Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

Bridget Oppenheimer
Die "oumense" het gesê jy moet 'n been in jou mond sit om te keer dat dit van verbasing oophang. Maar daardie oggend sou nie eens al die bene in 'n slaghuis vir my mond help nie. Sommer met die inryslag deur die hekke het my onderkaak op die grond begin hang en wou glad nie weer toeklap nie. Oor die veertig akker van paradys, die Brenthurst-landgoed, wat al langs die motorpad na die woning uitgestrek het.

Helaas, ná byna 'n halwe eeu het my geheue oor dié dag nie meer die skitterblinkheid van 'n diamant nie. (Só lank gelede? Wees genadig!) Wat ek van die huis onthou, is soos 'n prentjie waarvan ek die buitelyne kan sien, maar ek kan dit nie inkleur nie. Buitelyne van imposantheid en mooi en kosbare goed, wat my beïndruk het, maar dit het so ver in die verlede gebeur dat ek dit liewer nie eens naastenby wil beskryf nie.

Die sitkamer was vol dames van die Suiderkruisfonds. Dit onthou ek wel en sover ek kan onthou, was almal bestuurslede. Maar al sou ek glad nie geweet het wie Bridget Oppenheimer was nie, sou sy steeds die persoon wees op wie ek reguit sou afpyl as ek 'n vertrek vol vroue binnestap. Die vrou van hierdie huis het 'n magnetisme uitgestraal wat dadelik aandag getrek het. Sy was ongelooflik vriendelik en het my dadelik op my gemak laat voel. Ongelukkig het ek skaars 'n minuut tyd gehad om met haar te gesels, oor die weer of so iets, want sy moes aan ander gaste ook aandag gee.

As Bridget Denison McCall is sy in 1943 met Harry Frederick Oppenheimer getroud. Mynmagnaat en nyweraar. Sy was 'n invloedryke vrou, matriarg van die Suid-Afrikaanse hoëlui. Alom bekend vir haar passie vir perde en perdewedrenne. Sy was dan ook as die "Koninginmoeder" van Suid-Afrikaanse perde-wedrenne bekend. Heelwat van haar eie resiesperde was Durban July-wenners en wenners van sommer 'n klomp ander groot wedrenne.

Chestnut, Bridget se gunsteling-perd.
Heel gou was dit teetyd. Skielik het lede van die personeel in elegante wit-en-swart uniforms -- as ek reg onthou -- uit die niet verskyn. En vir die eerste keer in my lewe kon ek die lekker bederfie, terselfdertyd 'n vreemde ding, ervaar om tussen 'n wye verskeidenheid soorte tee te kies en te keur. Goeie genade, ek het doerietyd nie eens geweet daar bestaan soveel teesoorte nie! Het net twee geken -- rooibos en "gewoon," ook bekend as "normale" tee.

Een van die soorte op die lys was Ceylon-tee, en iewers in my verstarde geheue het ek onthou dat ek iets van Ceylon op die gewone/normale tee se verpakking gelees het, of miskien het ek dit in 'n radio-advertensie gehoor. In elk geval, my keuse beland toe op Ceylon. Ditsem! Innie kol!

Net toe ek my begin verbeel dat ek slegs daar was om te kuier, het mevrou Albrecht my terug aarde toe gebring toe sy my vriendelik, dog ferm, aan "ons onderhoud" oor die fondsinsamelingsprojek herinner het. Tydens die onderhoud het sy kort-kort na die Portobelloweg-mark in Londen verwys, en hoewel ek teen dié tyd nie meer seker is nie, dink ek die fondsinsameling sou soortgelyk aan hierdie bekende straatmark wees.

Portobelloweg-mark in Londen.
Die ding was: toendertyd was my kennis van die mark beperk tot dinge wat ek iewers gehoor of gelees het -- storieboeke (meestal rillers en grillers) of tydskrif- en koerantartikels. Maar die manier waarop sy met my gesels het, asof ek self ook al (vanselfsprekend) hierdie mark in lewende lywe ervaar het, het my laat besef: Kinta, dis nie nou die tyd of die plek om jou onkunde uit te basuin nie.

En daar word ek, wat in daardie stadium nog nie eens 'n paspoort besit het nie, sommer oppie daad 'n kenner van die Portobello-mark. Danksy leunstoelreise. Hulle sê mos: "Fake it till you make it."

Voor ons vertrek het ek en die fotograaf (kan nie onthou wie hy was nie) toestemming gekry om die tuine te besigtig, waar nóg 'n (allemintige) kans van 'n leeftyd op ons gewag het -- toe Harry Oppenheimer met die motorpad aangery kom op pad na sy woning! Einste hy. Ek kon my oë nie glo nie! En in die verbyry het hy nogal ewe vriendelik vir ons gewaai.

Harry Oppenheimer
Tot vandag toe is ek nie seker of ek reg gesien het nie, maar ek kan amper my kop op 'n blok sit dat hy in 'n gewone-mens-motor gery het, en nie 'n Rolls Royce of so iets nie.

Bridget Oppenheimer is in 2013 op 92-jarige ouderdom oorlede. Harry Oppenheimer reeds in 2000. Hy was 91. Ek was hartseer toe ek van haar dood gelees het, want deur die jare heen het ek dikwels onthou hoe gaaf sy was die enkele keer dat ons ontmoet het.

Ek wil byvoeg: ek moes by Google aanklop om my geheue te verfris. Maar met die hutspot van skrywers op die internet, stem jaartalle en ander gegewens nie altyd ooreen nie. Dus het ek sommige feite by benadering, eerder as presies, weergegee. Of gegewens gebruik wat die meese ooreengestem het.