandag se Europese Unie) aan uitvoerslagplase stel en hoe dit SA vleisuitvoere benadeel.

Soos handomkeer is die SA regering uit die vuurlinie, die strikvraag vergete. Europa was nou die vark in die vleisverhaal.

Om by my storie te kom: Die man wat hier op die punt langs my gesit het, was nie baie groot nie – terwyl ons van boks praat, so weltergewig, dalk middelgewig sou ek sê. Maar toe hy ná teetyd weer gaan sit, sit hy die stoel dat jy net sien spaanders waai!

Die vergadering het die situasie vining beoordeel – en voortgegaan asof niks gebeur het nie. Maar dink net hoe sou die blikskottels geskater het as dikke ék die stoel platgesit het! Hendrik se grappie sou nie naby gekom het nie.

Ek het eenvoudig die man opgehelp en stilweg my sterre gedank.

Van Hendrik Schoeman gepraat, herinner ek my ook hoe anders koerantwerk daar uitgesien het voor die koms van skakelbeamptes.

Dit was ook die dae van geadministreerde pryse – nie net die brandstofprys soos deesdae nie, maar van brood tot selfs woonstelhuur! Wie onthou nog hoe ons elke keer vertoë tot die Johannesburgse huurraad gerig het dat woonsteleienaars ons huur buitensporig wil verhoog – sonder om ooit gelyk gegee te word.
Tot die prys van gaskoeldrank was vasgestel, met die gevolg dat as die suikerprys opgeskuif is, het dit noodwendig gevolg dat die prys van gaskoeldrank ook opgeskuif is. Wat ek nooit kon begryp nie, was dat die prys van sodawater óók terselfdertyd gestyg het.

In dié tyd het Hennie Kotzé iewers gehoor die broodprys gaan styg en omdat dit die minister van landbou se verantwoordelikheid was, moes ek Schoeman se kommentaar kry.

Die minister is ongelukkig nie beskikbaar nie, het sy private sekretaris my meegedeel.

Dis in die haak, het ek dit gelate aanvaar, maar dit laat Die Transvaler geen ander keuse nie as om te skryf dat hardnekkige gerugte dit wil hê dat die broodprys gaan styg.

Minder as vyf minute later het my telefoon gelui, en die minister was persoonlik op die lyn om onomwonde te ontken dat daar hoegenaamd sprake van ‘n styging in die broodprys is.