Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.10.16

Strippers sit Mej Kaalbas op voorblad

PIET PIENAAR van Bloemfontein het laat weet dat hy baie bly is dat hy op ‘n dag Perskor geGoogle het en so op K’rant se spoor gekom het. Hy sê omdat hy in Kroonstad was, is slegs van die name wat hy op K’rant se webjoernaal sien vir hom bekend, behalwe Bennie Neethling en oorlede tannie Tienie Serfontein vir wie hy geken het.

Hy vertel ook wanneer hulle Perskor in Doornfontein uit die Vrystaat moes besoek, hulle so gou moontlik probeer wegkom het uit vrees dat hulle dalk vir mnr Koos Buitendag sou raakloop. Hy het gehoor mnr Buitendag “fire” sommer enigiemand wat lyk asof hy nie werk nie. Hulle het soms die Posteparade gaan haal of ink daar by Oom Frikkie Liebenberg (hy hoop hy onthou oom Frikkie se naam reg) gaan haal. Vegkop was darem ‘n skuilplek.
Koos Buitendag
Piet skryf: Ek was van Desember 1979 tot 31 Augustus 1988 kosteberamer en aankoper by Perskor se OVS Drukkery in Kroonstad. Perskor Kroonstad het in 1980 ‘n rolpers gekry waarop die Noordelike Stem, Vista en later ook Bloemnuus gedruk is.

Perskor het ‘n 76%-aandeel in Bloemnuus bekom. Bloemnuus was ook die eerste gratis koerant in die Vrystaat. Dié koerant het in daardie stadium ‘n groot probleem vir Die Volksblad begin word.

Bennie Neethling
Die redaksie van Bloemnuus wou altyd die Volksblad een voor wees en het volkleurfoto’s begin gebruik. Dit was egter nie weekliks moontlik nie omdat kleurskeidings destyds nie in Bloemfontein of Kroonstad gemaak kon word nie.

Tienie Serfontein
Daar is later kleurskeidings van foto’s wat reeds in Die Vaderland of ander Perskor-dagblaaie gebruik is, van die Perskor-biblioteek in Doornfontein verkry om weekliks darem kleur op Bloemnuus se voorblad te kon plaas.

Al die kleurskeidings was op ‘n rak in my kantoor. Een week kon die redaksielede van Bloemnuus nie betyds in Kroonstad wees nie en het Rudie van Rensburg, die stigtingsredakteur van Bloemnuus, my geskakel en gevra dat ek moet kyk vir ‘n kleurskeiding van ‘n meisie vir die voorblad.

Ek kry toe een van ‘n meisie in ‘n strandrokkie wat heel betaamlik gelyk het en skakel Bloemnuus met die foto se afmetings.

Die manne wat die koerant in die drukkery destyds saamgestel het, (destyds bekend as strippers) besluit toe om ‘n byskrif vir die foto te skryf en gebruik toe sommer een van die dames wat saam met hulle gewerk het se naam in die byskrif.

Die dag nadat Bloemnuus versprei is, het die hel toe behoorlik losgebars. Die Volksblad skryf “Mej Kaalbas maak Bloemnuus toe”. Die foto was toe van Mej Kaalbas Maseru! Later skryf Volksblad ook dat die fotograaf Bloemnuus gaan dagvaar.

Mettertyd het dit bekend geword dat die fotograaf vir The Citizen gewerk het.

Bloemnuus bestaan steeds en is nou in die Naspers-stal (Media24) saam met Vista.