GERHARD BURGER skryf: Eintlik was ons ook maar vakleerlinge toe ons begin het. Jy moes jou spore verdien; en jou by-line. Dit was nie sommer net instap en scoops skryf nie.
By party koerante het dit so gewerk: die beginners in die redaksie vertaal eers Sapa-vullers; vier reëls, soms ses. Dis waar jy leer skryf en spel.
Ná maande word jy hof toe gestuur. Die senior hofverslaggewer vertel jou hoe maklik jy die doodstraf opgelê kan word as jy ʼn fout met ʼn verslag van ʼn saak in die verkeershof begaan.
Daarna munisipale sake: honderde belastingbetalersvergaderings; alles Engels. Naderhand selfs stadsraadsvergaderings met lelike politiek. Dan kry jy, met ʼn bietjie geluk, kans om misdaad te skryf. Partykeer het jy drie vars lyke gesien voordat jy kon gaan brekfis eet.
En so tussenin kry jy ʼn belangrike job, soos Piet Ebersöhn wat na Hendrik Schoeman moes gaan luister.
My buiging op ministeriële vlak was ook ʼn landboutoespraak. Die spreker was Dirkie Uys, meen ek, en die saamtrek was in die WGA se gebou in die Baai. Ek het vir Die Oosterlig gewerk; destyds ʼn middagkoerant met ʼn spertyd van so middagete se kant en ʼn laat uitgawe kort duskant vieruur.
Die geagte minister sou so twaalfuur begin praat en daarna sou ons almal saam eet; loshand die hoogtepunt van die dag.
Teen die teepouse het ek die minister se sekretaris van my wedloop teen die spertyd vertel. Tussen die einde
van die toespraak en ons saktyd sou daar bitter min tyd wees om aan so ʼn belangrike toespraak reg te laat geskied.
So ʼn rukkie later kom roep hy my eenkant toe en gee my skelmpies die hele toespraak, netjies uitgetik en gebind, sodat ek solank daaraan kan begin werk. Solank dit net nie gepubliseer word voordat die minister klaar gepraat het nie, natuurlik.
Ek het die storie met die kaalhand in ʼn notaboekie geskryf, uitgesluip en dit telefonies aan die tikster by die kantoor gaan deurlees. Solank dit net nie voor middagete gepubliseer word nie ...
Toe’s ek terug die saal in om darem by te wees wanneer die minister begin praat. Maar die afgevaardigdes praat lank en stadig en dit raak laat. Dis naderhand twaalfuur en die minister het nog nie begin praat nie. Dis raak 12:15 en 12:30 en ek weet die rolpers begin nou-nou draai.
Toe vra die voorsitter of die afgevaardiges liewers eers wil gaan eet en dan ná die middag na die minister wil kom luister.
Uiteindelik besluit hulle nee; eers die toespraak en dan die ete. Amper eenuur begin die minister praat. Hy vat ʼn paar kortpaaie en so skuins voor twee-uur maak hy klaar. Almal klap hande en loop eers gou ʼn draai voordat hulle gaan aansit.
Party stap eers buitentoe om ʼn dampie op die stoep te gaan slaan en die aaklige reuke van daardie nywerheidsgebied teen te werk.
En toe hulle by die imposante voordeur uitstap, staan die koerantverkoper daar op die sypaadjie met Die Oosterlig. Met die minister se toespraak op die voorblad; nogal ʼn fris driekolom-berig.
As die minister daardie dag besluit het hy gaan eers eet en dán praat ...
Dan vra die mense hoekom koerantmense kleintyd begin drink.