Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

Dit was vir my werklik nie ‘n maklike taak om ‘n bode vir my filmrolletjie te teiken nie. Weens sanksies was daar min vlugte na Jonannesburg en 'n mens wou vanweë die spertyd nie graag ‘n vlug mis nie.

Om stelling in te neem naby die ingang na die vertreksaal en ‘n passasier uit te soek vir die taak wat voorlê, het nogal moed geverg. Jy soek iemand wat vriendelik lyk en wat oogkontak maak en dan nader jy hom maar versigtig sodat hy nie die hasepad kies nie.

Ek kan egter nie glo dat ek so vermetel was om ‘n wildvreemde passasier op te kommandeer met die versoek om my films te vervoer nie. Ná alles was Rhodesië ‘n oorloggeteisterde land, sekuriteit was aan die orde van die dag en enige agterdogtige situasies het gou die oog gevang.

Ek kan nog minder glo dat die passasier so goedgelowig was om aan my versoek te voldoen, met ‘n verdere opdrag van my, nogal: probeer asseblief om nie die film by die doeane deur die xtraalmasjien te stuur nie en oorhandig dit liewer vooraf aan die sekuriteitsbeampte, voor die skandering plaasvind. Net ingeval die film bederf word. Verbeel jou!

Om dit vir die ‘bode’ so maklik as moontlik te maak, het ek maar altyd sy naam geneem, gesê daar sal iemand by die aankomstesaal vir hom met ‘n naambord wag en dat hy net die filmrolletjie in die lug moet hou. Dit was die minste beslommernis.

Daarna was dit ‘n kwessie van mog het troffe.

Een so ‘n suksesvolle bodediens met ‘n filmrolletjie, was tydens die onafhanklikheid van Rhodesië in April 1980 toe kroonprins Charles van Brittanje een van die hooggeplaasdes was wat na die feesvierings genooi is.

Prins Charles staan op aandag terwyl die Britse volkslied deur die BSAP-orkes gespeel word.

Akkreditasie vir joernaliste om op die laaiblad van die lughawe stelling in te neem in afwagting van die prins se straler, was beperk vanweë die sekuriteit.

Die department van die minister van Inligting en Toerisme in mnr Robert Mugabe se nuwe kabinet, dr Nathan Shamuyarira was verantwoordelik vir die akkreditasie van joernaliste.

Perskor was een van die gelukkiges wat keuring gekry het.

Die prins saam met waarnemende goewerneur Lord
Soames en lede van die BSAP-orkes in die agtergrond.
Prins Charles is stiptelik om 11:23 op die Salisbury-lughawe verwag en dit was met Britse presiese wat sy VC10-straler van die Koninklike Lugmag daardie tyd geland het om op 11:30 tot stilstand te kom.

Ons kameras het begin kliek, die deur van die vliegtuig het oopgeswaai en ‘n glimlaggende en wuiwende Prins Charles het in ‘n kraakwit uniform van die Britse vloot verskyn. Hy is verwelkom deur die waarnemende goewerneur Lord Soames wat deur Brittanje by die Lancasterhuis-beraad oor die onafhanklikheid van Rhodesië aangestel was om die prosedures deur te sien.

Ook teenwoordig was die aangewese president, eerwaarde Canaan Banana en die eerste minister mnr Robert Mugabe.

Robert Mugabe
Canaan Banana
Die prins het op aandag gestaan vir die Britse volkslied wat deur die BSAP-orkes gespeel is, vier stralers van die Rhodesiese lugmag het in formasie verby gevlieg. ‘n Saluut van 21 skote is afgevuur.

Sy koninklike hoogheid het nader gestap om die erewag van die Rhodesiese lugmag te inspekteer, terwyl die orkes die lied God bless the Prince of Wales gespeel het.

Prins Charles het in ons rigting beweeg en ek het die knoppie van my kamera met sy motor drive begin druk wat soos ‘n sarsie geweerskote geklink het.

Alles het baie vinnig gebeur en in ‘n oogwink het prins Charles by ons verby beweeg en was alles verby. Ek was vol hoop dat ek ‘n goeie nuusfoto vir Die Transvaler gekry het.

Die luukse ampsmotor van lord Soames 
wat hom en prins Charles na sy 
bestemming vervoer het, met die 
vlaggie van die Union Jack en die 
Britse kroon as motorregistrasie.
Vergesél van Lord Soames het hulle in ‘n luukse swart motor met die Britse kroon daarop verdwyn oppad na die goewermentswoning waar prins Charles vir die duur van die onafhanklikheid sou tuisgaan.

Ek het my na die lughawe gehaas vir die eerste vlug na Johannesburg en ‘n passasier gevind om bode te speel vir my allerbelangrike filmrolletjie van Prins Charles.

So stuur ek prins Charles met sy private straler per bode vanaf Salisbury na Perskor in Doornfontein!

En só verskyn my foto ‘n dag later in Die Transvaler van 17 April 1980 – ‘n dag voor die ou Rhodesië amptelik om middernag na Zimbabwe herdoop is.