Ons moes toe 07:30 in die oggend aanmeld in die redaksiekantoor in Aucklandpark. Ons het toe in ’n dwalende swewende sirkeltjie gestaan
so teen 7:45 by nuusredakteur Frans du Toit se tafeltjie regs in die hoek van die redaksielokaal.
Frans du Toit |
Dié aand gaan ek en Len toe na die Milparkskouterrein. Toegerus met ons spesiale perspasse is ons dadelik na die BBP-ingang begelei deur die veiligheidswagte en skielik was ons bo in die sitmaker en kroeg omring deur die mooiste, wonderlike meisiekinders! Met die trappe af was die saal waar die groot kroning sou plaasvind.
Ná twee of drie doppies sê Len vir my: “Wim, we have a problem. Hoe gaan jy weet wat is die naam van die een wat gaan wen? Hoe weet ek of my kiekie mooi gaan wees? Ons storie moet môreoggend 07:30 daar wees! Vir die middag se voorblad!”
Len Gallagher |
Ons het as bittereinders nog bo in die skemerkroeg gesit en strategieë bespreek toe al die meisies en mense skielik weg was en al die ligte uitgaan. Pikdonker. Toe bars daar `n stem uit die luidsprekers: “Ladies and gentlemen! Please welcome the candidates for Miss Rand Easter Show!”
Ou Len was paniekerig en het toe so vinnig as wat die donkerte toegelaat het, wonderbaarlik sy weg ondertoe gevind om sy kiekies te neem.
Ek was letterlik heeltemal in die duister en soek toe voel-voel, skarrelend en strompelend ook `n weg na die saal daar onder. Ek kry iets wat na`n trap lyk en sukkel af onder toe.
Toe ek eindelik gelyke vloer onder my voete voel, blits die soekligte skielik aan en daar staan ek op die verhoog met die kollig vol op my en die stem uit die luidspreker skree: "And there she is, Beauty Number One!"
Die hele gehoor het baie hard hande geklap en nog harder gelag.
Len se foto's en my storie het die volgende dag net bladsy vier gehaal. Die meisie wat gewen het was toe nie `n Afrikanertjie nie maar `n Libanese (baie mooi) meisie. Ons ruimte op die voorblad is gevul met die berig dat `n vrou van 120 pond deur die toilet geval het in Nelspruit. “News is news!”
Ek en Len het agterna maar na ‘n smokkelkroeg in Doornfontein gegaan om ons verleentheid te verwerk. Die kroeg was waar APB se drukperse destyds nog gestaan het. Dit was nog toe Groot en Klein Apartheid hoogty gevier het. Maar Doornfontein was blykbaar nie `n deel van die destydse Republiek nie. In die Indiër se skelm kroegie het ons saam met die straatveërs en “lekker meisies” nog `n paar doppe gedrink - “cane with a drop of pink, please” - en altwee gedink ons is môre '”gefaaier”. Maar toe gaan die lewe aan.