Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.10.16

Nostalgiese verlange na die tegnologie

KARIN PRETORIUS skryf: K’rant se joernaalmeester, Japie Bosch, het onlangs na my Rhodesiese artikel verwys waarin ek skryf oor die moderne elektronika wat ons oudjoenaliste nie beskore was nie.

Dit het my herinner aan die troue van min PK van der Byl – minister van vervoer, krag en poswese in Zimbabwe-Rhodesië – met prinses Charlotte von Liechtenstein, op Vrydag 31 Augustus 1979 in Waldstein in Oostenryk.

Dit was een van die mees intensiewe en uitputtende artikels – geestelik en fisiek –wat ek nóg vir Rooi Rose moes skryf, hoofsaaklik vanweë die gebrek aan ‘n iPad, selfoon en die internet waarna Maureen Swart in haar interessante artikel ook verwys.

Karin se storie oor die troue in Waldstein 
wat eksklusief vir Rooi Rose geskryf is.
En dan ‘n sperdatum wat my asemloos en sonder slaap in ‘n Weense hotel gelaat het! En so ook die hotelgaste wat my getikke-tak op my Olympia-tikmasjien moes aanhoor!

Die troue was ‘n wêreldscoop vir Rooi Rose, aangesien ek die enigste buitelandse joernalis was wat ‘n uitnodiging ontvang het en die minister die artikel eksklusief in Rooi Rose gepubliseer wou hê.

Ek glo die meeste joernaliste sal saamstem dat ‘n scoop maar ‘n twyfelagtige voorreg kan wees, gedagtig aan die spanning en verantwoordelikheid wat dit meebring. Al het jy as Afrikaanse joernalis die kans gehad om skouers te skuur met die room van Europa se adellikes in die 12e eeuse Schloss Waldstein naby Graz, digby die Hongaarse grens.

En natuurlik was tant Bybie en Maureen Hyman in hul noppies dat Rooi Rose die uitverkorene was. Dit was egter die einde van die maand se spertyd en hulle het spesiaal ‘n ‘gat’ in die tydskrif gelaat in afwagting van my kopie uit Wene.

My vlug vanuit Salisbury het op Jan Smuts-lughawe geland en ek het aangesluit by fotograaf Herman Potgieter vir ‘n vlug na Wene. Vandaar ‘n aansluitingsvlug na Graz en dan ‘n gehuurde motor na Waldstein.

'n Rooi Rose van 1979.
Aangesien ek ná die troue die veelpartykonferensie oor Rhodesië se onafhanklikheid by die Lancasterhuisberaad in Londen wou bywoon, het my bagasie my Olympia tikmasjien ingesluit – en moes ek oorgewig betaal daarvoor!

Ek sou die artikel in Oostenryk klaar skryf, waarna Herman dan met die films en my artikel terugvlieg na Johannesburg om die spertyd te haal. Ek moes vooruit ook aan byskrifte vir moontlike foto’s dink.

Bruid en bruidegom steek
trouringe aan die vingers.
My bagasie het ook my eie swaar kamerasak ingesluit, sodat ek my eie foto’s in Londen by die konferensie kon neem.

Hoe heerlik sou ‘n iPad nie in my handsak gepas het nie!

En as ek maar die geskiedenis en agtergrond van die twee besonderse mense vooraf op die internet kon
google, kon ek dit vroeër persklaar gekry het vir toevoeging tot die artikel. Dit sou my eindelose tyd en energie bespaar het.

Want dan sou ek nie twee dae voor die troue by die
familie se kasteel, tydens ‘n onderhoud met mnr Pieter Kenyon Fleming-Voltelyn Van der Byl (Pie-kay soos hy bekend was onder vriende) tyd moes mors met vrae oor Cambridge; die familieplaas Fairfield naby Napier wat 200 jaar in die familie is; sy pa maj Piet van der Byl wat van 1943 tot 1948 minister van naturellesake in ons kabinet was; hoe en wanneer hy in Rhodesië as minister beland het met verskeie portefeuljes deur die jare; sy titels agter sy naam ID, GLM, MP.

Dit alles terwyl die minister eintlik, geklee in ‘n jaguitrusting van khaki-kniebroek met leeronderbaadjie, stewels en met ‘n Sherlock Holmes-pet op sy kop, brand om by die familie-uitstappie saam met die prinse aan te sluit vir takbokjag in die Alpe voor sononder!

PK Van der Byl
En sou ek ook nie prinses Charlotte Maria Benedikte Eleonora Adelheid von Liechtenstein (of alombekend as Lottie) se tyd gemors het nie met haar familie-geskiedenis uit die adelstand van albei ouers:
Haar pa was Sy Hoogheid prins Heinrich Karl, seun van die tóe regerende prins Frans Josef 11 van die prinsdom Liechtenstein;
Haar ma was Haar Koninklike Hoogheid prinses Elizabeth, jongste dogter van keiser Karl, die laaste koning van Hongarye en keiser van Oostenryk.
Sy was ook die susterskind van Sy Keiserlike Hoogheid Aartshertog Otto von Hapsburg wat as oudste seun die troonopvolger ná sy vader moes gewees het.

Ek sou Lottie kon laat om haar troureëlings te tref en ek sou nie so woes notas moes neem om tog net alles op papier neer te pen, terwyl ek terselfdertyd ‘n oog moes hou oor die foto’s wat Herman neem vir byskrifte.

Dit was nie al nie. Daar was ook die geskiedenis van die kasteel, boustyle, kunsskatte, Rococo-kapel waar die troue sou plaasvind, 150 gaste met titels, die trou-uitrustings, spyskaart. Eindeloos.

Olympia-tikmasjien.
Die Sondagoggend ná die troue het ons nog eers ‘n onderhoud met oudkollega Hanlie Swanepoel terug in Wene gehad waar sy woonagtig was en wat die rubriek Doodluiters in Rooi Rose behartig het.

Sondagaand het ek begin tik. Teen tienuur het gaste begin kla oor my kletterende tikmasjien en die hotelbestuurder het kom navraag doen. Hy’t my die gerief van sy kantoor aangebied, weg van enige gaste waar ek die volgende twee dae sonder ophou gewerk het.

Herman Potgieter
Teen Woensdag was ek persgereed maar vodde en het ek en Herman saam lughawe toe vertrek waar ons paadjies geskei het – hy terug na Johannesburg met ons kosbare vrag kopie en filmrolletjies en ek na Londen vir die Lancasterhuis-beraad.

Ek het laastens gereël dat ek by die kantoor van Carel Leonhardt, destydse SAUK-verteenwoordiger in Londen, aandoen in geval daar enige navrae van die Hymans was.

Daar het ook byskrifte van foto’s gekort en Carel was so vriendelik dat ek van sy teleksfasiliteite kon gebruik maak om die nodige inligting deur te stuur.

Ek kon ook so ewe sy ateljee gebruik om as die SAUK se korrespondent vanuit Salisbury my Monitor-aanbieding deur te bel. Dit was die beste gehalte-telefoonlyn vir enigeen van my radio-aanbiedings óóit!

Die vierkant van Schloss Waldstein met
sy wagtoring dateer uit die 12e eeu
Die dorpskinders van Waldstein vermaak 
die bruidspaar met tradisionele danse.
Volgens Oostenrykse tradisie bring ‘n skoorsteenveër 
geluk en hy’t die bruidspaar ‘n Schilling in die hand gestop.
Die bruidspaar met hul gevolg. Die sluier is van Brusselse kant uit 
die 17e eeu en haar kristaltiara het haar moeder na háár troue gedra.